Onderwys - Oorvol skole verlam stelsel
Onderwys - Oorvol skole verlam stelsel

Onderwys - Oorvol skole verlam stelsel

Dani Booysen
Godfrey Kleinhans - Aldus Abraham Lincoln is die demokrasie ‘n regering van die volk, deur die volk en vir die volk.

Die Lincoln-definisie kom so reg uit die Griekse verstaan van demokrasie, naamlik ‘n regering deur die volk. Daar behoort min twyfel te wees dat die Namibiese Grondwet hierdie sort deelname op alle vlakke van die georganiseerde samelewing voorstaan.

Die doel van skoolrade in Namibië is om deelname van die breë publiek in die sake van skole te waarborg en om uitdrukking te gee aan die eksplisiete wense van skoolouers. Hierdeur word ‘n goeie basis vir volgehoue skoolontwikkeling gelê. Skoolrade kan dus die weg wees na kwaliteit onderwys en presterende skole.

Die ideale plek om onderwysbeleid te verken, is op implementeringsvlak. Dit wil sê by die skool.

Ek is oortuig ‘n benadering van onder na bo ("bottom-up") is die juiste weg. Dit is die vlak waarop skoolrade werk.

Hiermee negeer ek geensins die belangrikheid van die ander agentskappe in die onderwysministerie, soos beleidsvorming, implementering, evaluering en toesighouding nie. Skoolrade speel egter 'n besonderse rol.

Die opleiding van skoolrade het so ver ek onthou, gefokus op tersaaklike bepalings van die Onderwyswet en regulasies. Die twee regstukke sê baie oor die skool as organisasie, maar weinig oor die kwaliteit van onderwys.

Dit is waarom ‘n indeks van kwaliteit-aanduiders uiters nodig is. Skoolrade moet weet wat dit behels wanneer skole die verlangde vlak van kwaliteit bereik het en wanneer die “kwantiteit” bevredigend of voldoende is.

Kwaliteit het een van die sleutelwoorde in die moderne onderwysstelsel geword. Die staat het nie eksklusiewe reg kwaliteit onderwys nie. Dit is net so belangrik vir skoolgemeenskappe, die sakewêreld en naskoolse opleiding.

Ons strewe was vir baie jare om kinders te leer lees, skryf en somme maak. In die Suide het inspekteurs gepraat van “back to the basics”.

Hierdie doelwitte bly belangrik, maar die grense het nou verskuif na stabiliteit, vrede en naastebestaan, ingeligte besluitneming en ‘n redelike kwaliteit van lewe. Dit is ons wens vir elke individu sowel as vir gemeenskappe en sluit aan by wat Mary Joy Pigozzi in Towards an Index of Quality Education (2008) sê: “A quality education understands the past, is relevant to the present and has a view on the future”.

Maar, wat weerspieël die huidige werklikheid in skole in ontwikkelende lande?

Kwaliteitonderwys begin by die toelating van leerlinge ("access") tot 'n skool. Toelating kan kwaliteit benadeel. Die groeiende leerlingbevolking besorg skole jaarliks met groot uitdagings.

Aan die ander kant bevestig voortgesette probleme hiermee die vermoede dat onderwysdata wat jaarliks bekom word, nie behoorlik in toekomsprojeksies aangewend word nie. Oorvol klasse het die norm geword en onderrig en leer word ‘n “stryd om oorlewing”.

Aadministratiewe pligte van leerkragte het toegeneem, wat minder tyd vir onderrig en leer laat. Die leeromgewing is nie wat dit moet wees nie en die nypende geldtekort weerhou skole van die nodige bronne. Dit impakteer uiters negatief op die onderrig- en leerprosesse asook op die verhouding tussen onderwysers en leerlinge.

Kwaliteitonderwys veronderstel die onderwyser ken sy/haar leerlinge. Dit is noodsaaklik vir leerlinggerigte onderwys en individuele aandag. In skole met enorme getalle leerlinge en hoë onderwyser-leerling-ratio’s raak dit ‘n onbegonne taak.

Die onderwyser ken te min van sy leerlinge om profiele te skep wat hom of haar help bepaal hoe hulle leer. Die situasie word verder gekompromiteer deurdat alle onderwysers nie ten volle gekwalifiseerd is nie.

En, soos die leeromgewing onder druk kom, gaan skoolveiligheid en skoolhigiëne ook die kreeftegang. Die omvang van hierdie probleme, wat by toelating begin, word groot en onhanteerbaar.

Groter begrotings is nie 'n volhoubare oplossing nie. Ook nie die Amerikaanse uitdrukking om geld na skole te “gooi” nie. Namibië, soos ander ontwikkelende lande, het in elk geval nie genoeg geld nie.

Die besigheidswêreld stel nie juis belang om in ‘n onderpresterende sektor te belê nie. Ook daarom is dit noodsaaklik dat skoolrade vertroud raak met die aanduiders van kwaliteit onderwys, want dit sal hulle instaat stel om ingeligte besluite te neem en voorkomend op te tree.

Dan is die skoolraad 'n bemagtigde instansies wat die stryd kan aanpak.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!