Onderwys - Regstellings kom voor subsidies
Onderwys - Regstellings kom voor subsidies

Onderwys - Regstellings kom voor subsidies

Dani Booysen
Godfrey Kleinhans - In twee vorige aflewerings het ek breedvoerig oor privaatskole uitgewei.

Een van die rubrieke het veral gehandel oor die voordeel wat privaatskole vir die fiskus inhou. In sommige lande word vermoënde persone of groepe persone juis om hierdie rede aangemoedig om privaatskole te stig.

Verder is dit duidelik die dat die bestuur van bronne van privaatskole op ‘n effe hoër vlak is as die van staatsonderwys. Die omvang van sommige openbare onderwysprojekte is duidelik uit pas met die werklike behoeftes van gemeenskappe.

Die onlangse berig “Privaatskole dra miljarde by tot onderwys” het my na hierdie onderwerp teruggedwing.

Die Namibiese Privaatskole Organisasie (Napso) is van mening sy lede sal ten gronde gaan as die staat nie inspring met ‘n subsidie van N$2 600 per leerling vir die volgende klompie maande nie. Die motivering lui dat privaatskole die fiskus die enorme bedrag van N$833 miljoen per jaar spaar. Sonder bystand sal van die ouers hul kinders uit privaatskole moet onttrek en ‘n groot gros onderwysers en ander personeel se werk is op die spel.

Die argument mis ongelukkig die groter onderwysprentjie.

Eerstens bepaal die Grondwet dat enige peroon of groepe persone wat privaatskole stig dit uit eie sak moet doen. Die ministerie se destydse besluit om alle privaatskole te subsideer is na my mening nooit volledig gemotiveer nie en onderwysgemeenskappe is ook nooit geraadpleeg nie. Die ministerie het dit gedoen wetende dat daar onderwysgemeenskappe is wat al jare met nypende tekorte sit.

Ouers wat hul kinders uit staatskole onttrek het of besluit het om nie meer staatskole te ondersteun nie, het dit uit eie oorweging gedoen.

Van die beweerde beweegredes was, en is, ‘n afname in onderwyskwaliteit, agteruitgang van dissipline en beperkte sportgeleenthede en ‘n toenemende afname in die belangrikheid van godsdiens en ander geleenthede. As dit waar is, waarom het hierdie onderwysgemeenskappe nie saamgestaan en daarop aangedring dat sake verbeter nie?

In baie gemeenskappe in Suid-Afrika word die soort agteruitgang gestuit. Die oorsake van verrotting in ‘n gemeenskap moet eers in daardie gemeenskap gesoek, gevind en aangespreek word.

Napso weet tog gratis onderwys is ‘n hersinskim wat nog bewaarheid moet word. Ouers by staatskole moet nog steeds pa (en ma) staan vir skoolklere en sommige skoolbenodighede terwyl sommige skole, ten spyte van die verbod, voortgaan met skoolfondsheffings (net onder ‘n ander naam).

Vroëer hierdie jaar het ek met baie behoeftige ouers (huishulpe, skoonmakers, ens.) gesels wat groot bedrae geld hieraan spandeer. Covid-19 diskrimineer nie en baie van die ouers sit nou sonder ‘n inkomste.

Die verwoestende effek van Covid-19 raak geensins een groep meer as ‘n ander nie.

As oudskoolhoof weet ek baie besighede was in die ou dae maar te gewillig om skole van die “Blanke Administrasie” te borg en finansiëel te ondersteun terwyl skole van ander owerhede met krummels moes klaarkom. Ek het persoonlik verteenwoordigers van besighede by die laaste skool waar ek hoof was toegang tot die skool hieroor verbied.

Dit wil lyk of hierdie neiging om vermoënde en beter toegeruste skole te ondersteun veral na privaatskole oorgespoel het.

Napso verwys in hul betoog geensins na die heersende tekorte in staatskole nie. Talle skole moet klaarkom met nypende tekorte aan klaskamers, ablusie- en sportgeriewe, lopende water, laboratoria, biblioteke en leerlingakkommodasie. Leerlinge vorm kindergesinne of loop lang afstande om laasgenoemde gebrek te bowe te kom.

Een van die voorwaardes vir subsidies aan privaatonderwys was dat hulle ook kinders uit agtergeblewe gemeenskappe moet opneem. Hier praat ek nie van kinders uit gegoede buurte en gebiede nie, maar van belowende kinders uit die laer inkomstesegmente van gemeenskappe. Ek verwys na behoeftige kinders uit byvoorbeeld Havana, Hakahana, Empelheim, Ileni, Tseiblaagte, Benguela en Oosterheim.

Ek is nie onsimpatiek teenoor Napso nie. Ek is egter oortuig die staat het ‘n morele verantwoordelikheid om al hierdie regstellings te maak alvorens privaatonderwys gesubsidieër word.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer