Onderwys u2013 Kom ons deel Covid-19 se lesse
Onderwys u2013 Kom ons deel Covid-19 se lesse

Onderwys – Kom ons deel Covid-19 se lesse

Godfrey Kleinhans - Covid-19, wat vroeër meer gelokaliseerd in Namibië voorgekom het, veroorsaak nou kommer en spanning oor die lengte en breedte van die land.

In die Suide, veral op Keetmanshoop, word soos elders toenemend nuwe gevalle aangeteken. Keetmanshopers het dalk heimlik gewens die virus moet maar in Erongo bly, waar dit geruime tyd nesgeskop het.

Selfs meer kommerwekkend is die groot hoeveelheid mense wat blykbaar nog nie besef hoe vernietigend die virus kan wees nie. In die SMS-kolomme verwys iemand na van die noodregulasies as lagwekkend terwyl ander die pandemie as ‘n regeringstruuk beskou.

Sommige glo steeds die virus is in een of ander laboratorium gekweek. Dit lyk of party mense eenvoudig nie omgee nie.

Onsekerheid en verwarring skep gunstige geleenthede vir tenderpreneurs en blatante skelms om met miljoene weg te kom, soos in Suid-Afrika gebeur het. Ek is oortuig regerings oral in die wêreld doen met beskikbare bronne wat hulle kan en een of ander tyd sal daar konsensus wees oor die wie, wat, hoe, wanneer en waar van die coronavirus.

Tyd is altyd ‘n goeie leermeester.

Dit wil egter voorkom of ons nog ‘n bietjie onseker is oor hoe om die situasie te hanteer; daar word nog te veel rondgeval. Mens moet aan die ander kant erken ons jong republiek het nog nie met ‘n noodsituasie van hierdie omvang te doen gehad nie. Dalk verklaar dit die onsekerheid.

Die pandemie is beslis nog nie gestuit nie, maar ontledings van ons ervarings behoort te help met die voorbereiding van ingeligte beleid vir onderwys. Nou is die tyd om daarmee te begin.

‘n Geweldige hoeveelheid onderrig- en leertyd het verlore gegaan. Dit sal ons loon om dit te kwantifiseer en ook om vas te stel hoe skole dit hanteer.

Hoe effektief werk tuis- en aanlynonderrig wat wyd en syd aanbeveel is, te midde van die heersende ongelykhede?

Baie ouers, vanwëe ‘n lae geletterdheidspeil en ander faktore, se vermoë is beperk om hul kinders by te staan. Die gebrek aan rekenaars, slimfone, data en elektrisiteit plaas aanlynonderrig buite die bereik van baie huishoudings.

Die lesse wat deur koerante versprei is, was ‘n slim strategie. Maar hoeveel huishoudings in die veraf gelëe landelike gebiede word bereik en hoeveel van die ouers kan hul kinders help leer?

Het alle skole genoeg gesigsmaskers vir leerlinge onderwysers ontvang? Hoeveel moes die staat, ouers en private instansies hiervoor bydra?

Die meeste van die tyd kon die meeste skole die afstandrëel handhaaf omdat slegs leerlinge in sekere grade op skoolpersele was. Dit sal interessant wees om te bepaal hoe suksesvol die voorgestelde peletonklasse (multiple-shift schooling) geïmplementeer is met die terugkeer van ander leerlinge.

Werk die skedulering van alternatiewe skooldae?

Skole het pouses op twee wyses hanteer. By sommige skole is kinders tot die klaskamers beperk terwyl hulle by ander skole toegelaat is om op die perseel te speel. Ons moet die impak van die inperking in klaskamers gedurende pouses asook die uitdagings op skoolpersele beoordeel.

Covid-19 het baie ouers en kinders tot die uiterste beproef en frustreer. Dit is belangrik om te weet hoe ouers en leerlinge die tyd sedert Maart ervaar het.

Ons moet weet hoeveel ouers het nie hul kinders terug skool toe gestuur nie.

En bowenal watter lesse ons geleer het, indien enige, hoe om die ongelykhede in ons gemeenskappe te oorkom.

Dit sal onderwysadminstrateurs, skoolhoofde, skoolrade en selfs streeksrade baat om kers op te steek by die navorsingstuk “Data or bread? A policy analysis of student experiences of learning under lockdown” deur professor Jonathan Jansen, hoogleraar aan die Universiteit van Stellenbosch.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!