Onderwys: 12 nuwe skole nodig in Khomas
Onderwys: 12 nuwe skole nodig in Khomas

Onderwys: 12 nuwe skole nodig in Khomas

Die konstruksie van klaskamers by vyf primêre skole in die Khomasstreek is nodig om die dubbelskofte uit te wis.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Dit kos die ministerie van onderwys, kuns en kultuur vanjaar meer as N$2,1 miljoen om die graad 8- tot 10-leerlinge in die Khomasstreek, wat verlede jaar nie die paal gehaal het nie, weer vanjaar in die stelsel te akkommodeer.

Vir die 1 744 graad 8-leerlinge beloop die koste N$872 000 teen N$500 per leerling (senior onderrigtoelaag), vir die 1 292 graad 9-leerlinge N$646 000 en vir die 1 255 graad 10-leerlinge N$627 500. Die meer as N$2 miljoen sluit skryfbehoeftes, handboeke en skoonmaakmiddels uit.

Volgens die direkteur van onderwys in die streek, mnr. Gerard Vries, het die streek verlede jaar 91 841 leerlinge en 3 953 onderwysers in 129 skole (84 staat, 45 privaat) gehad.

Vries het gesê die ministerie het grond in veral digbevolkte kiesafdelings nodig om nuwe skole te bou, met dringende gesprekke wat met die Windhoekse munisipaliteit en die Khomasstreekraad oor die beskikbaarheid van grond nodig is.

Volgens Vries moet agt sekondêre en vier primêre skole in die streek gebou word, terwyl daar ’n dringende behoefte vir die opknap van koshuise is.

Die konstruksie van klaskamers is nodig om die dubbelskofte by vyf primêre skole uit te wis. Daar moet ook by bestaande skole preprimêre klasse gevestig word.

Hy het die gebrek aan ’n nasionale eksamenperseel, moedertaal wat by die meeste skole nie onderrig word nie, geen gekwalifiseerde onderwysers vir Afrikaans, Khoekhoegowab en Duits Vreemde Taal, asook beperkte betrokkenheid van ouers as struikelblokke uitgesonder.

’n Toename in dissiplinêre probleme, afwesige onderwysers en die aanvraag teenoor die voorsiening met betrekking tot die plasing van leerlinge is volgens hom ook ’n stok in die wiel van onderrig.

Vries het verwys na ingrypings soos streekeksamens, ekstra klasse oor naweke en in vakansies, vergaderings met skole wat onder die 50%-merk presteer, die aanstelling van senior onderrigbeamptes vir inspeksies sowel as die korrekte plasing van onderwysers in hul onderskeie velde van kennis en ervaring, wat gemik is om prestasie te verbeter.

Vries was saam met die ministerie se uitvoerende direkteur, me. Sanet Steenkamp, aan die woord tydens ’n ontmoeting gister met onder meer skoolhoofde in die streek. Met verwysing na die hersiene leerplan het Steenkamp gesê sy bespeur ’n weerstand onder sekere onderwysers en ’n “rebellie” teen die implementering daarvan.

“Onderwysers moet ’n baie groter positiewe ingesteldheid na die tafel kom,” het sy gemaan.

Sy sê verandering kan eerder as ’n geleentheid gesien word om die status quo te verbeter.

“As ons verandering wil sien, moet ons veranderinge maak.”

Sy het verwys na die onderwysministerie se begroting van N$13,8 miljard waarvan N$11,5 miljard net vir salarisse is.

Volgens Steenkamp het die ministerie vanjaar 399 onderwysers landswyd aangestel wat die regering N$134 miljoen gaan kos. Net die aankoop van handboeke vir vanjaar vir graad 10’s het N$3,6 miljoen beloop.

Sy het harde woorde gehad vir onderwysers wat “sonder integriteit” werk en verwys na die wat weens vals doktersbriewe afwesig is.

“Dit is tyd dat ons mekaar se professie begin respekteer. Dit hang van ons af om die trots in ons gemeenskap en ouers weer te herstel.”

Steenkamp het ouers ook voor stok gekry en gesê dit is tyd dat hulle onderrig ’n prioriteit maak.

“Daar is ouers wat nie eers hul geldelike verpligting en beloftes nakom nie. Hulle is nie deel van fondsinsamelings of langs ’n sportveld nie. Bring asseblief jou deel as jy beloof het om dit te doen. Daar is die wat dit kan bekostig en weier om te betaal en dan is daar die minderbevoorregtes wat nie in kontant nie, maar op ander maniere steeds hul deel doen.”

Sy het ook gesê verkwisting van skoolfondse sal nie langer geduld word nie en het verwys na N$68 miljoen wat die ministerie reeds vir water en elektrisiteit moes betaal, met nog rekeninge wat uitstaande is.

“Die ministerie kan dit nie volhou nie. As ek uit ’n vertrek stap, sit ek die lig af!”

Sy het ’n beroep op onderwysers gedoen om betyds te wees en elke minuut van ’n periode doeltreffend te gebruik, werklik teenwoordig in klasse te wees en om vir lesse voor te berei. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!