Onderwys: 'Niks in yster gegiet'
Onderwys: 'Niks in yster gegiet'

Onderwys: 'Niks in yster gegiet'

Leerlinge begin met die derde kwartaal wanneer hulle op 3 Augustus na skole terugkeer.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur pas aan en aanvaar ('adapt and adopt') die verwante riglyne namate die situasie met betrekking tot Covid-19 in die land ontwikkel.

“Ons het planne en opsies in plek. Ons sal baie graag en as dit veilig is leerlinge op 3 Augustus na skole wil laat terugkeer,” sê me. Sanet Steenkamp, uitvoerende direkteur in die ministerie.

Onderwysers keer vandag amptelik ná die grendeltyd na skole terug en het tot 11 Mei om by hul onder­skeie diensstasies aan te meld.

Op 'n vraag of dit beteken Namibië se skoolstelsel sal voortaan op 'n kwartaalbasis geskied, het Steenkamp beklemtoon “niks is in yster gegiet nie”.

“Ons word gelei deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste. As ons nie by die normale siklus kan hou nie, is daar bestaande beleidsrigtings en opsies,” het sy gesê.

Die ministerie het as deel van sy meesterplan om onderwys in die lig van Covid-19 weer op koers te bring vier opsies saamgestel. Die gewildste is vier kwartale wat op 3 Augustus begin en wat op 4 Junie aanstaande jaar eindig.

Die vier kwartale behoort volgens die meesterplan voldoende onderrig- en akademiese beplanning te bied en neem psigo-maatskaplike faktore in ag wat die pandemie op gemeenskappe, onderwysers en leerlinge gehad het.

Met verwysing na die terugkeer van personeel na skole en koshuise het Steenkamp beklemtoon dit is belangrik dat die onderrigproses met onderwysers as fasiliteerders moet voortgaan.

“Onderwysers moet toesien dat planne beraam en deurgevoer word. Dit sluit die leerproses en programme in.”

Sy het ook verwys na die tydperk totdat leerlinge terugkeer wat benut sal word deur die finansiering en ontwikkeling van die kapasiteit van onderwysers, psigo-maatskaplike ondersteuning, gesondheid en veiligheid, sowel as vakinhoud wat aandag sal geniet.



'GEBRUIK DIE TYD'

Met alle onderwysers wat nou weer by hul onderskeie diensstasies sal wees, sê Steenkamp daar kan gekyk word “hoe ek elke kind kan bereik” en hoe die kern van die leerplan met leerpakkette oorgedra kan word. Die moontlikhede van aanlyn onderrig sal ook verder ondersoek word.

“Dit is tyd wat betekenisvol gebruik moet word. Wanneer die skole op 3 Augustus open, kan onderwysers net hersiening doen en kyk hoe hulle die kinders kan deurhaal.”

Steenkamp het beklemtoon die ministerie is in “volgehoue gesprekke” met die kabinet en voorstelle en planne word deur MoHSS en gesondheidsaanwysers bepaal.

“Dinge kan verander; niks is in yster gegiet nie.”

Deel van die huidige planne tot met leerlinge se terugkeer, is om water by 193 skole te kry. Ook sluit dit die skoonmaak en ontsmetting van skole en koshuise in.

“Riglyne sal ingestel word met spesifieke funksies wat op alle vlakke moet gebeur. Dit sluit aankope in.” Met verwysing na laasgenoemde sê Steenkamp geld sal hiervoor vrygestel word. 'n Persentasie van die geld (10 tot 20%) moet in reaksie tot die Covid-19-pandemie gebruik word.

“Ons het die getalle van skole wat nie geld hiervoor het nie; geld sal egter aan hulle beskikbaar gestel word.” Steenkamp sê die tweede kwartaal moet voorts gebruik word om voorbereidings- en reaksieplanne voor te berei en te implemeteer. Skole heropen dus op 3 Augustus volgens Steenkamp met die aanvang van die derde kwartaal.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!