Onderwys - Leierskap en rolmodelle
Onderwys - Leierskap en rolmodelle

Onderwys - Leierskap en rolmodelle

Dani Booysen
Godfrey Kleinhans - Verlede week het ek kortliks gewys op die belangrikheid van effektiewe leierskap vir die onderwysstelsel, veral in die skool.

Leidinggewing is uiters noodsaaklik op beleidsvlakke van die stelsel terwyl die skool en sy verskeie afdelings net kan gedy en floreer onder goeie leiers. Dit is nie net by leierskapkampe en -kursusse waar skoolkinders van leierskap leer nie. By die skool sien hulle verskillende leiers in aksie.

Die staat en privaat sektor besef terdeë dat sukses alleenlik kan realiseer deur goeie leiding; vandaar die geweldige groot bedrae wat in die soort opleiding belê word. Dis net jammer dat hierdie soort indiensopleiding soms fokus op die teorie en ver verwyderd is van die werklikheid.

Dit is ook jammer dat leierskapmodelle en -voorbeelde wat by die skool en in die gemeenskap aan kinders voorgehou word, nie altyd met die essensies van leierskap strook nie. Dit is wel verblydend dat die onderwerp deesdae taamlik onder die loep geneem word op sosiale media en in die SMS-kolomme. Heelwat meningsverskille is te bespeur terwyl daar ook ‘n neiging bestaan om standpunte vanuit ‘n politieke perspektief te probeer verduidelik. Dit is hier waar die wiele van die diskoers oor leierskap afkom.

Robert Gabriel Mugabe, die voormalige president van Zimbabwe, het Vrydag die lewe in die rype ouderdom van 95 gelaat. Mugabe het ‘n uiters prominente rol in sy land se vryheidstryd gespeel en word premier van die nuwe Zimbabwe in 1980. Hy het in die aanvangsjare van sy bewind heelwat gedoen om vertroue in sy regering te vestig en om veral onderwys en die openbare gesondheidsektor uit te bou en te verbeter.

Maar in 2000 het die Lancaster House-ooreenkoms in die snippermandjie beland en grondhervorming het in grondgryp ontaard. Grondeienaars is van hul grond verdryf en teenstaanders is uit die pad gevee.

Mugabe het die grondwet aangepas soos dit hom behaag het en hy en sy handlangers, waarvan heelwat in die veiligheidsdienste was, het eenvoudig enige vorm van teenstand uit die weg geruim. Saam met die landsburgers wat die land verlaat het, het kundigheid en vermoë ook uitgestroom.

Sy beleidsrigtings, magsbeheptheid en gierigheid het ‘n vernietigende effek op die land se ‘n ekonomie gehad. Hy het geen plan gehad om ooit uit te tree nie en aan die wêreld gesê slegs God sal hom van sy posisie as president onthef. Uitdagend het hy Brittanje laat weet: "Tony Blaire can keep his England, let me have my Zimbabwe.”

Soos baie ander Afrika-leiers laat Mugabe ‘n gebroke land agter, maar ‘n reuse- persoonlike boedel wat uit plase, huise en verskeie ander beleggings bestaan.

Mugabe was ‘n hoogs intelligente man met vyf B-grade, twee nagraadse kwalifikasies (waarvan een ‘n LLM insluit) verkry aan erkende en hoogstaande universiteite. Erkende universiteite in Afrika en elders in die wêreld het aan hom ‘n rits eregrade toegeken waarvan heelwat egter later teruggeneem is.

Hoe kan ‘n man met so ‘n indrukwekkende geletterdheidsprofiel wat sy land so verarm het deur ‘n sug na mag en besittings nog aan die wêreld as ‘n leier en held voorgehou word? Hoe kan sy landsburgers en die wêreld hom vir die slagting in Matabeleland vergewe? En die belangrikste: hoe kan ons so ‘n persoon as rolmodel aan ons skoolkinders voorgehou word?

Chester Williams, die oud-Springbok, het ook die afgelope Vrydag gesterf. Hy was 49 jaar oud.

Dit word vertel dat hy ‘n vriendelike en nederige persoon was wat altyd sy beste op die veld gegee het. Daar word gesê dat hy baie jong bruin en swart seuns se lewens positief beïnvloed het en dat hy nog veel meer sou kon doen.

Is hierdie nie die kwaliteite wat ons in leiers moet soek nie? Is dit nie wat Martin Luther King bedoel het met die volgende woorde nie?

“We need leaders not in love with money but in love with justice.

"Not in love with publicity, but in love with humanity.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!