Onderwys - Leierskap
Onderwys - Leierskap

Onderwys - Leierskap

Dani Booysen
Die geskiedenis van die mensdom is maar 'n bloedige en gewelddadige affêre gekenmerk deur rewolusies en oorloë.

Reeds na die verkryging van legitimiteit van die Christelike geloof het bloedige botsings onder die Christengroepe gewoed. Die Kruistogte het vir bykans twee eeue geduur en minstens 1,7 miljoen mense het die lewe gelaat.

Die 19de eeu was nie net bekend vir grootskaalse ontwikkeling op die meeste gebiede nie. Die Franse Rewolusie, wat letterlik duisende koppe laat rol het, het oor drie eras geskied, 1789-1799, 1830-1831 en 1848-1848. Dit is gevolg deur die Napoleontiese Oorloë.

Dan moet 'n mens die oorloë in die Krim, die Balkan sowel as die Russiese Rewolusie in berekening bring.

Die twee grotes, Wêreldoorlog I en II, was bestem vir die 20ste eeu. Die soldate wat deur wapens gedood is, voltooi nie die lys van die wat omgekom het nie. In opdrag van Adolf Hitler het 'n verdere ses miljoen Jode gesterf.

Die verdeling van Afrika deur Europa en die dekolonialisering daarna was nie minder erg as gebeure in Europa en Amerika nie. Afrika is “gevat” en na hartelus verdeel sonder die inagneming van tradisionele grense en leiers is meedoënloos onderwerp.

Die vrymaking van Afrika deur haar eie mense was ook nie sonder geweld en doodslag nie. Afrika dra nog die letsels van daardie gewelddadige tydperk. Ons het op skool en universiteit van hierdie konflikte geleer. Die wêreld het, naas sy filosowe en denkers, groot leiers gehad, soos Mahatma Mohandas Gandhi, Abraham Lincoln, George Washington, Winston Churchill en vele ander. Onder die grotes in Afrika was Jomo Kenyatta, Mobuto Sese Seko, Gamal Nasser en Julius Nyere. Jan Smuts in ons buurland was 'n internasionalis en het raadsale gedeel met mense soos Churchill, maar kon nie menseregte binne die Suid-Afrikaanse gemeen­skap vestig nie.

Robert Mugabe, net soos Jacob Zuma, het 'n verleentheid vir Afrika geword terwyl Nelson Mandela die aansien en visie gehad het, maar nie die tyd nie. Baie het hul hoop op die jong Steve Bantu Biko gevestig, maar hy moes opgeoffer word sodat die apartheidsleuen kon voortleef.

Waarom het hierdie geweldige breinkrag toegelaat dat die geskiedenis so wreed verloop het? Het leiers by die Konferensie van Berlyn, die Vredesverdrag van Parys, die stigting van die Volkebond en die Verenigde Nasies en al die ander internasionale konferensies te min visie en begrip gehad? Of was sogenaamde oplossings gebore uit kortsigtigheid, eiebelang en selfsug? Het Trumpisme al die jare hierdie aarde in 'n ander gedaante bewandel?

Ek het baie vrae en kwellinge oor leierskap. Gesonde leierskap is nood­saaklik vir goeie regering op alle vlakke sowel as effektiewe skoolbestuur. Kwaliteit onderwys kan nie sonder goeie leierskap bestaan nie.

Persone wat as leiers aangewys word, beskik nie noodwendig oor die eien­skappe van 'n leier nie.

As leiers word van skoolhoofde verwag om so 'n invloed op hul personeel te hê dat hulle hul gedrag en werkswyses altyd die doelwitte van die skool sal help realiseer.

Goeie voorbeelde is 'n deurgronde onderwyskennis, 'n deeglike verstaan van wat kwaliteit onderwys is plus statuur in die skoolgemeenskap.

Maar dit is nie al nie. 'n Skoolhoof moet ook 'n onderrigleier ("instructional leader") wees. Hy moet kan onderrig gee, onderwysers kan evalueer en leiding gee en onderwysers en leerlinge tot hoër hoogtes inspireer. Sy kantoor behoort sy tydelike “woning” te wees.

So 'n onderrigleier is professor Jonathan Jansen. Hy was gedurig in kontak en gesprek met sy studente. Soggens het hy eers wetenskaplesse by skole in Bloemfontein aangebied voordat hy sy belangrike dagtaak by Kovsies begin het. Dit is maar één manier waarop hy tot beter basiese onderwys in die provinsie bygedra het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!