Onderwys - Van dag een 'n prioriteit

Dani Booysen
Godfrey Kleinhans - Onderwysvoorsiening in ‘n gekoloniseerde Afrika was elitisties en daarop gemik om die belange van uitgesoekte gemeenskappe te dien. Onderwysvoorsiening vir inheemse gemeenskappe in kolonies moes klaarkom met uiters beperkte begrotings, te min skole en klaskamers en onderwysers met beperkte opleiding.

Dit herinner mens aan ‘n uitspraak van HF Verwoerd, minister van naturellesake in die destydse Unie van Suid-Afrika (later eerste minister van die Republiek van Suid-Afrika), oor onderwys vir swart gemeenskappe: “. . .education must train people in accordance with opportunities in life.”. Onderwys vir swart mense moes geskoei word op die ekonomiese aktiwiteite waartoe hulle toegang gehad het, aldus Verwoerd. En die geleenthede was uiters beperk.

Nadat Afrika haar vryheid teruggewen het, was lidlande se eerste prioriteiteit om hul onderwysstelsels reg te ruk. Onderwysstelsels in lae-inkomste lande in Afrika en Asië het bo fiskale vermoëns uitgebrei. Die regering van Namibië, soos in die in die res van Afrika, het ewe ambisieuse planne van stapel gestuur om onderwys te normaliseer en reuse-agterstande en ongelykhede uit te wis.

Regstelling en normalisering het begin met die aanvaarding van die Grondwet. Die Grondwet waarborg onderwys vir kinders tot en met graad sewe of die ouderdom van 16 jaar, wat ookal eerste mag kom.

Twee belangrike verpligtinge is volgens oudpres. Sam Nujoma in sy voorwoord tot Toward Education for All (1993) geskep. ”Parents has a duty to ensure that children attend school . . . Government has a corresponding duty to provide schools, teachers and all necessary facilities.” Artikel 54 van die Onderwyswet en die toepaslike regulasies wei uit oor die praktiese aspekte van toelating.

Die taak om die onderwysstelsel te normaliseer en agterstande uit te wis, was ontsaglik groot. Die meegaande tabel illustreer die omvang van die taak en die erns waarmee die regering dit aangepak het.

Die druk op die staatskas was enorm. Die toename in leerlinge sedert 1989 (die laaste statistiese opname van die ou bedeling) tot en met 2015 was meer as 45%. Meer as 23% van die begroting is vir baie jare aan onderwys bestee. Die verbetering van die kwalifikasies van ‘n groot gros onderwysers het bykomende druk op die begroting geplaas.

Agterstande is egter nog nie uitgewis nie en koerante rapporteer jaarlikse oor kritieke tekorte. Volledige skole, meer klaskamers, ablusiegeriewe, meubels, laboratoria en toerusting word steeds benodig.

Sommige skole het enorme groot klasse en bestaande koshuise kan nie in alle behoeftes voorsien nie. Tente dien soms steeds as klaskamers.

Die gebrek aan geld word jaar na jaar die skuld gegee terwyl ouers ook deel van die blaam moet dra dat hulle nie hul kinders betyds vir die nuwe skooljaar registreer nie. Die nuwe leerplan word ook nie van alle blaam vrygespreek nie, terwyl dit lankal bekend en deel van die ontwikkelingsplan is.

Voortgesette tekortkominge dui op ‘n gebrek aan inisiatief en kreatiewe denke, gebrekkige kennis oor alternatiewe strategieë en gebrekkige beplanning om probleme aan te spreek. Ons sal nog vir baie jare met begrotingstekorte moet saamleef. Ander oplossings is dus nodig.

Die denke van besluitnemers, veral op streeksvlak, sal radikaal moet verander. In die neëntigerjare het onderwysstreke in die Noorde gereël dat skoolbeginners se opnamejaar met een jaar uitgestel word om plek te maak vir ouer leerlinge in die hoër grade. Dubbelskof-skole ("platoon schools") is nog ‘n strategie wat nuttig aangewend kan word, mits dit effektief bestuur word. Baie dorpe het geboue wat leeg staan of onderbenut word, wat gehuur kan word.

Maar die belangrikste is ‘n rasionaliseringsplan vir elke streek, wat ‘n reusebydrae kan lewer tot die effektiewe gebruik van fasiliteite en die versekering van kwaliteit onderwys.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!