Onderwyser, hoenderteler en granaatboer

Tanja Bause
Tanja Bause – Op ’n plot buite Outjo is 2 100 granaatbome wat vanjaar hul eerste oes opgelewer het.

Mnr. Chrisman Stander en sy vrou, Trudie, het drie jaar gelede besluit om bome op hul plot te plant. Aanvanklik het hulle suurlemoenbome oorweeg. “Een oggend sê ek vir Trudie ons moet neerskryf watter bome elkeen van ons graag sou wou plant. Snaaks genoeg wou ons albei granaatbome hê. So gesê, so gedaan,” sê Stander.

Drie jaar gelede het hy die “Wonderful”-granaatvariëteit vanuit Suid-Afrika gekoop, ingevoer en geplant.

“Ek het navorsing gedoen en vinnig besef daar is nie ’n groot mark in Namibië vir granate nie. Maar nou, drie jaar later, lyk die prentjie heelwat anders en ek oorweeg om nog bome te plant.”

Ná sy besending van 2 100 bome op die plot aangekom het, het Stander begin gate grawe en waterpype aangelê.

“Ek en my vrou het elke boom self geplant. Ons kon elke dag sowat 60 plant. En nou het ons uiteindelik ons eerste oes. Volgende jaar verwag ek ’n oes van tussen 30 tot 40 ton vrugte,” sê hy.

’n Deel van die eerste oes is as heel vrugte verkoop terwyl die res versap is.

“Die sap word met die hand verwerk en dus kan ons sê dit is 100% natuurlik en handgemaak. Ons het ook besef Namibiërs hou nie daarvan om self die vrugte te skil en die pêrels uit te haal nie. Ons sit dus in die aande by die huis en skil vrugte. Die pêrels word dan in bakkies verpak en verkoop.”

’n Geoesde granaat word nie verder ryp nie en kan vir meer as drie maande gebêre word. As dit in die yskas is, kan dit tot nege maande behoue bly. “Die skil krimp en raak verrimpeld, maar die pêrels binne is kraakvars soos die dag wat dit geoes is.”

Volgens Stander is daar 24 granaatvariëteite beskikbaar. Hy het op “Wonderful” besluit omdat dit baie gesog is in Europa en hy graag sy oeste daarheen wil uitvoer.

“Die man in Suid-Afrika waar ek my bome gekoop het, voer na Europa uit. Ek dink daaraan om nog bome te plant sodat ek ook kan uitvoer. Maar ek moet eers ’n groot genoeg oes oplewer om ’n vraghouer vol te maak om dit die moeite werd te maak. As daar nog boere in die land is wat daaraan dink om granate te plant, kan ons saam uitvoer.”

Stander en sy vrou is oorspronklik van Suid-Afrika. “Ons was albei onderwysers in Witbank toe ons deur mnr. Jan Oelofse van Mount Etjo genader is om vir sy neef skool te kom gee. Hy het ook twee onderwysers vir sy plaasskool gesoek. Dit was 23 jaar gelede.”

Die egpaar het die laer- en hoërskool vir agt jaar bestuur en vir die kinders onderrig gegee.

Na ’n kort tydperk by die kus, het hulle 11 jaar gelede Outjo toe getrek om by die Privaatskool Moria aan te sluit.

Benewens die granaatbome, boer Stander ook graag met hoenders. Hy het op die oomblik sowat 1 500 “fancy” hoenders en 500 slaghoenders. “Die ‘fancy’ hoenders was aanvanklik ’n stokperdjie wat nou geld inbring,” sê hy. “Hulle is mooi en lê eiers, maar word nie geslag nie. Ek skou met hulle en verkoop van hulle aan ander entoesiaste.”

Stander is een van die min telers wat die baie raar “Swedish Black of Goth”-hoenders aanhou. Dié hoenders is heeltemal swart – selfs hul vleis ook.

Stander is ook die enigste een wat met die Russiese Pavlovski-hoenders boer.

Hy het besluit om slaghoenders aan te hou omdat hy nie meer winkelhoenders wou eet nie.

“Ek het navorsing gedoen en die eerste kuikens gekoop. Binne 42 dae het ek die eerstes verkoop en die woord het vinnig versprei. Toe ek weer sien, het ek ’n paar honderd in ’n maand verkoop.”

Hy vertel hy het met die hoenders begin boer omdat hy geld nodig gehad het vir die granaatboerdery.

Stander teel en verkoop ook papegaaie.

Diegene wat in “fancy” hoenders of papegaaie belangstel of inligting oor granaatbome soek, kan Stander by 081 308 4956 kontak.

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer