Onderwys - Is gemeenskappe betrokke genoeg?
Godfrey Kleinhans
Ná die demokratisering van die onderwysstelsel in Namibië in die vroeë 90’erjare, is gemeenskappe al hoe meer by die bestuur daarvan betrek.
Die nuwe onderwyswet het voorsiening gemaak vir die stigting van skoolrade (die ou skoolkomitees) en streeksonderwysforums. Die skoolrade het meer bevoegdhede as hul voorgangers ontvang en die forums kan oor onderwysaangeleenthede in die streke waak.
Die Namibiese gemeenskap het ‘n groot aandeel gehad in die formulering van die nasionale taalbeleid vir onderwys. Beloftes van demokratiese deelname het dus nie by leë beloftes gebly nie.
In vorige rubrieke het ek melding gemaak van die prosesse wat in plek gestel is en die soeklig op skoolrade en onderwysforums geplaas. Hierdie is statutêre liggame waarvan die bevoegdhede deur die Onderwyswet bepaal word. Natuurlik is die instellings ook gegrond op die demokratiese beginsels soos vervat in die Grondwet van die land.
Daar is dus geen manier hoe hierdie wetgewende bepalings eenvoudig geïgnoreer kan, of mag word nie. Soms, soos ek al hier gemeld het, gebeur dit tog en wel sonder enige gevolge.
Hoe betrokke is onderwysgemeenskappe in die stryd teen Covid-19?
‘n Onderwysgemeenskap word normaalweg gesien as die somtotaal van onder andere ouers, onderwysers, staatsinstansies, besighede, belangegroepe en kerke wat belang het by die welvaart van skole in 'n stad, dorp of landelike gebied. Demografie, gedeelde uitdagings en eiesoortige gebruike speel 'n rol in die ontwikkeling van onderwysgemeenskappe.
Hierdie gemeenskappe is die werklike eienaars van die onderwysstelsel; die stelsel is in die lewe geroep om na hul behoeftes om te sien en word bedryf met hulle belastinggeld. Hulle kan nie deelname ontsê word nie. Soos ‘n vriend eendag gesê het: "Education is not the farm of a director, permanent secretary or minister."
Ten spyte hiervan kom dit voor asof die bekamping van die pandemie ‘n regeringsaak geword het. Dit lyk ook of skoolrade en onderwysfora se deelname nie juis aangemoedig word nie. Hierdie forums bestaan blykbaar nie eens in sekere streke nie.
Effektiewe bekamping van die pandemie vereis egter ‘n kollektiewe respons.
Deeglik bewus hiervan, het navorsers sedert die uitbreek van die pandemie gekyk na moontlikhede vir gemeenskappe om deel te wees van die stryd teen Covid-19. ‘n Paar modelle is al ontwikkel.
Gemeenskapsleiers en belangegroepe kan mense mobiliseer om betrokke by die stryd te raak. Op die wyse kan inligting en protokolle van die gesondheidsowerhede deeglik onder die aandag van gemeenskappe gebring word. Kerke kan hier ‘n beduidende rol speel.
Tweedens kan individue met relevante kundigheid en finansiële vermoëns met die gesondeidsowerhede saamwerk. Afgetrede gesondheidspersoneel en onderwysers, welwillende skenkers en besighede kan hier ‘n deurslaggewende rol speel.
Laastens is dit belangrik dat gemeenskappe die nodige kapasiteit ontwikkel om die impak van die huidige sowel as toekomstige pandemies effektief te bestuur.
Hierdie modelle sal egter nie outomaties in werking tree nie. Naas die rolle van veranderingsagente (change agents) in die gemeenskappe, behoort die owerhede vorm en rigting hieraan te gee. En hiervoor is gereelde en effektiewe kommunikasie nodig.
Ongelukkig sien ‘n mens bitter min daarvan...
(Lees gerus Community participation in the fight against COVID-19: between utilitarianism and social justice deur José Patrício Bispo Júnior en Marciglei Brito Morai.)
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie