Onderwys - Tyd vir diep dink, en vir fyn beplan
Onderwys - Tyd vir diep dink, en vir fyn beplan

Onderwys - Tyd vir diep dink, en vir fyn beplan

Dani Booysen
Godfrey Kleinhans



Sedert die aanvang van die corona-pandemie het baie stories op sosiale media die lig gesien.

In 'n onlangse videogreep voorspel iemand, wat glo aan die universiteitskollege van Dublin verbonde is, dat mense wat die anti-Covid vaksine neem se lewensverwagting geweldig ingekort sal word. Sy voorspel dat mense ouer as 70 binne vyf jaar sal sterwe. Verder het sy te vertel dat 50 miljoen Amerikaners wat die vaksine neem, sal sterwe.

Mens wag verniet vir die wetenskaplike bewyse vir hierdie aannames.

'n Mens soek ook tevergeefs na wetenskaplike bewyse dat die vaksine sekere siektes veroorsaak.

Die gebruik van erkende universiteite se name is geen waarborg van geloofwaardigheid nie. Die toename in fopnuus, veral versprei deur middel van sosiale media, het regerings genoop om dit te kriminaliseer.

Navorsing het reeds hierdie tipe aannames as kaf afgemaak. Futuristiese navorsing in die mediese, ekonomiese en onderwyssektore begin nou fokus op die verwagte impak van Covid-19 op ons toekoms. Leiers sal van die navorsing kennis moet neem om ingeligte beleidsbesluite te neem.

Eerstens is dit vir navorsers duidelik dat die Internasionale Monitêre Fonds sowel as nasionale onderwysowerhede met minder geld tevrede sal moet wees. Baie lande sal beplanning en beleid moet aanpas om effektief te wees. Ontwikkelende lande sal al minder ondersteuning van internasionale skenkers en organisasies kry.

Miljoene kinders sal dalk nie na skole terugkeer nie. Onlangs het onderwysowerhede in Suid-Afrika aangekondig 'n half miljoen kinders het die skool verlaat. Verlede week het die getal verder gestyg. Dit sal uiters moeilik wees om sulke kinders in die sisteem terug te kry.

Verliese aan onderrigtyd en die onvermoë om deel te neem aan tuisonderrig sal na verwagting tot 'n toename in ongelykhede lei. Radio en televisie kan nie regtig die klaskamer en onderwyser vervang nie.

Veral in Afrika het baie ouers, voogde en versorgers nie die akademiese kapasiteit om kinders tuis te help nie. Met die hoër inkomstegroepe sal dit voorspoedig gaan, maar met die laer inkomstegroepe maar beroerd. Hierdie groepe in stede, dorpe en landelike gebiede sal die hardste getref word.

Die prentjie oor aanlynonderrig vertroebel die situasie nog verder. Baie huishoudings beskik nie oor slimfone en rekenaars nie en/of kan eenvoudig nie Wi-Fi en data bekostig nie.

Die skeidslyne is duidelik: inkomste, ras, gebrekkige ervaring in aanlynonderrig en groot behoeftes in landelike gebiede.

Toegang tot tuis-en aanlynonderrig sal groei, maar teen 'n baie stadige pas - terwyl kwesbare groepe die spit moet afbyt.

In baie lande is met eksamens voortgegaan ten spyte van waarskuwings. Hier benadeel dieselfde verskille kinders uit sekere agtergronde. Vir baie van hulle sal die toekoms troebel bly; die gaping tussen hul vermoëns en prestasies sal voortduur en hulle sal nie hul regmatige plek in die samelewing kan inneem nie.

Daar lê 'n moeilike tyd vir privaatskole voor, wat swaar deur die pandemie getref is. Die staat kan nie noodwendig onderwysers aanstel wat hul werk verloor het nie en kan dalk ook nie 'n massaverskuiwing van kinders van privaatskole na staatskole bekostig nie.

Pakistan se vereniging van privaatskole soek tans 'n reddingspakket van die staat om 207 000 skole, 1,5 miljoen onderwysers en 25 miljoen kinders te ondersteun.

Ons sal baie diep en buite die boks moet dink om te verhoed dat ons 'n hele geslag kinders vir die wolwe gooi.

(Lees gerus Shelby Carvalho and Susannah Hares se "Six Ways COVID-19 Will Shape the Future of Education".)

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!