Onderwys - 'n Register vir oortreders
Godfrey Kleinhans - Na die beweerde verkragting van 'n skoolseun by die Jan Möhr Sekondêre Skool het een geestelike leier teenoor Republikein opgemerk daar is nog vele onderwysers wat hulle hieraan skuldig maak.
Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur het in 'n sterk bewoorde verklaring beloftes van streng optrede en zero-toleransie gemaak. Kinders se privaat- en publieke regte wat deur die Grondwet en gemenereg beskerm word, maak dit vir die ministerie moontlik om drasties op te tree. Die ministerie behoort die regsinstrumente effektief aan te wend om kinders te beskerm. Om gelukkig in die skool te wees en te leer, moet kinders veilig en geborge wees.
Die neiging van sommige leerkragte (gelukkig is hulle in die minderheid) om hulle aan kinders te vergryp, kan moontlik die nek ingeslaan of ten minste beperk word met 'n register vir seksoortreders. Die regstelsels in vele lande maak die byhou van so 'n register moontlik.
So 'n register moet voorsiening maak vir inligting oor die onderwyser sowel as oor kernaspekte van die hofsaak (en/of dissiplinêre verhoor) waarin die oortreder skuldig bevind is. Die waarskynlikheid is dan baie skraal dat so 'n onderwyser weer in die beroep aangestel sal word alvorens hy of sy gerehabiliteer is.
Die register moet gereeld op datum gebring word en gestuur word aan alle belanghebbendes, dit is streeksonderwysfora, streekkantore, skoolhoofde, skoolrade en ander rolspelers in die onderwyssektor. So 'n register het sonder wye publikasie geen waarde nie. Hierdie instansies, veral streekkantore, hoofde en skoolrade, behoort as hekwagte te dien wat moet keer dat oortreders "ongesiens" in die stelsel bly of dit binnekom. Hierdie instansies moet ook, sonder om heksejagte uit te voer, werk daarvan maak om ondersoeke te inisieer waar daar prima facie aanduidings van seksuele vergrype is.
Ons weet beleid is so effektief soos die implementering daarvan. Ons weet ook beleidsimplementering het al meermale misluk as gevolg van gebrekkige fondse, onbevoegde amptenare en onderwysers, gebrek aan beleidsamehang en politieke teenstand. Hierdie faktore vergroot die afstand tussen beleidverklaring en beleidsimplementering. Die formulering van beleid het in baie gevalle niks anders geword nie as politieke simbolisme.
Die sukses van 'n register vir seksoortreders sal bepaal word in hoe 'n mate implementering van die verklaarde beleid haalbaar is. Beleid oor so 'n register sal wyd bekendgemaak moet word en die nodige fondse vir implementering sal beskikbaar gestel moet word. Die nodige opleiding sal aan relevante instansies gegee moet word en konkrete stappe sal gedoen moet word om die register te laat werk.
Ons moet ook onthou 'n register is slegs 'n instrument in die bekamping van seksuele oortredings in die skool. Implementering sal bevoordeel word deur die aanstelling van 'n inspekteur, gestasioneer by die hoofkantoor in Windhoek, wat die register gereeld kan nagaan en vasstel of oortreders hertoelating verdien of nie. Natuurlik is die medewerking van die polisie, staatsaanklaers en onderwyserunies van deurslaggewende belang.
Les bes: Toesig by skole moet altyd van 'n baie hoë standaard wees. Die register neem nie hierdie verantwoordelikheid van die skoolhoof weg nie.
(Met vrug geput uit Jonathan Jansen se "Political symbolism as policy craft: Explaining non-reform in South African education after apartheid” uit 2004 en ander relevante inligting op die Internet).
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie