Onderwys - Wu00e9u00e9r: Die belang van die kind
Onderwys - Wu00e9u00e9r: Die belang van die kind

Onderwys - Wéér: Die belang van die kind

Dani Booysen
‘n Onderwyser aan ‘n hoërskool in Windhoek word daarvan beskuldig dat hy ‘n 19-jarige leerling op die skoolperseel verkrag het.

Die beweerde verkragter het kort voor sy inhegtenisneming glo sy bedanking ingedien. Hy is nou in die hande van die polisie en die hof sal oor sy lot beslis.

Maar die trauma sal nog vir lank by die seun spook.

Die verkragting van kinders, sowel as jong dogters wat swanger raak by onderwysers, is nie vreemd by sommige van ons skole nie. Hierdie wandade is egter nie welkom in skole nie en ek het stilweg gehoop die onderwysministerie hanteer die aangeleentheid absoluut korrek.

Die verkeerde hantering kan daartoe lei dat beskuldiges op grond van regstegniese punte loskom of dat die proses onnodig vertraag word. Die waarnemende streekdirekteur van Khomas het verseker die reg sal sy volle gang gaan, maar die kind hoef volgens my nie self 'n klag aanhangig te maak omdat hy nie meer minderjarig is nie. Verwarring hieroor kan veroorsaak dat sulke wandade nie onder die aandag van die polisie kom nie en verdagtes nooit aan die man gebring word nie.

Gemeenskapsbelang vereis dat alle wandade onder die aandag van die owerhede kom. Wanneer ‘n gegriefde persoon (ongeag ouderdom) om een of ander rede nie by die polisie kan of wil uitkom nie, kan die plig deur enige ander persoon nagekom word. Byvoorbeeld 'n streekdirekteur, 'n inspekteur, skoolhoof, enige onderwyser, 'n lid van die skoolraad of enige ander personeellid - en hierdie lysie is nie uitgeput nie.

Mistasting kan veroorsaak dat verdagtes en/of beskuldigdes nie verplig word of verplig voel om die skoolperseel en teenwoordigheid van leerlinge te verlaat nie. In 'n geval in die //Kharasstreek is die betrokke leerkrag nie geskors nie. Daar is aangevoer 'n hof moet haar eers skuldig bevind.

Die beginsel van onskuld tot die teendeel bewys is, is nie ‘n absolute reg tot die beskikking van beskuldigdes nie. Sulke onderwysers kan huis toe gestuur word met behoud van volle betaling en voordele, maar hulle moet van die perseel verwyder word.

Die trae pas waarteen skole en die ministerie dikwels sulke gevalle hanteer, is onaanvaarbaar. Na bewering kla leerlinge al sedert 2013 oor die onderwyser se gedrag. Die destydse skoolhoof het glo klagtes amptelik by die ministerie gerapporteer, maar blykbaar is daar nooit op verdoemende getuienis gereageer nie. Van ander klagtes het volgens Republikein ook dadels gekom.

Ek glo nie in die rokie-en-vuurtjie-storie nie en glo nie dit hoort in die beroepswêreld nie. Maar soms is dit belangrik dat ons die vuurtjie vind.

Ons kan nie ernstig oor die belange van ons kinders wees as ons sulke wandade ongesiens laat verbygaan nie. Onderwysers wat hul plig versuim, moet aangespreek of waar nodig selfs vervolg word. Siviele eise kan selfs teen die ministerie ingedien word.

Die onderwysreg het vir baie jare aan die agterspeen gedrink. Waar dit wel by universiteite aangebied word, word dit as ‘n deel van onderwysbestuur beskou. Na my mening is dit geensins genoeg nie en daar is ‘n duidelike behoefte vir indiensopleiding oor die belang, reëls en toepassing van die onderwysreg.

Die skool behoort ‘n veilige hawe vir kinders te wees. Toesig oor hulle en die skep van ‘n veilige omgewing moet die ideaal verwesenlik. Volgende keer kyk ons na ‘n paar aktuele hofbeslissings en resente regsartikels.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!