Onderwys in ‘trurat’
Onderrig gaan nie oor die werf van politieke punte nie, maar is ‘n kwessie van nasionale belang.
Henriette Lamprecht – Geen universiteit buite Namibië sal voorsiening maak vir leerlinge wat net oor ‘n graad 11-kwalifikasie beskik nie. Ook sal slegs dié wat volgens sekere standaarde kwalifiseer, toegelaat word om voort te gaan met graad 12 – en dit ook net by sekere skole.
Onderwys is werklik in trurat as duisende graad 10-leerlinge die afgelope 28 jaar nie na die volgende vlak kan beweeg nie en by die res van die werkloses inval.
Só sê die Popular Democratic Movement (PDM) se woordvoerder vir onderwys, me. Elma Dienda.
“Iets wat my die meeste opval, is die minister (van onderwys, kuns en kultuur), me. Katrina Hanse-Himarwa, wat erken daar is eintlik meer leerlinge in private instellings en die Namibiese Kollege vir Afstandonderrig (Namcol) as wat daar leerlinge in voltydse staatskole is,” sê Dienda.
Dít toon volgens haar duidelik ouers het finaal besef staatskole se onderrig is van ‘n laer standaard as elders.
“Watter planne het die regering om leerlinge se vaardighede in Engels te verbeter? Om doeltreffend en betekenisvol op enige vlak te studeer, vereis die volledige bemeestering van die taal waarin daardie studies plaasvind. Die vlak van Engels in Namibië beweeg die afgelope 28 jaar agteruit met geen lig in die tonnel nie,” het sy gemaan.
Dienda het namens haar party beklemtoon onderrig gaan nie oor die werf van politieke punte nie, maar is ‘n kwessie van nasionale belang omdat dit die toekoms van jongmense raak.
“’n Regering wat werklik omgee, sou lankal die groot hoeveelheid kennis gebruik het wat in die land beskikbaar is.”
Sy het na ‘n besoek aan Namcol verwys om te sien hoeveel van die 21 000 leerlinge wat graad 10 gedruip het, hul kanse hier gaan waag.
“Dié leerlinge moet besluit om voltyds skool toe terug te keer en hier wel graad 9 te herhaal om op te vang met die nuwe sillabus. Die alternatief is om by Namcol te registreer en jou kans te waag met die nuwe graad 10-leerplan sonder dat jy enige grondslag hiervoor in graad 9 gelê het.”
Volgens Dienda is dit nie duidelik of Namcol eerder die ou graad 10-leerplan in oorleg met die nuwe graad 10-leerplan gebruik vir leerlinge wat verlede jaar graad 10 gedruip het nie.
“Dit sal interessant wees om die finansiële gevolge vir ons regering, wat reeds finansieel in die knyp is, te sien,” het sy gesê.
Dienda vra ook hoe suksesvol leerlinge kan wees as hulle vir die nuwe graad 10-leerplan kan registreer sonder dat hulle die nuwe graad 9-leerplan onder die knie gekry het.
Dít veral in die lig van verskeie skoolhoofde wat die nuwe leerplan se inhoud “uitdagend” vind.
Sy het voorts gesê “totale chaos” heers by skole oraloor die land met administrateurs wat die nuwe rooster nie kan uitwerk om die verskeie vakkeuses te akkommodeer nie.
“Weens ‘n gebrek aan handboeke vind geen onderrig plaas nie, en onderwysers erken hulle maak onwettig afskrifte van bestaande handboeke.”
Ook is onderwysers volgens Dienda skepties oor die gereedheid van leerlinge om tersiêre onderwys, werk of die wêreld aan die einde van graad 11 aan te pak.
“Die meeste ouers begin nou eers die gevolge van hul kinders se toekoms, soos in die nuwe leerplan vervat, besef,” sê sy.
Volgens Dienda is dit tyd dat die regering erken hy het sedert 1990 “’n gemors” van onderwys gemaak en hy gaan met die voortdurende “geknoei” voort om met die toekoms van jongmense te dobbel.
“Dit is tyd dat die regerende party besef hy beskik nie oor die nodige kennis om met ‘n sinvolle en uitvoerbare onderwysstelsel vorendag te kom wat jongmense se belange en talente ten volle benut nie. Alle die kundigheid wat oor politieke grense heen in Namibië beskikbaar is, moet gebruik word om dié skip, wat vinnig besig is om te sink, vir eens en altyd te red.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie