Onderwysopleiding moet prioriteit word
Onderwysopleiding moet prioriteit word

Onderwysopleiding moet prioriteit word

Mandy Rittmann
ERNST HASHAGEN SKRYF:

2018 het afgeskop. Goeie en slegte nuus het ons land getref.

Donald Trump se uitspraak het ons tot nadenke gedwing, maar hy het ook Namibië weer 'n groot guns bewys. EES en Gondwana Collections het deur hulle video's ons land aan meer as 7 miljoen mense bekend gestel. Baie dankie daarvoor.

Trump, leier van die sogenaamde magtigste land ter wêreld, noem homself “'n stabiele genie”, maar het weereens sy ernstige tekortkominge geopenbaar. Ek dink nie dat hy Namibië bedoel het nie. Ek is seker dat hy nie die korrekte naam van ons land ken nie, is 'n goeie bewys dat hy nie weet waar ons land is nie.

Ek het ook nog nooit gehoor van enige vlugtelinge uit Namibië wat hulle in Amerika gevestig het nie. Ons het ons probleme, wat ons sonder die hulp van Amerika kan oplos. Ons sal egter baie hard moet werk, as ons nie in Trump se “shithole” wil beland nie.



REKENSKAP

Die president het in sy nuwejaarsboodskap beklemtoon dat hy die verantwoordelikes tot rekenskap sal dwing. Die boodskap het ons reeds in 2015 gehoor! As dit nie in hierdie jaar gebeur nie, sal dit 'n groot teleurstelling wees.

Dit beteken: Genadelose bekamping van korrupsie, wanadministrasie, blatante diefstal uit die staatskas, onaanvaarbare dienslewering, opsporing van belastingontduikers, ens.

Gaan ons regering ons hierdie jaar met positiewe stappe vir armoede-uitwissing verras?

Die Harambee–welvaartplan sal net slaag as daar aan die verbetering van onderwys en opleiding ernstige aandag gegee word.

Enige staat is verantwoordelik om sy burgers toe te rus met basiese kennis en vaardighede. Vaardighede om in die vrye mark te oorleef. Verder behoort die skoolstelsel leerders in groot getalle en suksesvol op te lei in vakke wat algemeen aanvaar word.

Dit is ongelooflik dat sowat 50% van leerders die afgelope 27 jaar nie graad 10 kon slaag nie. Dit bewys dat ons op die verkeerde pad is.



MOED OM OP TE TREE

Aan die begin van die skooljaar is daar 'n geskarrel om plek vir baie leerders te bekom. In Khomas is daar aan die einde van Januarie nog 900 leerlinge wat nie 'n plek in die skool gekry het nie.

Waar is die onderwysbeplanners? Dit is onaanvaarbaar dat hierdie probleme net geïgnoreer word! Het ons leiers dan nie die moed om drasties op te tree nie?

Elke jaar word die grootste bedrag in die begroting aan onderwys en opleiding toegeken. Tenspyte daarvan, ontvang sommige leerders hulle onderrig nog onder 'n boom - party moet selfs hulle eie stoele saambring (Nkurenkuru).

Wat gebeur met die geld?

Dit beland as salaris in die sakke van amptenare. Maar daar is ongelukkig nie genoeg amptenare wat hulle belangrike plig (veral kontrole) stiptelik uitoefen nie.

Hoe is dit moontlik dat daar nog spookonderwysers is? Wanneer hoor ons wie die skuldiges is en hoekom word hulle nou eers, nadat hulle reeds miljoene gesteel het, opgespoor? Wie is verantwoordelik vir die kontrole?



WELGEDAAN

Ouers moet deel wees van die opvoeding van hulle kinders. Die staat het skoolfondsbetaling afgeskaf en kon nie daarin slaag om die skole finansieel daarvoor te vergoed nie. Die chaos het net vererger.

Geluk aan die skole, veral staatskole, wat ten spyte van die talle ­uitdagings nog goeie resultate behaal het. Ons kon almal die presteerders se name lees en iets oor hulle toekomsplanne uitvind.

'n Skool in die Kavango (privaat) presteer besonder goed in die NSSCO-eksamens. Elke jaar verskyn foto's van leerders wat onderskeidings behaal met 'n gemiddeld van meer as 80%. Geluk aan die skool, onderwysers en die leerders.

Daar is net een vraag – hoekom kan leerders in daardie skool nie meer vakke op hoër vlak skryf nie, sodat hulle minstens vier vakke op hoër vlak het en by 'n universiteit kan inskryf. Hulle is hardwerkend en sal ook in baie van die vakke op hoër vlak slaag.

Miskien sal die punte dan nie so hoog wees nie en minder foto's in die koerante verskyn, maar hulle sal dan 'n universiteitsopleiding kan volg.



DIE WARE HELDE

Daar is ook 'n ander groep wat genoem moet word. Hulle is die werklike presteerders en word grotendeels geïgnoreer.

Dit is die leerders (uit alle bevolkingsgroepe in ons land) wat onder haglike omstandighede hulle skoolloopbaan moet aanpak en dit na die beste van hulle vermoë voltooi.

Om net een voorbeeld te noem – baie skoolgaande kinders woon saam met hulle groot familie in 'n blikhuisie en moet in die ergste hitte of koue vir die volgende skooldag of eksamen voorberei. As hy/sy 'n tafel en 'n stoel het, is hulle gelukkig. Kersligte of 'n swak lamp moet gebruik word.

Buite dreun die musiek en geraas van 'n onwettige sjebien.

Ma kom terug – sy is doodmoeg, want reeds vroeg in die oggend het sy die huis verlaat om 'n bietjie geld te verdien. Ongelukkig was sy nie baie suksesvol nie. Die kinders moet weereens honger gaan slaap.

Pa het al by die geboorte soos mis op die vlei verdwyn en steur hom nie aan onderhoud nie.

Die volgende skooldag breek aan. In sy skooldrag vertoon die leerder besonder netjies. Op sy/haar rug dra sy/hy 'n verflenterde rugsak met enkele handboeke. Steeds honger is die leerder op pad na die skool. Vandag sal hy sy eerste, en waar­skynlik enigste, maaltyd van die dag by die skool kan geniet. Hy/sy is van die min leerders wat hulle opdragte uitgevoer het en word deur die onderwyser geloof en aangemoedig – dit is 'n hoogtepunt vir die leerder.

Die kanse om die graad 10-eksamen te slaag is goed. Die eksamen kom nader. Aanmoediging deur sy moeder en onderwysers help om die belangrike eksamen te slaag. Die punte is gemiddeld, maar genoeg om in graad 11 toegelaat te word.

Baie min wens hierdie leerders geluk. Hul foto's sal nie in die media verskyn nie. Van finansiële hulp vir verdere studies is daar geen sprake nie. Hoekom kan die media nie 'n slag bogenoemde leerders opspoor nie, 'n onderhoud met hulle voer en ook hulle aan die publiek bekend stel? Skoolhoofde sal weet wie hulle is. Dalk is daar 'n private besigheid wat hierdie leerders sal help.

Het dit nie tyd geword dat onderwysopleiding 'n prioriteit word nie. Die bekende verskoning: “Daar is nie geld nie,“ is onaanvaarbaar. Hoekom is daar geld vir 'n vergrote parlement, reusegeboue, ens. ens. ens.

Salom Shilongo se brief in die Namibian van Vrydag 22 Desember 2017 het my baie beïndruk. Dit moet in alle landstale vertaal word en op sosiale media, sowel as in elke koerant in die land verskyn. Dit is die omstandighede waaronder baie van ons kinders moet groot word.

Dankie mnr. Shilongo.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer