Onderwys - Die mite van verniet
Sedert die industriële revolusie in Engeland het onderwys toenemend 'n gemeenskapsaktiwiteit geword.
Die tradisionele manier waarop kennis en vaardighede in huishoudings, werkswinkels en op plase oorgedra is, het al hoe meer na moderne skole in stedelike gebiede begin verskuif. Onderwysers is opgelei, administratiewe strukture gevestig en allerlei nuwighede het die lig gesien om onderwys te operasionaliseer.
Die rekening hiervoor is natuurlik gerig aan die belastingbetaler.
Ongelukkig was onderwys elitisties en beperk tot kinders uit die hoë sosioëkonomiese samelewingsvlakke. Kinders van militêre leiers is na spoggimnasiums gestuur sodat hulle eendag hul vaders kon opvolg. Swart mense in die VSA en in dele van Afrika het dit nog moeiliker gehad as behoeftige groepe in ander wêrelddele.
Een van die gevolge van internasionale samewerking is dat ons wêreld kleiner word. Moderne kommunikasietegnologie laat die kilometers krimp en wêreldleiers soek toenemend maniere om 'n beter wêreld vir almal te skep.
'n Hele reeks internasionale konferensies en konvensies van die 20ste eeu het juis ten doel gehad om onderwys te verbeter. In 1948 het ondertekenaars van artikel 20 van die Universele Verklaring van Menseregte besluit basiese onderwys moet gratis wees. By die wêreldkonferensie oor onderwys wat in 1990 in Jomtien plaasgevind het, is ooreengekom primêre onderwys sal die hoofmetode vir basiese onderwys wees.
Die konferensies en konvensies het die weg gebaan vir universele primêre onderwys (UPE), onderwys vir almal (EFA) en die verwydering van diskriminasie uit onderwysstelsels.
Hierdie tendense het neerslag gevind in die Namibiese Grondwet asook in ander wetgewing en beleid. Belangrike stappe in Namibië sluit in die implementering van gratis onderwys, die afskaffing van graad 10- en graad 12-eksamengelde en die verbod in 2016 op verpligte skoolfonds. Koshuisgelde word nie deur die besluit geraak nie.
Die verwagting van die ministerie was dat ouers bevry sou word van 'n swaar finansiële las, dat die uitvalkoers (kinders wat die skool voortydig verlaat) sou verlaag en dat leerlinge vinniger deur die stelsel sou beweeg. Die finansiële las is definitief nie ligter nie en ons sal moet wag en kyk of - en wanneer - ander voordele inskop.
Kitsnavorsing by enkele skole het die volgende aan die lig gebring.
Skryfbehoeftes vir kinders in graad 9 by 'n junior sekondêre skool in die //Kharasstreek kos om en by N$547,91. Vir kinders in die senior primêre fase van een laerskool beloop die koste sowat N$543. Hierdie kostes sluit toiletpapier en fotostaatpapier in en sommige ouers met kinders in pre-primêre klasse moet ook drie koekies seep vir die skool koop.
Ouers moet ook skooldrag aanskaf. Ouers wat dit kan bekostig, koop twee stelle skoolklere sodat kinders elke dag netjies by die skool kan opdaag.
Vervoer vanaf sekere woonbuurte na die skool kos N$36 per dag.
Vereistes in graad 9 by 'n sekondêre skool in Windhoek is baie meer. Hier moet ouers jaarliks N$8 500 tot die skool se finansies bydra en handboeke koop waaroor die skool nie beskik nie. Dit is geen geheim nie dat handboeke by die meeste skole onvoldoende is.
Al hierdie bydraes word as vrywillig geag; met ander woorde as skenkings.
Die ministerie dra alle ander kostes (sport, kultuur, ens. uitgesluit), maar onderwys is geensins gratis soos die regering onderneem het nie.
Mens kan die ministerie egter nie kwalik neem nie. Die land is onder geweldige ekonomiese druk.
Ouers kan ook nie anders nie; hulle moet eenvoudig die beursies oopmaak. Wat frusterend is, is dat die las wat op ouers geplaas word weens die staat se onvermoë om sy belofte na te kom, nie onderskei tussen behoeftige en vermoënde ouers nie. Wat geld vir die kind van 'n onderwyser, geld vir die kind van 'n huishulp.
Miskien moet die ministerie sy besluit heroorweeg. Daar is modelle waar die ouer se bydrae deur ekonomiese realiteite bepaal word.
Gratis onderwys word (of was) slegs tot die beskikking van armes gestel in Thailand terwyl die staat se bydrae in Suid-Afrika bepaal word deur die sosioëkonomiese werklikhede in die gebied waarin die skool geleë is.
(Die verkeerde inhoud het gister per abuis in die rubriek verskyn. Ons vra verskoning vir die oorsig.)

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie