Onderwysrubriek - Inligting is mag
Onderwysrubriek - Inligting is mag

Onderwysrubriek - Inligting is mag

Dani Booysen
Godfrey Kleinhans – Ek is terdeë daarvan bewus dat ek in hierdie rubriek al heelwat aandag aan ongeoorloofde verhoudings tussen onderwysers en skoolleerlinge (kindermishandeling ingeslote) bestee het.

Maar, een ernstige probleem waarmee ek dink ons in Namibië te kampe het, is dat ons nog te min van die verskynsel weet.

Die Nasionale Vergadering het wel in 2019 gerapporteer dat 3 500 skooldogters in 2017 en 2018 swanger was. Die hoogste syfers is in Kavango-Oos aangeteken en onder daardie dogters was ‘n groep 12-jariges.

Die verslag verstrek egter nie besonderhede oor die aard van verhoudings nie en maak ook nie melding van die aandadigheid van onderwysers nie. Dus: te min statistiek word vrygestel en ons weet ook te min van die onderwysers wat hulle aan kinders vergryp.

Ons moet weet hoe groot die omvang van die probleem werklik is. Navorsing in Namibië oor hierdie onderwerp lyk maar skraps en dit het my genoop om “uit te wyk” na ander lande.

In die VSA is daar ‘n styging van 7% in sulke verhoudings tussen onderwysers en graad 8- tot 11-leerlinge oor die afgelope paar jaar gerapporteer. In die deelstaat Alabama is 31 gevalle tussen Augustus 2012 en Julie 2013 aangeteken. In Texas het 686 onderwysers hul lisensies tussen 2010 en 2016 verloor na skuldigbevindings.

Sewe-en-veertig persent van hierdie onderwysers is krimineel vervolg. Sommige is ‘n soort "parool-straf" opgelê. Hulle kon terug skool toe, maar onder streng voorwaardes.

In Noord-Carolina is 700 onderwysers tussen 2010 en 2015 aangekla terwyl Louisiana voorloop met die meeste vroulike onderwysers wat hulle aan sulke verhoudings en dade skuldig maak. Navorsing in die VSA meld in hoeveel gevalle seksuele omgang plaasvind en tot swangerskappe lei.

In ons buurland Suid-Afrika lyk die situasie nie veel beter nie. Tussen 2008 en 2012 is 49 onderwysers van seksuele misdrywe aangekla waarvan vier sake na die polisie verwys is. Hierdie statistiek styg onrusbarend: tussen April 2020 en Julie 2021 is 160 onderwysers by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders aangekla. Hierdie klagtes sluit in onbehoorlike seksuele verhoudings met leerlinge, aanvalle van ‘n seksuele aard op leerlinge en kollegas, onwelkome voorstelle aan kollegas en die versuim om aanvalle van ‘n seksuele aard op leerlinge en/of kollegas te rapporteer. Onderwysowerhede in SA het vasgestel die gedrag neem toe onder vroulike onderwysers.

Navorsing in SA toon 30% van alle skooldogters is al verkrag (1999 tot 2004) en beraam een uit elke drie kinders sal verkrag word voordat hulle die ouderdom van 18 bereik.

In Zimbabwe vind ‘n mens dieselfde patroon. Omvattende navorsing in laerskole in landelike gebiede het bevind veral 11- tot 13-jariges word geteiken. In 70% van die gevalle het penetrasie plaasgevind en sondebokke was veral manlike beginner-onderwysers.

Statistieke in ander lande skets nie ‘n mooi prentjie nie.

Die onus rus op die ministerie van onderwys om op ‘n gereelde grondslag die data bekend te maak. Ek dink onderwysgemeenskappe is geregtig op die volgende inligting:

· Die aantal slagoffers, hul geslag en ouderdomme (hul identiteit moet beskerm word).

· Die name van skole met ‘n hoë voorkoms.

· Die voorlopige stappe wat gedoen is teen beweerde oortreders.

· Stappe wat geneem word om beweerde oortreders uit die omgewing van die leerlinge te kry.

· Inligting rakende dissiplinêre en strafregtelike verhore.

· Hoe skoolrade en streeksonderwysrade voorberei word om die probleem te hanteer.

As ons sê inligting is mag, moet ons dit gebruik om die euwel uit te roei.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!