Onderwys - Lees en lei
Godfrey Kleinhans - Transformerende lande wat planne het om hul grondwette te verander, kan kom kers opsteek by Namibië en sy buurland Suid-Afika.
Dit bly egter vreemd dat hierdie twee lande van die mees ongelykes ter wêreld is.
Ongelykhede skep nie net grense en onoorbrugbare gapings tussen gemeenskappe nie, maar dit voorkom politieke stabiliteit en ekonomiese groei. Dit is ook uiters nadelig vir die moraliteit van ‘n land.
Die kommissies in Suid-Afrika wat bewerings van korrupsie en staatskaping ondersoek, bring nou aan die lig hoe ver mense in leiersposisies bereid is om te gaan om hulself te verryk. Mense sonder werk en huisvesting en diegene wat in gebiede woon waar dienslewering uiters power is, wend hulle tot protesoptogte, geweld en brandstigting. Boewery en plundery is nie uitgesluit nie.
Taxi-eienaars in die Wes-Kaap wil nou die verkeersrëels volgens hulle voorkeure aangepas hê. Van hierdie verskynsels is nie vreemd hier by ons nie.
Politici en gemeenskapleiers is dit eens dat transformasie nodig is om hierdie soort gedrag te stuit. Daar is ook ‘n algemene konsensus dat transformasie in ons onderwysstelsel en spesifiek by ons skole moet begin.
‘n Onderwysstelsel wat kinders voorberei om hul plekke as geletterde en kreatiewe denkers in ‘n volwasse samelewing in te neem, het die vermoë om die samelewing te transformeer en op die regte trajek te plaas. Maar, ten spyte van reuseinsette sedert 1989, lyk dit nie of ons veel sukses het met die uitskakeling van ongelykhede nie.
Die skerp kontras tussen funksionerende en wanfunksionele skole word duidelik uitgewys in die statistiese jaarverslae van die ministerie van onderwys, kuns en kultuur en die jaarlikse graad 10- en 12-uitslae. SACMEQ-verslae wys ons kinders sukkel met lees- en wiskundevaardighede.
Statistieke oor onderwyser- en leerlingafwesigheid (die skoolhoof ingesluit) en die bevindings van inspeksiebesoeke is nie vir die oë van Jan Publiek bedoel nie.
Die gehalte van onderwys waarna ons so naarstiglik soek, bly ons ontwyk.
Een van die oorsake is gebrekkige leesvaardigheid. Êrens in die junior primêre fase doen ons dinge nie reg nie.
Baie van ons kinders kan nie lees nie en lees sonder die nodige begrip. Hierdie kinders is gedoem om akademies gestremd deur die lewe te gaan en om later as funksioneel ongeletterd geëtiketeer te word.
‘n Lesende kind is ‘n bevoorregte kind, aldus Antjie Krog. “Maak nie saak hoe verwaarloos of verlate nie, ‘n kind wat lees, is ‘n gekoesterde kind. Maak nie saak hoe geestelik verarm die familie is nie, ‘n kind wat lees, is ‘n intelligente en ingeligte kind”.
Hierdie sy van onderwys sal ons moet regruk.
Tweedens moet ons seker maak dat ons leiers soek wanneer onderhoude met kandidate vir vakante skoolhoofposte gevoer word. Die potensiaal moet reeds daar wees; dit is sinneloos en ‘n vermorsing van tyd en geld om leiers met ewige slypskole te probeer “skep”.
Navorsing toon skoolhoofde wat ware leiers is, beskik oor die volgende eienskappe:
• Hulle het agting en empatie vir die armes en minderes in die samelewing.
• Hulle glo in die potensiaal van elke kind en onderwyser.
• Hulle etiketteer nie kinders en onderwysers nie.
• Hulle onderhandel nie oor kwaliteit onderwys nie.
• Hulle heg groot waarde aan spanwerk en samewerking.
• Hulle skole is veilig en aantreklik.
• Hulle het ‘n sterk visie vir hul skole en is hardwerkend, toegewyd, stiptelik en verantwoordelik.
• Hulle voel nooit bedreig nie en plaas belangrike take in die hande van hul kollegas.
• Hulle glo bowenal dat hul skole die potensiaal het om uitmuntende instansies te wees.
Hierdie is mense wat ten spyte van gebrekkige bronne, trae skoolgemeenskappe en neerdrukkende burokrasies steeds presteer. Hulle maak die toekomsdeure vir hul leerlinge oop.
(Ek is dankbaar om te kon put uit Jeanette de Klerk-Luttig van die Universiteit van Stellenbosch se artikel “Gelykheid deur onderrig” in Die Burger van 17 Oktober 2019. De Klerk-Luttig is verbonde aan die US se kantoor vir morele leierskap.)

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie