Onderwys - Covid-19 en Proklamasie 48
Onderwys - Covid-19 en Proklamasie 48

Onderwys - Covid-19 en Proklamasie 48

Dani Booysen
Godfrey Kleinhans - 'n Gebrek in die opdrag oor die heropening van die skole in Namibië het die spreekwoordelike kat in die duiwehok losgelaat.

Ná die uitvaardiging van Proklamasie 48 het die minister van onderwys, kuns en kultuur aangekondig skole sal opnuut in fases heropen; duidelik nie ooreenkomstig die president en kabinet se besluit nie.

Nantu (onderwysunie) en Nanso (studentevereniging) het die besluit betreur. Hulle is van mening alle skole is nie in staat om leerlinge teen die Covid-19-virus te beskerm nie.

Privaatskole het met regsargumente aangevoer hulle sou wel op 7 September klasse vir alle grade hervat. Hul standpunt het op twee bene gerus.

Eerstens was hulle van mening die minister se opdrag is ondergeskik aan die proklamasie wat deur die president uitgereik is. Die bevel van die minister het dus volgens hulle geen regsgeldigheid gehad nie. Tweedens is aangevoer Proklamasie 48 verbied privaatskole nie om 'n ander roete as staatskole te volg nie.

Die regering moes besef het Proklamasie 48 is gebrekkig. Daarom is Proklamasie 49 uitgevaardig.

Enkele aspekte van hierdie verwikkelinge het my opgeval.

Die sosioëkomomiese ongelykhede wat al vir baie jare in ons land bestaan en voortduur, is nie deur Covid-19 geskep nie. Die ongelykhede maak dit baie moeilik om die verspreiding van die virus effektief te bekamp.

Ek vereenselwig my heelhartig met Nantu en Nanso se besware.

Ek vind die minister se konsultasie (of dan die verwysings daarna) met Nantu 'n bietjie eensydig en eksklusief. Nantu is 'n vakbond en sal as sulks altyd eerste op lede se belange fokus.

Aangesien die gesprekke nie oor diensvoorwaardes gegaan het nie, sou dit wys gewees het om TUN en Napso ook deel daarvan te maak. Verder kon die minister ook verteenwoordigers van die brëe onderwysgemeenskappe by gesprekke ingesluit het.

Uitlatings oor Nantu moet in perspektief gestel word.

Al die onderwyserunies in Namibië geniet regeringserkenning, maar Nantu is die erkende vakbond (bargaining unit) met wie die regering oor diensvoorwaardes onderhandel. Die feit dat onderwysers van privaatskole nie lede van Nantu is nie, beteken nie die vakbond kan nie namens hulle praat nie, of dat hul standpunt geen gewig dra nie.

Nantu is lank voor die onafhanklikheid van die land beskou as 'n belangrike bondgenoot van die regerende party en is dit nog steeds. Die vakbond se stem is belangrik en niks verhoed privaatskole se personeel om by Nantu aan te sluit nie.

Covid-19 het ons nog 'n belangrike les geleer.

Onderwys behoort aan nie een van die rolspelers hierbo genoem nie en is niemand se “plaas” nie. Dit is tyd dat alle verteenwoordigers om een tafel bymekaarkom en saam verteenwoordigende oplossings soek.

Oplossings moet vir alle leerlinge werk. Nie net vir die uit vermoënde gemeenskappe nie, maar ook skoliere in informele woongebiede en landelike skole.

Oplossings moet die Namibiese kind dien.

Myns insiens is daar geen beter instansies nie as streke se onderwysforums om so 'n indaba te organiseer nie. Eksklusiwiteit is nie 'n oplossing nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer