u2018Onderwysers nie politieke samboku2019
u2018Onderwysers nie politieke samboku2019

‘Onderwysers nie politieke sambok’

Augetto Graig
Augetto Graig - Die Namibiese Onderwysers­unie (TUN) sal nie toelaat dat onderwysers as sambokke gebruik word om dié wat ander siens­wyses huldig, te piets nie
Dít was die boodskap van die adjunkpresident van TUN, mnr. Ndjizuvee Haakuria, eergister aan die ministerie van onderwys, kuns en kultuur. Hy het die ministerie daarvan beskuldig dat dit onderwysers probeer gebruik om ’n politieke pak slae aan uitgesproke aktiviste ná verlede week se massa-optog in Windhoek te gee.
Dit volg nadat onderwysers wat nie op 16 Junie, die Dag van die Afrika-kind, skool toe gegaan het nie, om verlof moet aansoek doen.
Volgens hom was die opdrag dat onderwysers op dié dag by skole moes aanmeld om die dag daar te vier, teen die wet. “As onderwysers in die land is ons onder geen verpligting om onwettige opdragte te gehoorsaam nie, of dit nou van die permanente sekretaris of die ministerie kom,” sê hy.
Boonop wil Haakuria weet om watter tipe verlof aansoek gedoen moet word as daar op ’n vakansiedag vir skole, nié skool toe gegaan is nie. “Dis asof hulle ons wil omskep in onvoorwaardelike morone!”
Haakuria sê die ministerie het dié dag verwarring geskep deur botsende opdragte te gee. Hy sê eers is ­onderwysers laat weet dat hulle vier weke voor die tyd toestemming moet vra vóór enige motiveringsprekers ’n skool mag besoek, maar ’n week voor 16 Junie is hulle weer laat weet dat hulle sprekers moet nooi om op dié dag met leerlinge te kom praat.
“As iemand gepiets moet word, kan onderwysers nie daarvoor gebruik word nie. Skole kan nie vir politieke opportunisme gebruik word nie,” sê die vakbondleier.
Die vakbond doen nou ’n beroep op alle onderwysers wat gevra is om om verlof aansoek te doen, om hom eers te kontak en om geen verslae te skryf of enige dokumente in dié verband te onderteken voor hulle nie ­terugvoering van TUN gekry het nie. Volgens Haarukia stem die ander vakbond, die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu) hiermee saam.
Dit was maar een van ’n lys klagtes teen die ministerie waaroor die vakbond keel skoongemaak het. Dit het ook gekla dat skoolhoofde nie dieselfde voordele as inspekteurs geniet nie, ten spyte van die feit dat albei graadklassifikasie ten opsigte van vergoeding het.
Net die inspekteurs geniet behuisings- en vervoertoelae. Boonop dien sekere skoolhoofde as gesamentlike hoofde vir skole wat gegroepeer is sonder om enige ekstra vergoedig te ontvang. Die ekstra werk wat die hoofde moet doen, is ’n swaar las, sê hy, en om te verwag dat die skoolhoofde die werk gratis moet doen, is onregverdig. “Dit is ’n klasieke geval van uitbuiting op ’n daaglikse grondslag,” sê hy.
Onderwysers wat ook nie betaal word vir die merk van eksamenvrae­stelle by hul skole nie, is nog ’n voorbeeld van dié soort uitbuiting, sê hy, veral omdat diegene wat op ander plekke merk, wel betaal word. Ook die kwessie van ondergekwalifiseerde onderwysers wat net een jaar kontrakte kan onderteken wat verhoed dat hulle verder kan studeer of bates aanskaf, is ook ’n probleem vir die vakbond.
Laastens kla hy ook oor vertraagde antwoorde en reaksies deur die ministerie en die permanente sekretaris se kantoor op klagtes en arbeidsgeskille. Die vakbond eis dat terugvoering binne minstens 12 maande gegee moet word. Die permanente sekretaris, me. Sanet Steenkamp, het gesê haar kantoor sal mettertyd ’n omvattende reaksie op die klagtes aan die media stuur.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!