ONDERWYSSAKE -Multikulturisme
Godfrey Kleinhans - Kersfees kom altyd met ‘n groot klomp opwinding.
In die ou dae het die kinders altyd uitgesien na nuwe klere, ‘n Kersboom met geskenke rondom en lekker eetgoed. Aan die krismiskoek moes jy versigtig kou, uit vrees dat jy moontlik ‘n “weggesteekte” sikspens kan insluk. En my ma was die bobaasgemmerbier-“brouer” in die buurt.
Die grootmense was nie minder opgewonde en besig as die kinders nie. Die huis se mure is gewas of geverf, die gordyne is gewas en selfs die tapyte op die vloere is vervang. Ek wonder hoeveel van ons kan onthou hoe die kaihaar (klapperhaar) uit die matrasse gehaal, gepluis, gewas en dan weer teruggesit is in die matrassloop. Die meeste mense in die buurt het dit gedoen.
Die jaar se verskille is tydelik weggebêre en die gedagte aan Kersfees het gesorg vir ‘n ongekende eendersheid.
Die herdenking van die geboorte van Christus sorg ook vir ernstige diskoerse wat dui op ons andersheid. Die vraag wat tans weer op Facebook kop uitsteek, is of Christus werklik op die 25ste Desember gebore is. Wat interessant is, is dat daar selfs ‘n Moslem aan hierdie diskoers deelneem.
Mense is uniek en daar sal altyd verskille en teenoorgestelde standpunte wees. Maar verskille ten opsigte van kultuur, geloofsoortuiging, taal en die politiek het al vir groot konflikte en trauma gesorg. Ons kan maar net dink aan die eeue lange vervolging van die Christene, die Kruistogte, die konflikte tussen die demokrasie en die kommunisme, die Koue Oorlog, die jag en dood op miljoene Jode in die voor-oorlogse Duitsland, Afrika se problematiek rondom die aanwys van regeerders en die onwilligheid om die tuig neer te lê.
Aan die wortel hiervan lê ‘n diep onverdraagsaamheid. Gedurende die Apartheidsjare het die regime gedink dat die oplossing gevind kan word in die erkenning dat ons “een maar tog divers is”. Ongelukkig is die verskille (diversiteit) oorbeklemtoon ten koste van die eenheid. Ons toekomsvisie van ‘n gemeenskap wat lief en leed kon deel, is ook verder beduiwel deur die leuen dat ons ‘n “gemeenskap van minderhede” is.
Weinig het verander; die wantroue, onliefde en onverdraagsaamheid duur voort. Gesprekke voor en ná die verkiesing het dit vir my duidelik gemaak dat die gevegslyne bepaal is deur kultuur, etnisiteit en demografie.
Tydens ‘n besoek aan ‘n baie arm gesin op Keetmanshoop het dit vir my weer eens duidelik geword dat die “ryker” minderheid vere voel vir die armes. Die empatie en simpatie is maar min. Waar lê ons heil dan; waar soek ons die oplossings? Baie navorsers en skrywers is van mening die oplossing lê in ’n praktyk van multikulturisme.
Multikulturisme word op verskeie wyses verduidelik. Eenvoudig gestel, beteken dit dat dit mense van verskillende agtergronde, godsdienste en kulture in vrede en harmonie “saam kan speel, werk en aanbid”. Dit leer mense nie net om verdraagsaam teenoor mekaar te wees nie, maar om mekaar werklik te verstaan. Ons onderwysstelsel het die vermoë om die uitdaging aan te gryp en hiervan ‘n werklikheid te maak. Die geskiedenisleerplanne is ‘n goeie plek om te begin. Ons onderwysgemeenskappe kan net so ‘n beduidende rol speel deur eksklusiewe tradisionele byeenkomste en kultuurfeeste met meer inklusiewes te vervang – feeste van alle kulture op dieselfde terrein en binne dieselfde tydgleuf. En ons kerke kan aanvaarding, begrip en liefde vir ander hoog op hul agendas plaas.
Geseënde Kersfees!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie