Onderwys – Ons moet uit krisisse begin leer
Godfrey Kleinhans - Onderwys gedy in lande met stabiele politieke-, ekonomiese- en gesondheidsektore en wat redelik vry is van natuurrampe.
Die Nordiese lande, Japan, Suid-Korea, Rusland en lande in die Verenigde Koninkryk is uitstekende voorbeelde. Maar erge politieke, ekonomiese en gesondheidsprobleme kan enige onderwysstelsel skade berokken en jare se herstel verg.
Ons gemeenskappe sukkel nou nog met die gevolge van apartheid – ook in onderwys. As die krisis weens Covid-19 vererger, is die toekoms duister. Kom ons glo en vertrou ons is nie ver van 'n oplossing nie; die hoop beskaam nie.
Daar is eenvoudig nie geld om onderwys behoorlik te onderhou nie, of onderwys is maar net een van die “speelplekke” van politici. Mense word in poste aangestel sonder inagneming van meriete terwyl die raad van kundiges soms geïgnoreer word. Soos Bob Dylan sing: “The answer, my friend, is blowin' in the wind . . .”
Skole word verwoes en word ontoeganklik vir onderwysers en leerlinge. Onderrig en leer raak onmoontlik.
Lande met disfunksionele stelsels wat aan die kenmerke voldoen (of voldoen het) is onder andere Somalië, Eritrea, Haiti, die Comore-eilande en Ethiopië.
Swak ekonomieë en binnelandse konflikte het onderwys in 'n krisis gedompel in Eritrea en Haïti, terwyl langdurige droogtes in Somalië sy tol geëis het. Die gebrek aan politieke legitimiteit, 'n onvermoë (of weiering) om die situasie te takel en weiering om afstand te doen van Engels as medium van onderrig het onderwys op sy knieë gedwing in Ethiopië.
Omdat onderwys in die lande langdurige krisisse ervaar het, was dit onmoontlik om uit die wurggreep van armoede te kom. Die ruïnering van staatskaste in talle Afrikalande herinner my aan die woorde uit die liedjie “Sixteen Tons”: “I owe my soul to the company store.”
Onderwys sal nie noodwendig ooit sonder probleme of krisisse wees nie. Ook onderwys in Suid-Afrika, wat hoog aangeskryf word in Afrika, is deurspek van probleme. Kinders is apaties, onderwysers word uitgedaag en onderwysfasiliteite afgetakel.
Sommige streke in Namibië het 'n ewige tekort aan klaskamers en ablusiegeriewe. Omgewingsfaktore het 'n negatiewe impak op die onderrig- en leerprosesse in tente en strukture van stokke en klei. Die waardigheid van baie kinders en onderwysers word aangetas deur die gebrek aan ablusiegeriewe terwyl baie skole sonder die nodige onderrigmateriaal en toerusting moet klaarkom. Koerante vertel gereeld van onderwysers wat hul aan jong dogters vergryp. Plaaslike owerhede dreig gedurig om dienste by skole op te skort.
Maar onderwys in Nambië is nog nie in 'n krisis nie?
Die wêreld sal altyd krisisse beleef; so ook onderwysstelsels.
Jaar ná jaar kla skoolhoofde en administrateurs in Namibië oor ouers wat nie aansoeke vir hul kinders betyds indien nie, 'n gebrek aan geld, te min klaskamers, te min handboeke en vele meer.
Almal gryp dan na een of ander vorm van krisisbestuur en kitsoplossings en die daaropvolgende jaar word dieselfde deuntjies weer gesing.
Dit is tyd dat ons begin onderskei tussen krisisbestuur, wat korttermynverligting bring, en strategieë wat deel is van die ontwikkelingsagenda. Covid-19 moet die eenvoudige les nou nog dieper by ons inprent.
Wanneer die stryd gewen is en die stof gaan lê, sal ons hierdie stukkie wysheid nodig hê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie