Onderwys: Grootste veranderinge in 25 jaar
Onderwys: Grootste veranderinge in 25 jaar

Onderwys: Grootste veranderinge in 25 jaar

Tienduisende graad 10-leerlinge sal nie weer deeltyds verder hoef te leer nie, maar is die reeds beleërde onderwysstelsel reg hiervoor?
Dani Booysen
Dani Booysen – In 2020 kan die huidige aantal graad 11-leerlinge op Namibië se skoolbanke byna verdubbel.

Met hoërskole wat weens die beleid van “gratis onderwys” en nuwe perke op selfgegenereerde finansiering weens die Wet op Basiese Onderwys reeds noustrop trek, asook beperkte staatsbronne, is daar gemengde gevoelens oor dié veranderinge.

Sedert 1994, toe graad 11-leerlinge met Cambridge se HIGSCE- en IGSCE-kursusse begin het, is dit volgens dr. Patrick Simalumba van die Nasionale Instituut vir Opvoedkundige Ontwikkeling (Nied) die grootste omwenteling in onderwys. Die leerplanhervorming het in 2012 begin ná die nasionale onderwyskonferensie in 2011.

Vanjaar het sowat 20 000 graad 10-leerlinge – met die land se lae slaagvereistes – opnuut nie gekwalifiseer om voltyds met graad 11 voort te gaan nie. Sulke leerlinge kan op grond van die uitslae van interne eksamens in 2020 na graad 11 bevorder word.

Beskikbare dokumente stel die slaagvereiste in graad 10 op ‘n gemiddeld van 40% of ‘n E-simbool vir vyf vakke, insluitend Engels – hoër as die huidige slaagvereistes. ’n Leerling kan volgens dié beleid een keer teruggehou word in graad 8 en 9, en nog ‘n keer in graad 10.

As groot getalle leerlinge in graad 10 teruggehou word, sal dit druk op getalle in daardie klasse plaas.

BOTTELNEK

Simalumba erken die uitdagings. “Dit is ‘n onvermydelike vallei van pyn waardeur ons moet stap en mekaar se hande moet vashou vir ‘n beter toekoms.”

Die oorgangsperiode sal volgens Simalumba tyd neem. ‘n Gebrek aan klasruimte, personeel en bronne is bekommernisse.

Meer as 100 junior sekondêre skole landswyd sal in 2020 ook graad 11’s moet inneem.

Per streek lyk die beskikbare syfers van hierdie “opgegradeerde” skole as volg: Erongo 5, Hardap 5, Kavango-Oos 4, Kavango-Wes 7, ||Kharas 4, Khomas 3, Kunene 7, Omaheke 2, Omusati 19, Oshana 15, Oshikoto 31, Otjozondjupa 6 en Zambezi 7.

Dit verg ekstra klaskamers, geriewe soos laboratoriums en bykomende onderwysers.

Bouwerk en inrigting het volgens ‘n skoolhoof, met wie die koerant gesels het, reeds by sekere skole plaasgevind, maar die presiese omvang is onbekend.

Waar skole naby aan mekaar geleë is, sal hulle volgens Simalumba saamspan om aan behoeftes te voldoen.

“Om gekwalifiseerde onderwysers (vir alle studievelde) te vind, is ‘n uitdaging,” erken Simalumba. Die uitdaging kan volgens hom jare voortduur.

Woensdag, tydens die aankondiging van uitslae, het me. Katrina Hanse-Himarwa, die minister van onderwys, kuns en kultuur, gesê almal moet die verandering as ‘n positiewe uitdaging omarm.

HOEKOM

Volgens Simalumba en me. Clementine Garises, die direkteur van eksamens en evaulering, is Namibië se huidige NSSCH- of hoërvlakkwalifikasie vir graad 12 nie meer deur direk aan Cambridge se kwalifikasiestelsel gekoppel nie. Dit skep probleme met toelating tot internasionale universiteite.

Volgens Garises beteken die verandering ook dat in plaas van ‘n graad 10-sertifikaat, skoolverlaters oor ‘n internasionaal erkende kwalifikasie sal beskik.

“Ons sillabusse moet altyd aan internasionale vernuwing voldoen,” sê Simalumba. “Ons is deel van die wêreldwye neutedorp. Alle rolspelers moet harder werk en almal moet hul pogings verdubbel.”

OPLEIDING

Volgens ‘n skoolhoof in Windhoek is al sy onderwysers reeds opgelei in die nuwe NSSCO-sillabusse. Opleiding in tegniese vakke vind in Januarie en Februarie plaas.

Simalumba sê 595 fasiliteerders is deur Nied opgelei om 4 232 onderwysers in die streke op te lei. Een onderwyser in elke vak by elke skool is volgens hom opgelei en hulle moet hul kennis met kollegas deel.

In Oktober en November het ‘n totaal van 80 skoolhoofde en inspekteurs opleiding ontvang. Hulle moet volgens Simalumba ander hoofde en inspekteurs in hul streke oplei.

Opvolgkursusse sal volgens Simalumba geskied op grond van die uitslae van ‘n behoeftestudie en daarna na aanleiding van die eerste uitslae in 2020.

Geld is beskikbaar om onderwysers op te lei wat in 2019 aangestel word.

Oor handboeke sê ‘n skoolhoof hy is verseker daar is genoeg voorraad. Bestelvorms is reeds ingedien.

Die ministerie het vroeër aangekondig sy handboekbegroting sal die komende jaar net in die behoeftes van die nuwe NSSCO-sillabus kan voorsien.

NUWE HOËR VLAK

Om ná graad 11 na die nuwe Namibiese Senior Sekondêre Sertifikaat op Gevorderde Aanvullende Vlak (Advanced Subsidiary of NSSCAS) te vorder, moet ‘n leerling C-simbole in minstens drie NSSCO-vakke verwerf.

Volgens ‘n steekproef deur Republikein op grond van beskikbare data beteken dít daar kan in 2021 sowat 12 000 graad 12’s wees. Vanjaar was daar byna 17 000 voltydse kandidate. Simalumba reken egter daar sal meer graad 12’s wees as die huidige NSSCH-groep.

Sekere skole in elke streek sal as NSSCAS-spilpunte dien. Die lys is deur die koerant aangevra, maar nog nie voorsien nie. In die Khomasstreek is minstens 10 skole op die lys.

Leerlinge sal drie tot vyf vakke in graad 12 kan neem. Volgens Simalumba is daar wêreldwyd volgens Cambridge net 0,00002% van leerlinge wat ses vakke op die gevorderde vlak volg.

‘n Skoolhoof reken daar sal genoeg tyd wees om ‘n NSSCAS-vak in een jaar te voltooi, aangesien die huidige NSSCH-sillabus oor twee jaar strek en ook NSSCO se werk insluit.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!