Onderwysministerie
Onderwysministerie

Onderwysministerie

Nasionale eksamens is onderhewig aan vereistes en standaarde van Cambridge International.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Sou leerlinge voortgegaan het om eksamens van uitgelekte vraestelle te skryf, sou hulle sonder ‘n erkende en geakkrediteerde kwalifikasie wees.

Dié kwalifikasie sou van nul en gener waarde wees.

Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur het verlede week die eksamens vir die senior sekondêre sertifikaat (NSSCO) gewone vlak vir graad 12 sowel as dié vir gewone vlak graad 11 summier opgeskort en tot aanstaande jaar uitgestel.

Altesaam 32 vraestelle word nou eers in Januarie 2022 geskryf.

Die NSSCO-kwalifikasie is ‘n internasionaal erkende kwalifikasie wat deur Cambridge Assessment International Education erken word.

Volgens die ministerie het dit ‘n regsbindende kontrak met Cambridge International om te

waarborg kredietwaardige eksamens vind plaas wat lei tot die toekenning van kwalifikasies wat deur Cambridge aanvaar word.

Die kontrak stipuleer sekere standaarde moet gehandhaaf word vir die instansies om die kwalifikasie te sertifiseer.

Volgens die ministerie was hulle aanvanklik van mening en in konsultasie met Cambridge sou die uitlek van vraestelle in die streke beheer kon word, sou die herskryf nie nodig wees nie en interne beheermaatreëls en ondersoeke sou gebruik word.

‘n Ondersoek het egter aangedui dit kon nie net tot ‘n spesifieke sentrum, skool of streek beperk word nie.

Die ministerie en Cambridge – gelei deur die standaarde van die akkreditasie-ooreenkoms – het ‘n besluit geneem dat die geraakte vraestelle in spesifieke vakke herskryf moet word.

“Die omstandighede waaronder eksamens geskryf moet word, sowel as die standaarde waaraan dit moet voldoen, word duidelik in die ooreenkoms uitgestip. Die besluit van Cambridge se akkreditasiekomitee is dat al die uitgelekte vraestelle herskryf moet word,” sê die ministerie.

Indien kandidate toegelaat is om met die eksamens in die geraakte vakke voort te gaan, sou leerlinge ‘n vak of sertifikaat gehad het wat nie geakkrediteer is nie en wat hulle nie toegang tot verdere onderrig of indiensneming sou gee nie.

“Die sertifikaat sou geen waarde gehad het nie.”

Die ministerie beklemtoon sou vraestelle en eksamens nie aan die vereiste standaarde voldoen nie en vakke nie geakkrediteer word nie, kan die volle kwalifikasie ook sy akkreditasie en erkenning op die Namibiese Kwalifikasieowerheid (NQF) se raamwerk verloor.

“Waar die lek van vraestelle nie beperk kon word nie, maar oorspoel in ander streke en ook in die digitale ruimte was, kan dit lei tot die verlies van akkreditasie wat geen onderrigstelsel kan bekostig nie.”

Die ministerie beklemtoon dit het alle ander moontlikhede ondersoek buiten om die eksamen te kanselleer en vraestelle volgende jaar oor te skryf.

“Nasionale eksamens word beheer deur vasgestelde reëls, regulasies en standaarde as deel van die akkreditasie-ooreenkoms wat ons verplig het om tot hierdie besluit te kom.”

Die ministerie het beklemtoon Namibiërs moet trots op die land se nasionale kwalifikasies wees, omdat dit die deure oopmaak vir Namibiese leerlinge om wêreldwye toegang tot instellings van hoër onderrig asook indiensneming te kry.

Die ministerie het gemaan die land moet die integriteit van sy nasionale eksamens en kwalifikasies te alle tye beskerm, “want hierdie kwalifikasies is ons trots”.

Hulle het die versekering gegee die gevorderde vlak (AS) en nasionale senior sekondêre sertifikaat hoër vlak-vakke en -eksamens word nie geraak nie en gaan voort soos beplan saam met die ander gewone vlak graad 12 en graad 11-vakke wat nie geraak is nie.

Hoewel leerlinge nou eers in Januarie aanstaande jaar die geraakte vakke sal skryf, sê die ministerie dit bly daartoe verbind om hulpbronne beskikbaar te stel om te verseker die uitslae word steeds op die beplande datums vrygestel.

Die graad 11-groep vir 2022 sal dus hul AS-klasse begin soos beplan. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer