Onderwys - Die prys van goeie onderrig
Onderwys - Die prys van goeie onderrig

Onderwys - Die prys van goeie onderrig

Dani Booysen
Wanneer mense probeer om die koste van onderwys te verduidelik, doen hulle dit normaalweg binne die konteks van die onderwysbegroting wat jaarliks voor die parlement dien.

Politci en die hogere amptenare sal jou vinnig kan vertel van die groot las wat op die belastingbetaler geplaas word om onderwys te befonds. Hulle is ook terdeë bewus van die geweldige tekortkominge in die begroting.

Die ekonomieë van die ontwikkelende lande in Afrika verkeer tans in 'n uiters netelige situasie en onderwys net soos die ander sektore, kry maar swaar. Wanneer hierdie tendens onbepaald en onbeteueld voortduur, is die gevaar altyd dat die kwaliteit van onderwys agteruit kan boer. Ingrypings wat bekostigbaarheid gaan bevorder sonder om kwaliteit in te boet, is dan dringend nodig.

'n Groot probleem wat altyd kop uitsteek, is die spanning tussen dit wat gedoen moet word (die bereiking van die doelwitte) en die beskikbare fondse.

Die gebrek aan voldoende geld het altyd tot gevolg dat die pogings halfhartig en nie goed deurdink word nie, met die gevolg dat die probleem nooit regtig aangespreek word nie. 'n Ander gevaar is oorhaastige besluitneming wat in die meeste gevalle polities gemotiveerd is.

Na my wete is studies oor die impak van strukturele en ander veranderinge­ aan en in die Namibiese onderwysstelsel maar yl gesaai. Kundiges maan beleidmakers om versigtig met strukturele veranderings in onderwysstelsels om te gaan, veral omdat veranderinge nie noodwendig die verlangde impak tot gevolg mag hê nie.

Die volgende is van die onbedoelde en/of toevallige gevolge wat aangeteken is:

• Afname in toegang tot onderwys

• Toename in ongelykhede

• Kwantitatiewe afname in beskikbaarstelling van leermateriaal of 'n afname in die kwaliteit daarvan

• Afname in die kwaliteit en werk­etiek van onderwysers.

Die koste van onderwys strek verder as die somme wat in die begroting gemaak word. Dit is nie net 'n klomp syfers uitgedruk in dollars en sente wat netjies in verskillende afdelings gerangskik is nie. Die totale koste sluit ook die verskuilde kostes in, soos:

• Impak op laeinkomste huishoudings

• Impak van buitengewone onderwysbegrotings

• Impak van besnoeiings

• Koste van veranderings wat nie in die begroting genoem word nie.

'n Baie interessante onlangse voorbeeld wat opval, is die afskaffing van die skoolontwikkelingsfondse.

Die fondse het geld voorsien vir behoeftes waarin die staat nie voorsien het nie, byvoorbeeld bykomende onderrig- en leermateriaal, die aanstelling en betaling van aflospersoneel, sportbenodigdhede, die vervoer van leerlinge en onderhoud van busse.

In 2012 het wyle dr. Abraham Iyambo skoolfonds by laerskole afgeskaf in navolging van die grondwetlike bepaling oor gratis en verpligte primêre onderwys. Die doel was duidelik nie net om die befondsing van primêre onderwys in lyn met die Grondwet te bring nie, maar ook om toegang tot onderwys te bevorder en oorblywende ongelykhede aan te spreek.

Sy opvolger, me. Katrina Hanse-Himarwa, het die verbod gedurende haar termyn vanaf 2016 na die sekondêre skoolfase uitgebrei. Die motiewe vir haar besluit het gestrook met dié van Iyambo, ten spyte daarvan dat die Grondwet net na primêre onderwys verwys.

Dit wil nou voorkom asof die verlangde doelwitte nie regtig gerealiseer het nie. Heelwat skole, veral dié in stedelike gebiede, verhaal steeds geld van ouers, maar doen dit onder ander fondsname.

Ander skole verwag van ouers om toilet- en fotostaatpapier aan skole te skenk en hul kinders van sekere skryfbehoftes te voorsien. Verder gaan die meer gegoede skole voort met sportprogramme waarvoor ­ouers hande diep in die sak moet steek.

Het die afskaffing van skoolfonds ongelykhede laat toeneem en die gaping tussen die gegoede en minder gegoede skole vergroot?

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer