Onderwys u2013 Mishandeling en aanspreeklikheid
Onderwys u2013 Mishandeling en aanspreeklikheid

Onderwys – Mishandeling en aanspreeklikheid

Godfrey Kleinhans – Gevalle van kindermishandeling het die afgelope jare teen ‘n kommerwekkende tempo toegeneem.

In die VSA is 2,2 miljoen gevalle in 1988 aangeteken met ‘n toename van 3% sedert 1987. In die gemelde periode het 5% van hierdie aanvalle op kinders in die dood geëindig.

‘n Groot persentasie van die gevalle vind op skoolpersele plaas, waar kinders ‘n aansienlike deel van hul lewens deurbring. Mishandeling op skool kan verskillende vorme aanneem.

Navorsing wys lyfstraf word steeds deur baie beskou as ‘n belangrike element van dissipline. Verder hoor en lees mens van kinders wat emosioneel geboelie en seksueel aangerand word, asook van die impak van kuberboelies.

‘n Gevallestudie in die VSA toon ‘n beraamde 10% van leerlinge word seksueel deur werknemers van die skool gemolesteer (verkragting ingesluit) voordat hulle die skool verlaat.

‘n Studie deur Patrick Burton en Lezanne Leoschut, getiteld School Violence in South Africa (2017), rapporteer kommerwekkende persentasies van leerlinge word fisiek deur onderwysers en medeleerlinge aangeval, bedreig, beroof en seksueel aangerand. Uit ‘n steekproef van 5 939 leerlinge was 1 188 aangerand en 290 seksueel gemolesteer en/of verkrag.

Op 3 Maart 2021 het Republikein berig oor ‘n voorval waarin ‘n onderwyser glo ‘n kind se kakebeen gebreek het. Die voorval is onmiddellik onder die aandag van die owerhede gebring en die ouers het ook ‘n saak by die polisie aanhangig gemaak.

Eers agt maande later sê die streekkantoor die ondersoek is afgehandel en dat ‘n dissiplinêre verhoor nou kan plaasvind. Die koerant sê nie wat die status van die strafsaak is nie.

Die in loco parentis-beginsel plaas ‘n regsplig op die skoolpersoneel om die statutêre en gemeenregtelike regte van leerlinge te beskerm. Goeie onderwys vereis egter ‘n netwerk van persone met uitlopende, maar intiem verbandhoudende verantwoordelikhede. Dit sluit in beleidmakers, die uitvoerders van beleid, monitors en evalueerders, skoolhoofde, onderwysers, ander personeel, skoolrade en onderwysfora.

‘n Inspekteur van onderwys moet naas klaskamerbestuur en bestuursaspekte wat te make het met personeel, finansies, leerlinge en bevoorrading ook let op die toestand van die fisiese fasiliteite. Oop mangate, ontblote elektriese drade en onversorgde ablusiegeriewe kan fisieke sowel as gesondheidsgevare vir leerlinge inhou.

Wanneer ‘n kind in ‘n mangat val of geskok word, is dit my mening dat ouers die siviele hof op grond van nalatigheid kan nader. Dieselfde geld waar leerlinge op die skoolperseel mishandel of verkrag word.

Die vraag is: wie is aanspreeklik? En ‘n mens wonder wat die regsposisie van die ministerie sal wees as verantwoordelike partye nie sulke pligte nakom nie?

Wat is die regsposisie van die ministerie as dit tot agt maande neem om ‘n ondersoek af te handel en nog langer vir dissiplinêre verhoor? Wat moet mens maak van die bewering dat die betrokke onderwyser nog in die koshuis woon?

Verder, wat sal die regsposisies van die toesighouers, naamlik die skoolrade en onderwysfora, wees in gevalle soos hierdie? En laastens, wat sê die breë onderwysgemeenskap?

Of laat hulle maar Gods water oor Gods akker loop?

Ons kinders kan beter beskerm word as almal in die netwerk hul verantwoordelikhede verstaan en van die gevolge bewus is.

[Die rubriek word opgedra aan oudonderwyser en skoolhoof, Joseph (Josh) Mc Kay, wat verlede week weens Covid-19 oorlede is. Josh was ‘n opgewekte mens met ‘n goeie humorsin wat altyd tyd gehad het vir ‘n bietjie gesels. Baie sterkte aan sy gesin, veral sy weduwee Maggies, wat ook in die hospitaal is met Covid-19. Rus sag Josh, ons sal jou mis).

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!