Onderwys: Hou vrot appels uit die mandjie
Godfrey Kleinhans – In die tagtigerjare het baie Suid-Afrikaanse onderwysers hul land verruil vir die ou Suidwes-Afrika op soek na ‘n beter toekoms.
Namibië se onderwysers het op daai stadium beter verdien as hul Suid-Afrikaanse eweknieë. Baie van hulle was voortreflike onderwysers en het goeie werk kom lewer, maar ‘n groep van hulle het hulle skuldig gemaak aan een of ander wandaad en moes die Suid-Afrikaanse waters verlaat.
Ontoelaatbare verhoudings (met skoolkinders of buite die huwelik) en die verwekking van kinders buite die eg was van die groot sondes.
Die owerheid vir kleurlinge, wat destyds ‘n tekort aan opgeleide onderwysers gehad het, het aanstellings gedoen sonder om indringende navrae by die Suid-Afrikaanse owerhede te doen. Baie van hierdie groep was werklik nie ‘n aanwins vir die professie nie.
Ek moes as skoolhoof een maandeinde so ‘n onderwyser se salaristjek by sy losiesplek in sy hand stop en hom versoek om sy voete nie weer op die skoolperseel te sit nie.
Ná 1994 het dieselfde tendens in Suid-Afrika posgevat. Onderwysers wat op grond van ‘n skuldigbevinding in een provinsie geskors is, het eenvoudig ‘n betrekking in ‘n ander aanvaar. ‘n Leemte in regulasies het toegelaat dat so ‘n onderwyser onmiddellik na sy skorsing aansoek om ‘n betrekking in ‘n ander provinsie kan doen. Daar was ook weinig ooreenstemming tussen regulasies in verskillende provinsies.
Een provinsie sou byvoorbeeld ‘n onderwyser vir jare uit ‘n betrekking hou vir ‘n nietige oortreding terwyl ernstige oortreders dadelik poste elders gekry het. Natuurlik was korrupsie nie uitgesluit nie. Só is die vrot appels onbedoeld regoor Suid-Afrika versprei.
Op 4 April 2021 het me. Angie Mosheka, minister van basiese onderwys, nuwe regulasies voorgestel om die tendens hok te slaan. Onderwysers wat hulle voortaan skuldig maak aan een of ander wandaad en geskors word, sal nie meer hul dienste aan ‘n ander provinsie kan bied nie. Wat verder ook voortreflik is van die nuwe regulasies is dat dit onderskei tussen ernstige en minder ernstige oortredings.
Ernstige vergrype behels onder andere seksuele verhoudings met skoolkinders, ongeoorloofde verhoudings met kollegas, verkragting en seksuele teistering van leerlinge en kollegas en die bring van vuurwapens en dwelms op die skoolperseel.
Sulke oortredings kan ‘n onderwyser vir altyd of ten minste vir ‘n onbepaalde periode uit die beroep hou. Minder ernstige oortredings kan ‘n onderwyser enigiets tussen drie tot vyf jaar in die koue hou.
‘n Onderwyser wat aan moord skuldig bevind word kan vir goed uit die stelsel geweer word. Klagtes word hanteer deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders, die onderwysdepartement of ‘n bevoegde hof.
Die raad en unies is verheug oor die verwikkeling.
In November 2020 is ‘n styging van 43% in wangedrag deur onderwysers in die Suid-Afrikaanse parlement gerapporteer. Sewentien onderwyers is aan seksuele oortredings teenoor leerlinge skuldig bevind. Hulle name is in die register vir seksuele oortreders aangebring en hulle kan nie weer na skole terugkeer nie.
Vakbonde is van mening dat die stap die waardigheid van die onderwysprofessie sal herstel en voornemende oortreders sal afskrik. Die SA Onderwysersunie voel egter die minister het versuim om die nuwe regulasies breedvoerig met die vakbonde te bespreek en reken omkopery en korrupsie moet tot die lys van ernstige oortredings toegevoeg word.
Ons owerhede moet in Namibië ook tyd maak om weereens na die wetgewing te kyk wat die gedrag van onderwysers reguleer.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie