Onderwys – Desentralisering moet tot sy reg kom
Ons leef in 'n wêreld waarin owerhede al hoe meer magte en bevoegdhede afwentel na streek- en plaaslike vlakke en dit is belangrik dat ons op hoogte van die prosesse bly.
Die studie, “Decentralization and Education: Why, when, what and how”, deur Thomas Welsh en Noel McGinn (1999) is aan te beveel vir enige persoon wat meer oor die onderwerp wil weet.
Die voorstanders van desentralisasie is oortuig dit kan help met die prioritisering van streekontwikkeling.
Dit moedig betrokkenheid en deelname aan, en bevorder kwaliteitbestuur (veral verbeterde bestuur van staatsbronne) en dienslewering. In hul werk gee die outeurs ruim aandag aan belanghebbendes in onderwys.
Tot watter mate het die “beloftes” van desentralisering in Namibië se onderwysstelsel gerealiseer?
Hertha Pomuti en Everard Weber probeer in hul 2012-ondersoek, “Decentralization and School Management in Namibia: The ideologies of Education Bureaucrats in Implementing Government Policies”, antwoorde op die vraag verskaf.
Hulle voer aan desentralisering het onderwysvoorsiening meer sensitief vir streek- en plaaslike behoeftes gemaak en gehelp met die professionele groei van skoolhoofde en onderwysers deur hulle meer selfstandig in die uitvoering van hul pligte te maak. Pomuti en Weber bestee baie ruimte aan die skoolgroepstelsel (clusters) en beskou dit as 'n belangrike werktuig om die doelwitte van desentralisering te behaal.
Die stelsel skep ruimte vir die indiensopleiding van skoolbestuurders en onderwysers. Die ministerie (sentraal en in die streke) is veronderstel om die nodige ondersteuning hiervoor te verleen.
Pomuti en Weber kom egter tot die teleurstellende gevolgtrekking dat die groeperingstelsel nie aan verwagtinge voldoen nie. Outokratiese en burokratiese bestuurstyle in onderwys herinner sterk aan die apartheidsregime.
Windhoek en die streekdirektorate is steeds die belangrikste besluitnemingsagente en implementering geskied sonder enige kritiese bevraagtekening deur skole en ander belanghebbendes. Hervorming is in teorie van stapel gestuur, maar daar is weinig sprake van meganismes hoe om die einddoelwitte van desentralisering te bereik. As Pomuti en Weber se slotsom juis is, sit ons met 'n reuseprobleem.
Welsh en McGinn lys die instansies wat op streek- en plaaslike vlakke 'n belang by onderwys het. Dit sluit in ouers, naskoolse opleidinginstellings, belastingbetalerverenigings, vakbonde, streek- en plaaslike owerhede en vele ander. Al hierdie instansies moet hul motiewe ondergeskik aan die realisering van kwaliteitonderwys stel.
Wie die belanghebbendes in onderwys in Namibië is, is nie altyd vir my duidelik nie. Die onderwyswet is taamlik duidelik oor die samestelling en verantwoordelikhede van skoolrade en die wet maak voorsiening vir onderwysforums in die streke, maar of hulle wel gestig word en iets beteken, is 'n ope vraag.
Onderwysvakbonde lewer insette, maar ons weet hulle fokus in die eerste plek op die belange van hul lede.
Dit is teleurstellend dat onderwysbeleid aanvaar en toegepas word sonder 'n boe of ba van die kollektief van al hierdie instansies, naamlik die brëer onderwysgemeenskap. Baie skole is nie op standaard nie – sonder enige energieke reaksie deur hierdie kollektief.
Myns insiens word jarelange kundigheid en ervaring van onderwysers en administrateurs nie na waarde geskat nie. Dit is tyd om 'n organisasie te oorweeg vir afgetrede onderwysers, skoolhoofde, inspekteurs, vakadviseurs en direkteure, as 'n onafhanklike liggaam wat onderwysvraagstukke vreesloos sal aanspreek.
Ons sukkelende onderwyswa moet met kundigheid en insig deur die driwwe getrek word.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie