Onderwys - Wees bewus van boelies
Onderwys - Wees bewus van boelies

Onderwys - Wees bewus van boelies

Dani Booysen
Vroëer hierdie jaar het ons skool­veiligheid bespreek.

Twee videogrepe op Facebook het my weer na die onderwerp teruggedwing en hierdie keer spesifiek na boelies.

Skoolveiligheid behels 'n hele reeks onderwerpe, soos fisieke veiligheid op die skoolperseel, die boelie van leerlinge deur ander, gewelddadige dissiplinering van leerlinge deur onderwysers, wat lyfstraf insluit, skoolhigiëne, swak beligting van klaskamers en ongeskikte ameublement, onbehoorlike verhoudings tussen onderwysers en leerlinge, tienerswangerskappe, seksuele vergrype onder leerlinge en aanvalle deur leerlinge op leerkragte. Aanvalle op leerlinge van 'n meer sielkundige aard, byvoorbeeld beledigings, kwetsende woorde en wilde aannames deur onderwysers, word nie uitgesluit nie.

Jare gelede het 'n leerling tydens 'n ondersoek getuig dat die skoolhoof sou gesê het dat dit duidelik was dat sy al seks gehad het. Soms is skoolhoofde en onderwysers boelies sonder dat hulle 'n lat of plathand lig. Wat almal egter binne 'n skoolgemeenskap moet verstaan, is dat onderrig en leer slegs kan gedy waar leerlinge veilig en geborge voel.

Toe ek in standerd drie (graad vyf) was, het 'n medeleerling ongesiens en sonder my medewete my hare met 'n skêr geknip. Hy het die agterste hare bygekom en dit so sagkens gedoen dat ek niks agtergekom het nie. Ons onderwyser, wat dit gesien het, het hom toe 'n deeglike loesing gegee. Daardie middag moes ek uit die water staan; hy wou die pakslae wat hy verdien het op my uithaal. Dit is 'n tipiese handboekgeval van die boelieverskynsel op skool.

In een van die videogrepe waarna ek hierbo verwys, word een leerling deur 'n groep in die ablusiegeriewe van 'n skool vasgekeer, sy bril van sy gesig verwyder en hy word wreed aangerand. Hulle het hom vir 'n geruime tyd geklap, met die vuis getakel en geskop. Ek is seker dat die gelag, gejou en gehoon deur die omstanders die geweldenaars aangehits het, maar juis dít het die aanval vir die slagoffer nog meer vernederend gemaak.

In die tweede videogreep het twee skooldogters (steeds in hul skooluniform) 'n onderwyseres na skool aangerand. Die onderwyseres het glo een se selfoon tydens 'n lesuur afgeneem; iets wat toelaatbaar was ingevolge die skoolrëels.

Beide hierdie gevalle het in Suid-Afrika plaasgevind. Dagblaaie in Namibië het ook al heelwat boeliegevalle op die skoolgrond vermeld.

Boeliegedrag op skool is 'n uiters komplekse verskynsel en skoolpersoneel moet weet wanneer hulle daarmee te make het. Dit is beslis nie 'n eenmalige woede-uitbarsting nie en gaan gepaard met intense aggressie. Dit kan plaasvind met die minste provokasie en kom herhalend voor. In die meeste gevalle is die aanvaller groter en sterker as die slagoffer. In baie gevalle val boelies in groepe aan. Dit is uiters nadelig vir die slagoffer en kan eindig in vroëe skoolverlating. Aangetekende gevalle toon dat onderwysers wat die slagoffers is, die skool of die beroep verlaat.

Die oorsake is kompleks en het gewoonlik te make met faktore ver buite die beheer van die skool. Ek is van mening die verskynsel kan tot die minimum beperk word deur effektiewe leerlingbestuur. Leerlinge moet so min as moontlik sonder toesig wees en veral die ablusiegeriewe moet gereeld gemonitor word. Leerlingbestuur kan natuurlik huisbesoeke ook insluit. Hier leer die onderwyser die leerling in sy natuurlike "habitat" ken.

Namibiese onderwysowerhede het die Safe School Framework in 2018 vrygestel en mens kan net hoop dit sal 'n demper op die verskynsel plaas.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!