Onderwys - Skool en gemeenskap
Onderwys - Skool en gemeenskap

Onderwys - Skool en gemeenskap

Dani Booysen
Godfrey Kleinhans - By ‘n vorige geleentheid het ek gewys op die grondwetlike onderneming van die staat ten opsigte van basiese onderwys in Namibië.

Hierdie onderneming verkeer natuurlik altyd in wisselwerking met die verpligting wat op ouers rus. Van hulle word verwag om die kinders by ‘n skool van hul keuse te registreer en om te sorg dat die kinders betyds en gereeld opdaag vir skool. Dit is ook hulle verantwoordelikheid om toe te sien dat die kinders behoorlik gevoed is en in die voorgeskrewe skooldrag hul opwagting by die skool maak.

Verder word ook van ouers verwag om toe te sien dat hul kinders genoeg tyd aan huiswerk, skooltake en voorbereiding vir toetse en eksamens bestee, asook dat hul handboeke en skryfbehoeftes behoorlik versorg. Hierdie is maar ‘n paar verantwoordelikhede op die lys van ouers van skoolgaande kinders.

Dit is dus gebiedend noodsaaklik dat skoolouers reageer op kennisgewings en versoeke van die skool. Hierdie versoeke en kennisgewings het in die reël te make met die welsyn van hul kinders en die skool. Dit geld ook vir gevalle waar kinders moontlik by ernstige oortredings van skoolreëls betrokke is.

Die skool, aan die ander kant, is ook verplig om op ‘n verantwoordelike wyse en met die nodige empatie op vrae en versoeke van ouers te reageer. Baie ouers soek duidelikheid oor skoolbeleid en is nie altyd seker wat van hulle verwag word nie. Dit is noodsaaklik dat hulle met die korrekte antwoorde en inligting voorsien word. Hierdie wederkerige reaksie skep ‘n gesonde basis vir samewerking tussen ouers en skole.

Die bevordering van die welsyn van leerlinge en die skool is egter nie die eksklusiewe verantwoordelikheid van individuele ouers en gesinne nie. Ouers verteenwoordig slegs die kern van die skoolgemeenskap.

Die term skoolgemeenskap verwys kollektief na alle individue, groepe, besighede en instansies wat die welsyn van die skool ten doel het. Hierdie individue en groepe, naas die wat gesins- en familiebande met die leerlinge het, kan ook voormalige leerlinge (alumni), afgetrede skoolhoofde en onderwysers, besighede wat sake met die skool doen en graad twaalf-graduandi in diens neem, vrywilligers wat diens by die skool doen en sportafrigters insluit.

Deur hierdie begrip so wyd as moontlik te span, verkry die skool toegang tot ‘n magdom van kennis, begrip en insig in onderwyssake, kundigheid en vaardighede. Geld is natuurlik nie uitgesluit nie.

Die term skoolgemeenskap hou duidelike verband met gemeenskapsverwagtinge en gedeelde leierskap. Die algemene verwagting van die gemeenskap is dat die skool op alle vlakke goed moet presteer. Die gemeenskap stel baie belang in die skool se prestasies op die sportveld asook in die eksamenuitslae aan die einde van elke akademiese jaar. Die gemeenskap wil binne die demokratiese bestel graag deel hê aan die besluitnemingsprosesse wat die prestasievlakke van die skool na höer hoogtes kan voer.

Ouers het ook toegang tot menings van ervare, afgetrede onderwyspraktisyns in tye wanneer hulle probleme ondervind met halstarrige onderwysbestuurders.

Skoolhoofde behoort, soos reeds hierbo genoem, die net so wyd as moontlik te span. Die voordele is enorm!

Ouers behoort ook moeite te doen om individue en groepe te identifiseer wat ‘n belang by die skool het, om kontak met hulle te maak en daardie kontak te behou. Daar is mense binne die skoolgemeenskap wat hulle kan help met probleme by die skool.

Ouers het natuurlik ook toegang tot skoolrade en die streeksonderwysforums. Die doel van hierdie instansies is om onderskeidelik die ouers en die onderwysbelange in die streek te verteenwoordig. Meer oor hierdie twee uiters belangrike instansies in 'n volgende aflewering.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!