Onderwys - Toelating en koshuise
Toelating tot die onderwysstelsel is 'n basiese mensereg asook een van die belangrikste bepalings in die Namibiese Grondwet.
Toelating word egter baie keer bemoeilik deur die verspreiding en vestiging van mense in 'n land. Lande met lae bevolkingsdigthede en waar groot dele yl bewoon word, maak gebruik van verskillende toelatingsmodelle om kinders in die skool te kry.
Ek het in vorige aflewerings verwys na die peletonskool (twee skole wat dieselfde perseel gebruik), die huur van bykomende geboue en multi-graad onderwys.
Waar die staat nie daarin slaag om sy grondwetlike ondernemings na te kom nie, gryp gemeenskappe in en stig privaat skole of voeg strukture by tot bestaande staatskole. Tentskole bied soms kortstondige oplossings terwyl fietse, donkies, perde en motors gebruik word om kinders by die skool te kry. In landelike gebiede moet kinders soms etlike kilometers te voet aflê om by die skool te kom. In sommige lande soos die Verenigde State van Amerika maak die owerhede van busdienste gebruik.
Skoolkoshuise is 'n ou, beproefde model om toelating tot skole in baie wêrelddele te verseker.
Sommige van hierdie metodes is nie baie suksesvol nie, ander dra nie die gemeenskap se goedkeuring weg nie terwyl sommige uiters duur is. Ons leef egter in 'n ontwikkelende land, die bronne is beperk en die doel moet vir eers die middele heilig.
Die doel van koshuise is nie net om toelating vir verafgeleë leerlinge te bekom nie, maar om toegang tot effektiewe onderwys te verseker. Koshuise moet aldus 2014 se ouditeursverslag oor koshuise in Namibië 'n stimulerende leeromgewing vir die inwoners skep. Dit moet 'n aangename huislike omgewing wees; "home away from home" soos plakkate op sommige koshuismure dit uitbasuin.
My ervaring is dat sommige koshuise mens geensins aan 'n huislike omgewing herinner nie. Baie koshuise is deur leerlinge beskadig weens swak toesighouding en leerlinge word baie keer saans sonder enige toesighouding gelaat. Een keer het ek by 'n koshuis gekom waar leerlinge toegesluit was met geen toesighouer in sig nie. Dit was baie lank gelede en mens kan net hoop dat toesighouding oor die jare verbeter het.
Die verslag vermeld dat koshuise oor die lengte en breedte van die land in 'n swak toestand was; so erg dat 30% van koshuise gesluit moet word omdat hulle nie geskik was vir menslike inwoning nie. Veertig present van alle koshuise was in 'n erge toestand van verwaarlosing.
Wat erg ontstellend is, is dat die ondersoekers bevind het 80% van die aanbevelings wat 2014 se verslag voorafgegaan het, is nooit geïmplementeer nie. Verder verkeer mens onder die indruk dat die streeks-, skool- en koshuisowerhede nooit met kreatiewe oplossings vorendag kon kom om die probleme behoorlik aan te spreek nie.
Die riglyne in 2004 se koshuisgids is eenvoudig geïgnoreer. Dit terwyl die parlement N$124,2 miljoen vir koshuise goedgekeur het in daardie tyd.
Dit wil my voorkom asof koshuise vir baie jare 'n probleem vir die onderwysowerhede in Namibië was en nog steeds is. Op hierdie oomblik is daar nie 'n betekenisvolle aanduiding dat dit nie 'n kopseer is nie; dit word bevestig deur die nagmerrie scenario's wat in die SMS-kolomme van die dagblaaie geskets word.
Die operasionalisering van koshuise verwag dat die belastingbetaler sy hand diep in sy sak moet steek terwyl baie skole met koshuise nie waffers presteer nie. Weereens wonder ek of die belastingbetaler waarde vir sy geld kry.
Die oplossing is tweërlei. Eerstens vra die effektiewe bestuur van koshuise 'n baie noue en intieme samewerking tussen skool en koshuis. Die koshuis moet inskakel by die program van die skool terwyl die skoolbestuur nie die koshuis moet oordonder met sy versoeke nie.
Tweedens is dit gebiedend noodsaaklik dat effektiewe toesighoudingsprogramme deur die superintendent en die koshuiskomitee daargestel word en deur die skoolbestuur ondersteun word. Sodanige programme moet natuurlik ook deur die verantwoordelike inspekteur van onderwys en die onderwyskantoor ondersteun word.
Zero-toleransie vir oortredings is 'n uitstekende strategie om dissipline by koshuise te bevorder.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie