Onderwys - 'n Blaadjie uit Mandy Manning se boek
Onderwys - 'n Blaadjie uit Mandy Manning se boek

Onderwys - 'n Blaadjie uit Mandy Manning se boek

Dani Booysen
Godfrey Kleinhans - ‘n Professor het een keer toe ons meestergraadstudente was aan ons gevra waarheen ons ‘n vreemdeling sou verwys wat graag meer van Namibië se onderwysbeleid wou weet.

Die meeste van ons sou die persoon na die kantoor van die permanente sekretaris of die minister van onderwys in Windhoek gestuur het. Dit was natuurlik nie die antwoord wat die professor in gedagte gehad het nie. Ek het eers die volle omvang van die vraag en antwoord verstaan nadat ek die webjoernaal van die Amerikaanse onderwyseres Mandy Manning gelees het.

Mandy Manning is gebore in Portland in die staat van Oregon waar sy ook haar laerskoolloopbaan voltooi het. Hierna het sy ‘n middelbare skool in Kalifornië bygewoon en 'n hoërskool in Washington. Die onderwysgogga het haar eers gebyt nadat sy vir ‘n tyd in die Peace Corpse gedien het.

Haar onderwysloopbaan het begin by ‘n landelike skool in Texas, waarna sy na Spokane in Washington verhuis het. Daarna het ‘n pos in die Bronx in New York gevolg.

Hier het Mandy besef hoe negatief die howe, gesondheidsdienste en skole die lewens van swart kinders beïnvloed. Sy het soos die meeste onderwysers eers gefokus op die klaskamer en sy praktyke en was begerig om langs hierdie weg die lewens van kinders positief te verander.

Maar sy het ook besef dat nadat alle fasette van die klaskamer bemeester is, ‘n onderwyser hom of haar aan onderwysbeleid op plaaslike, staats- en federale vlak moet blootstel. Sy was daarvan oortuig dat onderwysers wat dit hul taak maak, besluitneming op hierdie vlakke positief sal kan beïnvloed.

Om hierdie idees behoorlik te vestig, het Mandy verlof geneem, deur Washington en die VSA gereis en onderhoude met onderwysers, administrateurs, wetgewers en onderwysaktiviste gevoer. Sy het al hoe meer bewus geraak van die verskille en ongelykhede tussen skole en was nou oortuig dat dit aangespreek kan word deur onderwysers te betrek.

Ek bly oortuig probleme in die Namibiese ondewysopset kan met ‘n “bottoms-up” benadering reggestel word.

Die verskille en ongelykhede tussen skole duur voort en dit lyk nie of dit spoedig deur die staat aangespreek sal kan word nie. Onwillekeurig duik die gedagte by my (en seker ook by ander mense) op dat die nuwe kurrikulum ‘n biejie oorhaastig en sonder die nodige konsultasie geïmplementeer is.

Tydens ‘n vergadering in een van die streke het ‘n inspekteur van onderwys daarop gewys dat die implementering van die kurrikulum onlosmaaklik is van voldoende koshuisakkommodasie. Die minister van finansies het gesê die regering het nie tans die geld om skole van koshuise te voorsien nie.

Ek het al daarop gewys hoe belangrik dit is om die breë skoolgemeenskap en skoolrade, waarvan onderwysers natuurlik belangrike lede is, te betrek. Hierdie liggame het toegang tot streeks- en nasionale besluitnemingsvlakke en kan beleidmaking sodoende beïnvloed.

In ‘n skrywe aan hierdie koerant wat oor misdaad onder ons leerlinge gehandel het, het ek gevra of dit nie tyd geword het dat die gemeenskap - waarvan onderwysers natuurlik lede is - die werklike adviseurs van die minister moet word nie.

In ons skole is vele onderwysers met unieke en verskillende ervarings wat die stelsel op verskillende maniere kan dien. Daar is ook ‘n klomp afgetrede onderwysers en onderwysadministrateurs met hope ervaring en kundigheid wat ‘n beteknisvolle bydrae kan lewer. My pleidooi is dat hierdie bronne gebruik moet word.

Terug na die vraag van die professor en die verhaal van Mandy Manning. Die vreemdeling wat meer wil weet oor onderwysbeleid moet na die skole verwys word. Daar vind implementering plaas; dit is daar waar die aksie is.

In 2018 het Donald Trump die VSA se nasionale onderwysertoekenning aan Mandy oorhandig. By hierdie geleentheid het hy onder andere gesê: “Teachers like Mandy play a vital role in the well being of our children, the strength of our communities and success of our nation.”

Soos die skrywer Henry Adams gesê het: ”A teacher effects eternity.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer