Onderwys: Eers geld, dan skole se behoeftes
Onderwys: Eers geld, dan skole se behoeftes

Onderwys: Eers geld, dan skole se behoeftes

Die meeste skole het hul ­bestellings vir benodigdhede laat ingedien.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Die aankoop van skoolbenodigdhede hang meer van beskikbare geld af as van die betrokke skool se behoeftes.

Dié inligting is in die jongste oudit­verslag van die ministerie van basiese onderwys, kuns en kultuur vervat en fokus op die aankoop van skoolbenodigdhede vir die boekjare van 2014 tot 2017.

Die meerderheid skole het volgens die verslag hul bestellings laat ingedien, met geen boetes of strawwe hiervoor nie.

Ook is 'n rooster nie geïmplementeer en afgedwing om die bestelling van benodigdhede glad te laat verloop nie.

Jaarlikse omsendbriewe lig slegs die sperdatums vir die bestel van hand­boeke uit.

Dié omsendbriewe word ook nie, soos voorgestel, jaarliks in April reeds uitgestuur nie.

Omsendbriewe vir handboeke, katalogusse van die Nasionale Instituut vir Opvoedkundige Ontwikkeling (Nied) en begrotingstoekennings vir benodigdhede is eers tussen Junie en September uitgestuur.

Nied se katalogusse is boonop eers tussen Julie en Oktober gepubliseer.

Geen amptelike rekord van die datums van uitreiking en ontvangs van Nied-katalogusse was by streekkantore wat besoek is, beskikbaar nie.

Die verslag verwys na skole in die ­Kavango-Oosstreek wat skoonmaakmiddels en skryfbehoeftes direk van verskaffers in plaas van regeringstore bestel het, omdat streekkantore nie ­rekeninge by dié store betaal het nie.

Skole se behoeftes is volgens die verslag nooit ontleed nie.

Hoewel die ministerie 'n boeteklousule het wat verskaffers moet betaal wat nie by afleweringsdatums hou nie, is dit nog nooit toegepas nie.

Oorweging is wel aan alternatiewe vervoer geskenk om benodigdhede betyds by skole te kry.

Streekkantore is bemagtig om private verspreiders uit hul onderskeie streke te kry.

Slegs die Kavango-Oosstreek het van 'n private verspreider gebruik gemaak.

Die Khomas-, Erongo- en Hardap­streek moes weens begrotings­beperkings noodgedwonge van hul onder­skeie streekkantore gebruik maak.

Die ministerie se liasseerstelsel word as 'n “uitdaging” uitgesonder omdat die meerderheid streke nie die ­vereiste ­dokumente kon verskaf wat vir ­ouditprosedures nodig is nie.

Vir die 2016/17-boekjaar is 36,4% van die skole deel van die ouditverslag se bestellings vir skoonmaakmiddels en skryfbehoeftes ná die sperdatum in­gedien.

In dieselfde finansiële jaar was 26,7% van skole se bestellings vir handboeke nie betyds ingedien nie.

“'n Gebrek aan toepassingsmeganismes kan daartoe lei dat tydlyne vir die aankoop van skoolmateriaal nie nagekom word nie, wat daartoe lei dat skole materiaal nie voor die aanvang van die nuwe skooljaar ontvang nie,” lui die verslag.

Skole kan die bestelproses wel verkort deur 'n ontleding van hul beskikbare voorraad te doen vóór omsendbriewe oor die beskikbaarheid van geld uit­gestuur word.

Die herstel van skoolmeubels is op skoolvlak gedoen, en al die skole in drie van die vier streke wat tydens die oorsig in die Khomas-, Erongo-, en ­Kavango-Oosstreek besoek is, het van hul ­stukkende meubels met die hulp van plaaslike diensverskaffers herstel.

Die meerderheid, wat 18 uit 30 skole behels, het geen hulp vir die herstel van gebreekte meubels ontvang nie.

Die verslag sê stukkende meubels moet eerder herstel word as om nuwes te koop, maar dan moet skole van die nodige materiaal voorsien word om dié opdrag uit te voer.

Herstelwerk kan gedoen word deur beroepsgerigte skole en leerlinge wat houtwerk as vak neem.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!