Onderwys - Gelykheid en billikheid
Godfrey Kleinhans - Een van die ontwikkelingsdoelwitte van die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) is om die spel sover moontlik aan verafgeleë en agtergeblewe gemeenskappe bekend te stel.
Kyk 'n mens egter na spelers van “kleur” wat die Curriebeker, Superrugby- en nasionale spanne haal, is die oes maar skraal. Die meeste spelers was leerlinge aan die beste skole (ou "Model C"-skole) en ander se talente is op universiteite raakgesien.
Hierdie leerlinge is of geborg of hul ouers of familie kon dit bekostig. Hulle is sodoende aan die beste onderrigmetodes en afrigtingstegnieke blootgestel.
Die springbokvleuel Makazola Mapimpi wie se spel nou so opslae maak, is een van die spelers vir wie hierdie voorkeurbehandeling nie beskore was nie. Mapimpi is van Mdantsane, 'n dorpie buite Oos-London, waar hy die plaaslike hoërskool bygewoon het. Ek twyfel of sy skool by die ontwikkelingsprogram gebaat het. Wat hy nou op die veld doen, is te danke aan rou talent.
Ek vermoed Saru fokus op gelykheid ("equality") eerder as op billikheid ("equity") en dat dit die rede vir die skrale oes is.
Ons leef in 'n wêreld met skreeuende ongelykhede. Hierdie ongelykhede is verder geaksentueer in post-koloniale Afrika. Besorgdheid hieroor het gesorg vir heelwat studies oor billikheid en gelykheid.
Namibië is een van die lande wat billikheid eerder as gelykheid as doelwit aanvaar het. Hierdeur het die regering eksplisiet aanvaar kinders kom met ongelykhede die stelsel binne. Die ongelykhede vertoon 'n noue verbintenis met hul sosioëkonomiese status, ras, geslag en moontlike gestremdhede. Hul historiese agtergrond, woonplek en huishoudelike omstandighede is ook tersake faktore.
Onderwys moet kinders vir die toekoms voorberei. Die skool is in 'n sekere opsig die bepaler van die toekoms.
Gelykheid ignoreer individuele verskille en wil alle leerlinge op 'n gelyke grondslag behandel. Die vertrekpunt is dat alle leerlinge gelyk is.
Persoonlike omstandighede word geïgnoreer en gevolglik word ongelykhede in die gemeenskap nie suksesvol aangespreek nie.
Dit lyk nie of onderwysowerhede slaag met billikheid nie.
Die ongelykhede in Namibiese skole duur onverpoos voort.
Kinders wie se ouers kan betaal, word tot peperduur privaat- en spog staatskole toegelaat. Baie kinders uit armer huishoudings is uitgelewer aan skole met gebrek aan onderrigruimtes (klaskamers, biblioteke, laboratoria en werkswinkels), te min of geen handboeke, onvoldoende of geen ablusie- en administratiewe geriewe en geen akkommodasie. Ouers moet uit hul karige inkomste skryfbehoeftes van verskaffers aankoop. Hierdie kinders is verdoem om die minste te wees.
Ek het voorheen melding gemaak van 'n staatskool waar ouers N$8 500 per jaar moet bydra en alle skryfbehoeftes self moet koop. Ouers moet ook sommige handboeke aanskaf.
'n Laerskool in Windhoek verwag 'n vrywillige bydrae van N$1 200 (vir sekuriteit, daaglikse uitgawes en assuransie) en 'n verdere N$1 200 “verpligte” bydrae vir toegang tot die rekenaarlokaal. Een hoërskool verwag 'n basiese fooi van N$4 300.00, 'n verdere N$1 200 vir onderhoud, sekuriteit en versekering, N$950 vir toegang tot die rekenaarlokaal en 'n verpligte N$800 vir sportdeelname. Net sekere handboeke is beskikbaar terwyl skryfbehoeftes vir die ouers se rekening is.
Wat leer ons hieruit? Die staat kom nie sy verantwoordelikhede na nie.
In plaas daarvan om ongelykhede te beveg en gelyke geleenthede deur middel van 'n beleid van billikheid te bevorder, word ongelykhede verder deur ministeriële beleid en onvermoë beklemtoon en versterk. Die kloof tussen leerlinge uit vermoënde en behoeftige huishoudings word bloot al hoe groter.
Die Natalse advokaat Barend van Niekerk het jare gelede gevra:”Wat is die verskil tussen die koningin van Engeland en 'n vrou in Soweto?” Wat is die verskil tussen leerlinge in Kavango wat verkies om elke dag 20 kilometer (heen en weer) skool toe te loop eerder as om in 'n betreurenswaardige koshuis te bly en die leerlinge van 'n spogskool in die hoofstad?
Dit in 'n land wat so 'n ophef van die demokrasie en billikheid maak . . .

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie