Onderwys: Luiheid nie geduld
Onderwys: Luiheid nie geduld

Onderwys: Luiheid nie geduld

Die minister van onderwys, kuns en kultuur sê 2018 is die jaar van rekenskap.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - ’n Ondersoek deur die ministerie van onderwys, kuns en kultuur om sy betaalrol na te gaan, is in al 14 landstreke afgehandel en die ondersoekverslag voltooi.

Volgens die minister, me. Katrina Hanse-Himarwa, het ’n gebrek aan optrede deur betrokke rolspelers teenoor personeel wat met uitgebreide verlof is, veral uitgestaan.

Van die gevalle dateer terug tot in 2016, met betrokkenes wat steeds ’n salaris ontvang.

“Dit het ’n negatiewe invloed op onderrig en uiteindelik is leerlinge die grootste verloorders,” het Hanse-Himarwa gesê in ’n toespraak wat namens haar op Ongwediva aan onderwysdirekteure en skoolhoofde van die Oshanastreek voorgelees is.

Volgens die minister het die ondersoek ook verdoemende getuienis oor die verduistering van staatsfondse in drie spesifieke streke opgelewer.

Dissiplinêre stappe is teen die betrokke werknemers geneem, terwyl strafregtelike klagte ook gelê is. Hanse-Himarwa het die afdeling vir finansiële bestuur opdrag gegee om onmiddellik beheer van betaalstate te neem.

“Die direkteur moet alle skoolhoofde verplig om betaalstate terug te stuur om ’n beheerstelsel te implementeer en ’n maandelikse verslag van elke skoolhoof te ontvang.”

Inspekteurs moet ook meer skole in die streek besoek.

Weens ’n beduidende besnoeiing in die ministerie se begroting, sê sy, is die ministerie verplig om “pynlike, maar nodige” besluite te neem wat die vermindering of besnoeiing van kernfunksies soos skooltoelae, die konstruksie van klaskamers en die aankoop van handboeke insluit om kop bo water te hou.

Dit het egter volgens haar tot openbare verset en ontevredenheid onder skole gelei.

Die minister het gesê almal is verantwoordelik vir ’n gebrek aan prestasie.

Sy het nalatigheid, luiheid, traagheid en middelmatigheid in die uitvoering van opdragte en verantwoordelikhede verwerp.

Ook moet “immorele gedrag” soos diefstal, laatkommery, afwesigheid en diensweiering reggestel word en personeel se tyd en pogings bestuur en ondersteun word.

Met verwysing na die nuwe leerplan wat sedert 2015 in alle staatskole geïmplementeer word, het Hanse-Himarwa gesê die ministerie is besig met die ontwikkeling van die sillabusse vir die senior sekondêre fase wat vanaf 2019 tot 2012 geïmplementeer sal word.

Met betrekking tot desentralisasie het die minister gesê administratiewe funksies soos menslike hulpbronne en finansies sal deur tegniese personeel hanteer word wat onder die direktorate van streeksrade val.

“Onderwysdirekteure kan nou op onderrig en ondersteuning fokus.”

Sy het voorts gemaan basiese onderrig moet beide onderwysers en leerlinge in staat stel om vaardighede in wiskunde, wetenskap, biologie en landbou te bekom - juis die gebiede waar nasionale teikens nie behaal word nie.

Volgens Hanse-Himarwa is N$87 miljoen onder die 14 streke versprei vir die konstruksie van sanitasiegeriewe, klaskamers en biblioteke, N$35 miljoen vir behuising vir onderwysers en N$53 miljoen vir opknapping.

Bykomend is N$52 miljoen vir preprimêre klaskamers toegeken.

Hanse-Himarwa het voorts verwys na 54,5% van graad 10’s wat verlede jaar vir graad 11 gekwalifiseer het, terwyl 39,9% van die graad 12’s vir universiteitstoelating gekwalifiseer het.

Die minister het voorts verwys na die uitslae van ’n studie wat in Januarie 2016 in samewerking met Unicef in die ||Kharas-, Khomas-, Erongo-, Oshikoto- en Zambezistreke uitgevoer is. Die doel was om uit te vind waarom sekere skole beter as ander vaar en het hoëprestasie skole in landelike, arm gebiede met min hulpbronne geteiken.

“Doeltreffende leierskap met ’n hoë vlak van vertroue en verantwoordbaarheid is die sleutel tot sukses in dié skole.”

Hanse-Himarwa het voorts verwys na ’n geïntegreerde Vroeë Kinderontwikkelingsplan om leerlinge vir ’n maklike oorgang tot primêre onderrig voor te berei. Volgens haar is die ministerie se fokus nou daarop om te verseker dat geen kind op preprimêre vlak deur ’n ongekwalifiseerde onderwyser onderrig word nie.

Sy het ’n beroep op skoolhoofde gedoen om “alle beskikbare maniere te gebruik” om die basis vir hulpbronne by skole te vergroot.

“Dit is die mees kritieke tyd om te verseker dat ons ouers en alle ander rolspelers vra om ons skole te ondersteun.”

Volgens Hanse-Himarwa is N$197 miljoen aan die 1 846 staatskole teen ’n eenheidskoste van N$250 per kind in die vorige boekjaar toegeken.

Sy het benadruk 2018 is die jaar van rekenskap.

“Ons kan nie salarisse verdien as ons leerlinge nie presteer nie.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!