Onderwys - Skole vorm ons kinders se aspirasies
Godfrey Kleinhans
My gereelde stapsessies, ek doen dit vir oefening, is gewoonlik in die rigting van die Keetmanshoop-lughawe.
Die roete is redelik besig vanaf vyfuur in die middag omdat die lughawe die meeste drawwers, stappers en fietsryers se draaipunt is.
Die ander dag ontmoet ek ‘n jong seun, ook op pad lughawe toe. Hy wou graag sien hoe die lughawe lyk.
Na ‘n rukkie van saamstap en gesels, vind ek uit dat hy van die gehuggie Blouwes is; in die laerskool daar gevorder tot graad sewe; is tans in graad 8 by een van die plaaslike hoërskole en woon by sy ouma.
Hy vertel my hy wens hy kan Mexico eendag besoek. Hy wou ook van my weet wat die koste van ‘n vlugkaartjie sou wees.
Die vraag het onmiddellik by my opgekom: In hoe ‘n mate help die skoolomgewing kinders om hul drome te verwesenlik?
Die skool, en wat daar gebeur, toon ‘n intieme verhouding met 'n mens se ontwikkeling; met die mens se vermoë om kennis en kundigheid te bekom en om na sy eie welsyn om te sien. ‘n Persoon se verbintenis met die skool as leerling strek normaalweg oor ‘n periode van 12 jaar, mits hy/sy nie herhaal of voortydig die skool verlaat nie. Die skoolomgewing speel dus ‘n bepalende rol in wat met elke persoon in die volwasse samelewing gaan gebeur.
Wat is die ideale skoolomgewing?
Die inspekteurs het vroeër jare gepraat van die skool se “inviting image”; die skool se voorkoms moet mooi, netjies en verwelkomend wees. Maar dit is beslis nie die somtotaal van die skoolomgewing nie.
Die skoolperseel moet ook veilig wees. Die leerlinge moet veilig voel in die gebou en die in loco parentis-beginsel (personeel wat die rol van ouers opneem) moet absoluut tot sy reg kom. Boelie, geweld en dwelms moet ten alle koste van skoolpersele gehou word.
Die klaskamer moet ‘n plek van onderrig en leer wees en leerlingdeelname moet aangemoedig word. Leerlinge se deelname in die bestuur van die skool moet verseker word deur hul toelating tot leerling- en skoolrade.
Die kommunikasie tussen skoolhoof, onderwysers en leerlinge moet effektief wees en leerlinge moet altyd weet wat die skool van hulle verwag. Die skoolhoof, onderwysers en lede van die skoolraad moet hulle rolle so vertolk dat dit maklik vir leerlinge is om hulle opdragte uit te voer en om hulle na te volg.
Die belangrikste van alles is konsekwentheid, inklusiwiteit, deursigtigheid en gelyke geleenthede vir almal.
Leerlinge by so ‘n skool voel geborge en veilig, is gelukkig en droom oor die toekoms. So ‘n skool is gewoonlik ‘n presterende instansie. Die slaagsyfer is hoog en die jaarlikse herhalingsyfer laag. Voortydige skoolverlating (dropouts) is minimaal en baie min jong seuns en dogters begin op ‘n vroeë ouderdom met seks eksperimenteer. Tienerswangerskappe is dus gering.
Droom ek waar ek nou sit en skryf in my studeerkamer?
Nee, dit is moontlik!
Maar dan sal ons ‘n stewige greep op ons onderwysstelsel moet kry. Ons sal weer moet kyk hoe ons onderwysers opgelei en aangestel word en ons gereeld vergewis van wat in ons skole aangaan. Ons sal veral meer tyd aan die uitbou van ons skoolhoofde se kapasiteit moet bestee. Baie belangrik, is dat ons indringend die totaliteit van die stelsel ondersoek.
Ou seun, mag jy eendag vir Mexico sien.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie