Onderwys - Kollektiewe deelname
Onderwys - Kollektiewe deelname

Onderwys - Kollektiewe deelname

Dani Booysen
Godfrey Kleinhans - In enige demokratiese bestel is verteenwoordiging een van die uitstaande kenmerke.

Ek het in vorige aflewerings reeds geskryf oor onderwys en verteenwoordiging. Oor die samestelling van, en opdrag aan skoolrade is ook heelwat al gesê. Deur die skep van skoolrade het die wetgewende gesag seker gemaak dat die inspraak van skoolgemeenskappe in skoolsake beskerm word.

'n Mens kan net vertrou individue in skoolgemeenskappe besef dit en sal geleenthede aangryp om die kwaliteit van onderwys in hul skole te verbeter.

Verteenwoordiging stop egter nie by skoolrade nie. Die Onderwyswet maak ook voorsiening vir die stigting van ‘n onderwysforum in elke streek. Dit verskuif die grense van verteenwoordiging na buite.

Die opdrag aan die onderwysforums is baie insiggewend. Die wet beklee die forums met bevoegdheid om die minister van onderwys, streeks- en plaaslike owerhede sowel as die skoolrade oor sake rakende die stand van onderwys in die streek te adviseer. Verder rus daar ook ‘n verpligting op die forum om enige van die bovermelde instansies te adviseer rakende vrae wat die instansies pertinent aan die forums rig.

Dit is belangrik om daarop te let dat onderwysontwikkeling die hoofopdrag van die forums is. Die forums kan dus in die lig hiervan ingrypings aan die owerhede en skoolrade voorstel wat die kwaliteit van onderwys gunstig sal beïnvloed.

Tweedens bevestig dit wat in vroëere aflewerings gesê is dat die "bottom-up"-benadering (van onder na bo) gepas is om gebreke in skole aan te spreek. En laastens onderstreep dit weereens die beginsels van deelneming in onderwysaangeleenthede deur desentralisering.

Verteenwoordiging in die onderwysforums is redelik wyd en die wet maak voorsiening vir twintig persone. Die wet bepaal verder dat die persone wat vir aanstelling aan die minister van onderwys voorgestel word, oor ‘n grondige kennis van onderwys moet beskik. Gemeenskapsinstansies wat verteenwoordiging geniet, is die streeks- en plaaslike owerhede, skoolrade, onderwysers- en werkersunies, privaat skole, kerke, tradisionele leiers en leerlingorganisasies.

Die streeksdirekteur is ‘n ex officio lid (sonder die reg om te stem) en sy/haar kantoor is verantwoordelik vir die administratiewe funksies van die forum. Die forum wys uit eie geledere ‘n voorsitter en ondervoorsitter aan.

In die verlede is die fout gemaak om die forums te laai met politici. Ek is nie daarvan oortuig dat dit ‘n goeie ding is nie aangesien die teenwoordigheid van politieke leiers ‘n dempende effek op deelname tydens vergaderings mag hê. Dit is uiters belangrik dat gesprekke onbevange plaasvind, selfs wanneer omstrede kwessies bespreek word.

Onderwysforums kan van onskatbare waarde vir onderwys wees. Dit bevestig die demokratiese beginsels van deelname en beantwoord aan die doelwit van desentralisering deurdat die burgery van die streke seggenskap in hul eie sake kry.

Die onderwysforum kan gesien word as die ouer boetie van die skoolraad en kan die verbetering van skoolbestuur bevorder deur kollektiewe deelname.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!