Onderwys - Regsaspekte in seksuele strafsake
Godfrey Kleinhans
Ons samelewing word georden deur wette wat op ‘n gereelde grondslag deur parlemente wêreldwyd aangeneem, gewysig of geskrap word.
Die logo by die ingang van elke hofgebou verbind voorsittende beamptes en ander amptenare tot die gebalanseerde toepassing van hierdie wette. Die geblinddoekte Justicia met die swaard in die een hand wat die skaal vashou, verseker besoekers aan die hof dat die reg sonder vrees, guns of voordeel toegepas sal word.
Dit is interessant om te sien hoe hierdie beginsels in seksuele strafsake hanteer word.
Uit applèhofsake wat ek geraadpleeg het, is dit duidelik dat die hof ewe veel waarde heg aan die privaatheid, gelykheid en waardigheid van die misbruikte kind en die oortreder. Omdat die laerhowe nie altyd die balans tussen die regte van die twee partye kon handhaaf nie, word heelwat beslissings en vonnisse van hierdie howe op appèl afgewys.
In die Staat teen Van Niekerk is ‘n onderwyseres daarvan beskuldig dat sy ‘n 15-jarige seun gemolesteer en met hom seksuele omgang gehad het. Sy is in die laerhof skuldig bevind en gevonnis. Op appèl is bevind dat die grondwetlike regte (privaatheid, gelykheid en waardigheid) van die onderwyseres nie behoorlik in ag geneem is nie. Die hof het ook bevind dat die ondersoek na die feite van die saak oppervlakkig en onvoldoende was.
In die Staat teen Marais kom die appèlhof min of meer tot dieselfde gevolgtrekking. Die hof beslis dat die laerhof gefouteer het deur meer waarde te heg aan die getuienis van die klaer. Verder sê die hof die laerhof moes ewe veel aandag aan waarskynlikhede as aan onwaarskynlikhede gegee het.
In die Staat teen Fhetani het Venda se hoërhof bevind dat die laerhof gesteun het op ‘n sinopsis van wat gebeur het sonder om werklike getuienis aan te hoor. Die beskuldigde kon ook nie ‘n prokureur bekostig nie en is bygestaan deur twee prokureurs wat deur regshulp aangewys is. Die hof het egter bevind dat hulle nie die beskuldigde behoorlik verdedig het nie. Die beskuldigde in die saak was lank in die tronk omdat hy nie die borgtog van R10 000 kon betaal nie. Die bedrag was volgens die hof onvanpas gegewe die finansiële vermoë van die beskuldigde.
In Vilakzi teen die Staat het die hof opnuut die belang van beskuldigdes se regte en die blootlegging van feite benadruk.
‘n Baie interessante saak het hom afgespeel in die hoërhof in Kenia. Twee laerskoolkinders, 12 en 13 jaar oud, is deur die adjunkhoof verkrag. Die hof het bevind dat die Teachers Service Commission net soveel skuld as die onderwyser moes dra omdat die kommissie hom aangestel het. Voldoende wetgewing om die verkragting van leerlinge te verhoed, is nie as genoegsame beskerming aanvaar nie. Die kommissie moes ook seker maak dat wetgewing behoorlik verstaan en toegepas word.
Nee - hierdie is geen pleidooi ten gunste van beskuldigdes nie. Daar is veel te leer uit hierdie beslissings.
• Eerstens is dit al die betrokkenes (onderwyser, vaardigheidsonderwyser, skoolhoof, onderwysowerheid en aanklaer) se verantwoordelikheid om te verseker ‘n behoorlike stel feite word geliasseer. Die ondersoek moet deeglik wees.
• Landdroste en aanklaers (asook onderwysers, skoolhoofde en amptenare) behoort deeglik opgelei te word vir sulke sake.
• Al die regte van die beskuldigde moet net soos die van die slagoffer gerespekteer en beskerm word, maar altyd opgeweeg word teen die publiek se reg om skole vry van seksuele oortredings te hou.
• Laastens moet onthou word dat die beskuldigde onskuldig bly totdat sy/hy skuldig bevind word na die voorlegging van betroubare en getoetsde getuienis.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie