Onderwys - Ouers moet sáám inspring
Godfrey Kleinhans
‘n Hele paar rubrieke van my het reeds gehandel oor die regte van kinders en veral oor die in loco parentis-leerstuk.
Die rubrieke hou verband met gevalle van lyfstraf, kinderverkragting, geweld op skoolgronde en ongeoorloofde verhoudings tussen onderwysers en kinders. Die Afrikaanse nuus op die DSTv-kanaal het juis Maandagaand berig oor ‘n kind wat by 'n kleuterskool aangerand is.
In Maandag se Namibian Sun sê Sanet Steenkamp, die ministerie se uitvoerende direkteur, 34 onderwysers het hulle na bewering skuldig gemaak aan ongeoorloofde verhoudings met leerlinge tussen 2010 en 2020. Onderwysers wat werksaam is by privaatskole wat nie deur die staat gesubsidieer word nie, is uitgesluit.
Die berig maak nie melding van selfde-geslag-verhoudings nie en ook nie van onderwysers wat strafregtelik vervolg is nie. 'n Mens kan ook nie die waarskynlikheid van seksuele intimiteit uitsluit nie. Onderwysers wat betrokke was by leerlinge jonger as 16 jaar kon van statutêre verkragting aangekla gewees het.
Dit is goed dat die ministerie stappe toon vermeende boosdoeners. Verhoudings tussen onderwyser en leerling is ‘n ernstige skending van die gedragskode vir onderwysers en daar kan geen sprake van "romanse" wees nie.
Kinders was nog altyd beskou as belangrike lede van enige gemeenskap. In die Bybel vind mens verskeie tekste wat hierdie stelling onderstreep.
Psalm 127 verwys na kinders as geskenke van God terwyl Salomo hulle in Spreuke 17 die trots van enige grootouer noem. Ons leer in die Ou Testament dat God kinderlose vroue soos Sara, Rebekka, Ragel, Hanna en Elisabet met spruite geseën het, en in die Nuwe Testament vermaan Jesus ernstig volwassenes wat kinders van hom wil weghou.
Wanneer kinders in Christelike kerke gedoop word, word ouers en peetouers herinner om hulle in die vrese van die Here groot te maak. Islam is streng oor die opvoeding van kinders en beklemtoon dat ouers (en seker ook volwassenes) ‘n aktiewe rol daarin moet speel. Dit word van lede van hierdie geloof verwag om alle vorme van geweld, diskriminasie en eksploitasie van kinders onmiddellik aan die relevante owerhede te rapporteer.
Kinders word ook sentraal geplaas in baie literêre werke, veral in die poësie. Die doyen van die Afrikaanse digkuns, Dirk Opperman, skryf die gedig "Negester en stedelig" terwyl sy vrou hul dogter, Trienke, verwag het. Die laaste strofe van die gedig bevestig die spreker se besorgdheid oor die toekoms van sy ongebore kind: “Watter kaart of watter ster sal ek jou wys om veilig deur die grysland heen te reis”.
Hierdie vraag behoort elke voornemende ouer of doopouer te vra.
Hierdie werk word as die grootste nalatenskap aan Opperman se dogter beskou. Kahlil Gibran voer dit ‘n bietjie verder en beklemtoon dat ons kinders vir ‘n kort tydjie aan ons “geleen” word. Dan praat hy direk met ouers: “You are the bows from which your children as living arrows are sent forth. The Archer sees the make upon the path of the infinite,
and He bends you with His might that His arrows may go swift and far.”
Die Groot Meester stel ons in staat om ons kinders te beskerm en reg op te voed.
Dit is hoog tyd dat ouers hulle verantwoordelikhede teenoor hul kinders nakom; nie net deur hul korrek op te voed en te versorg nie, maar ook te beskerm. Die skool is nie alleen hiervoor verantwoordelik nie.
Ouers, as julle te hore kom van sulke onbehoorlike verhoudings, doen iets. As die kind jonger as 16 is en daar is sprake van seksuele verkeer, lê ‘n klagte by die polisie.
Dit is tyd dat ouers die skool en ministerie bystaan en die booswigte aan die man bring. Al bedank hulle uit die onderwys, verhoed dit nie sulke optrede nie.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie