Onderwys is ons almal se saak
Onderwys is ons almal se saak

Onderwys is ons almal se saak

Dani Booysen
Godfrey Kleinhans van ­Keetmanshoop skryf:

Kinders het 'n manier om “wêla kapêla” te skree en hul tonge uit te steek wanneer hulle in spel hul opponente verkeerd bewys of wanneer van hul voorspellings as korrek bewys word.

“Wêla Kapêla” is seker nie geskik vir volwassenes nie, maar dan voel 'n mens om soms soos kinders “vermakerig en verwytend” te wees.

'n Klompie weke gelede het ek in 'n skrywe aan hierdie koerant gewys op die ministerie van onderwys se kortsigtigheid om beleidsrigtings in te voer sonder die inagneming van die koste-implikasies. Die ministerie het verkies om die benoude ekonomiese toestand van die land sowel as die wêreldwye ekonomiese insinking te ignoreer.



TE VEEL HOOI OP DIE VURK GENEEM

Die ministerie het eenvoudig gegaan en voorskoolse programme vir sy rekening geneem, private skole gesubsidieër en 'n dekreet uitgereik dat verpligte bydraes tot skoolfonds verbode is. 'n Mens verkeer onder die indruk dat die projeksies nooit gedoen is nie en dat die kostes nooit bereken is nie.

Intussen is daar steen en been gekla oor tekorte in die salarisrekening en dat gemeenskappe klaskamertekorte in die gesig staar. Een direkteur het die ouers daarvan beskuldig dat hulle versuim het om hul kinders se skoolaansoeke betyds in te dien terwyl die permanente sekretaris gedurig die ouers paai deur versekerings te gee dat die ministerie volstoom aan hierdie gebreke aandag gee. Beskuldigings van laat aansoeke en die paaiery sal die "papiervliegtuig" nie laat vlieg nie.

Die situasie bly benard en die koerante berig nou dat Swapo verdeeld is oor die kwessie van “gratis onderwys”. Die minister van onderwys probeer haar uit die vroeë besluit rakende "gratis onderwys" wurm met allerlei argumente.

'n Ander saak wat my dwars in die krop steek, is dat skole amper elke termyn 'n week of wat vroeër sluit as wat beplan is. Die enigste rede wat 'n mens kan dink waarom dit gedoen word, is om die uitgawes van die koshuise te verminder. Dit beteken egter 'n verlies aan onderrigtyd; 'n neiging wat ons nog duur te staan sal kom.



HERBESIN EN BEPLAN BETER

Daar is paar dinge rakende die skoolfondsheffing wat die ministerie voor die verbod duidelik nie in ag geneem het nie. Die tersaaklike argument is dat die “verpligte” bydrae van die ouers daardie uitgawes gedek het wat die ministerie nie kon bybring nie.

Nadat hierdie verpligte bydrae verbied is, het baie ouers (en ek is daarvan bewus nie almal nie) eenvoudig besluit dat geen bydrae tot die skool nodig is nie. 'n Gesoebat en gepleit gaan nie help nie!

Die ministerie bly ook in gebreke om die gebrek aan klaskamerruimte vir volgende jaar te verduidelik. Die redakteur van Republikein het 'n paar weke gelede daarop gewys dat daar regtig nie 'n geldige verskoning is nie.

Die ministerie het 'n uitstekende opvoedkundige bestuurs- en inligtingstelsel, bekend as EMIS, terwyl data ook beskikbaar is by die nasionale statistiekkantoor. Verder is daar ander instansies wat ook met data en die beweging van mense in Namibië kan help. Hierdie situasie dui op uiters gebrekkige beplanning en hantering van beskikbare data.

Dit is tyd dat die ministerie sy vorige besluite rakende voorskoolse onderwys, die subsidies aan private skole en "gratis onderwys" tot in graad twaalf in heroorweging neem.

Ek het in my vorige skrywe pertinent daarop gewys dat hierdie besluite nie strook met die grondwetlike bepalings nie. Maar, die ministerie is dit aan die nasie verskuldig om te sê wat dit gaan doen om kostes te bespaar.

Ek het in my vorige skrywe 'n klompie strategieë genoem wat ingespan kan word. Hoe gaan die ministerie seker maak dat alle kinders wat voor 31 Desember hierdie jaar ses word volgende jaar seker sal wees van 'n plek op die skoolbanke? Die kaarte moet nou op die tafel geplaas word en nie “versekeringe" dat hard aan die probleme gewerk word nie.

En, om Vadersnaam, begin om die ouers en gemeenskap te betrek. Onderwys is tog 'n gemeenskapsbate!

Die skoolkomitees/skoolrade moet bemagtig word en onderwysforums moet in die lewe geroep word. Daar is 'n magdom van kennis en insig rakende onderwyssake daar buite wat wag om gebruik te word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!