Ongelooflike feite oor ons u2018blou planeetu2019
Ongelooflike feite oor ons u2018blou planeetu2019

Ongelooflike feite oor ons ‘blou planeet’

Elvira Hattingh
Het jy geweet dat ons nog net van ’n derde van alle plante en diere onder die see weet en dat die aarde se atmosfeer daagliks deur meteoriete, wat altesaam ’n 100 ton weeg, getref word?
Hier volg meer interessante feite oor die ruimte, aarde en atmosfeer.

Die ruimte
• Dit het sowat U$150 miljard gekos om die Internasionale Ruimtestasie te bou. Die ruimtestasie is ’n bewoonbare, kunsmatige satelliet wat in ’n nabye wentelbaan om die aarde beweeg. Dit is ’n modulêre struktuur waaraan daar in 1985 begin bou is, met die eerste komponent wat in 1998 na die wentel­baan gestuur is.
• Sowat 38 000 mensgemaakte voorwerpe het reeds om die aarde gewentel sedert die opstuur van Sputnik in 1957. Tot 22 000 van die voorwerpe is 10 cm of groter. Net 5% hiervan is satelliete wat in werkende toestand is, terwyl 8% gebruikte vuurpyle is en 87% afgebreekte dele van onaktiewe satelliete. NASA skat dat een stuk ruimterommel per dag terugkeer aarde toe.
• Altesaam 100 ton klein meteoriete – meestal in die vorm van stof – kom daagliks die aarde se atmosfeer binne. Die meeste ­verbrand egter heeltemal voor dit die grond tref.
• Die grootste meteoriet wat ooit op die aarde geval het, het geen krater gelaat nie. Dit is die Hoba-meteoriet wat in Namibië naby Grootfontein geval het. Wetenskaplikes meen omdat die meteoriet plat aan albei kante is, dit moontlik soos ’n klip op water deur die atmosfeer “gespring” het en daarom nie ’n krater gelaat nie.
• Tien dae is die langste wat ’n Tardigrade, die taaiste dier op aarde, in ’n vakuum (en dus in die ruimte) kan oorleef. ’n Tardigrade is ’n gesegmenteerde mikro-organisme wat in die water woon en agt bene het. ­Vergelyk dit met ’n mens wat net vir twee minute lank onbeskermd in die ruimte kan oorleef.
• Op ’n hoogte van 19 km bo seespieël moet jy ’n ruimtepak aantrek – dit is Armstrong Limiet. Sonder ’n ruimtepak wat druk op jou liggaam toepas, sal jy nie lank oorleef nie, want teen dié hoogte kook water teen kamertemperatuur.
• Die “verste” foto wat ooit van die aarde geneem is, is van 6 biljoen kilometer ver geneem en vertoon die aarde as ’n dowwe blou kol.
• Daar is nie werklik 24 uur in ’n dag nie – om presies te wees, neem dit die aarde presies 23 uur, 56 minute en 4 sekondes om om sy eie as te draai. Dit word ’n sideriese dag genoem.
• Die aarde is gladder as ’n kegelbal. Hoë berge en dieptes in die oseane, maak net sowat 1/5000ste van die aarde se oppervlak op.

Die atmosfeer
• China se lugbesoedeling is vanuit die ruimte sigbaar en anders as wat mense dink, is sy groot muur (Great Wall) nie vanuit die ruimte sigbaar nie.
• Die gat in die osoonlaag was in 2012 die kleinste in die afgelope tien jaar gewees, wat moontlik beteken dat dit krimp.
• Die waarde van die aarde se atmosfeer is £4,3 kwadriljoen. Dit is as jy 1,3 pennies vir elke kubieke meter CO2 betaal – die prys waarteen dit kommersieël in Engeland verkoop word.
• Daar is sowat 8,6 miljoen weerligslae per dag om die aarde.
• Dinosourusse kon net bestaan omdat die aarde se atmosfeer lank terug baie meer suurstof bevat het. Minder suurstof in die atmosfeer beteken amfibieë en reptiele kan nie meer so groot word nie.
Die oseane
• Sowat 97% van die water op aarde is te sout om te drink, terwyl net 3% vars is. Sowat 99% van die leefruimte op aarde is oseane en omtrent een miljoen dier- en plantspesies leef in die wêreld se oseane.
• Tot 2 000 nuwe seediere en –plante word jaarliks in die see ontdek, maar ons weet net van ’n derde van al die diere en plante wat in die see voorkom. Ons moet nog die res ontdek.
• Haaie veroorsaak 8 tot 12 sterftes onder mense per jaar, terwyl tot 100 miljoen haaie jaarliks vir hul vinne geoes word.
• Antarktika het soveel ys as wat die Atlantiese Oseaan water het.
• As al die water op die aarde in ’n bal saamgepers kon word, sou die bal ’n diameter van 860 km hê en omtrent so groot soos Tethys – Saturnus se maan – gewees het.
• Tot 90% van alle vulkaniese aktiwiteit vind in die oseane plaas.
• Sowat 90% van al die rommel in die wêreld se oseane is plastiek.
• Die diepste gebied in die oseaan is die Mariana-sloot, wat op sy diepste 10,9 km meet.

Ondergronds
• Die aarde is die enigste planeet in ons sonnestelsel wat tektoniese plate het. Daar­sonder sou dit nie koolstof kon opneem en herwin nie en sou ons planeet, nes Venus, oorverhit het.
• Tot 99% van die aarde se goud lê in sy kern. Wetenskaplikes meen dit is genoeg om die aarde se oppervlak toe te maak en boonop ’n kors van ’n halwe meter hoog te vorm.
• Die kern van die aarde is 5 500 grade Celsius – so warm soos die oppervlak van die son. Die kern is ’n soliede ysterbal wat sowat 2 400 km breed is. Ongeag hoe warm dit is, is die druk so hoog dat die yster nie kan smelt nie.
• Die aarde se diepste boorgat is 12,4 km. Jy sal 6 371 km diep moet boor om by die aarde se kern uit te kom.
• Die aarde se grootste kristalle weeg sowat 55 ton en word onder in Meksiko se Naico-silwermyn aangetref.
• Sowat 4 km onder die Amasone-rivier is die ondergrondse Rio Hamza-rivier of ­-waterdraer. Dit is op plekke tot 400 km wyd en vloei by sekere plekke stadiger as 1 mm deur ondergrondse rotsbanke.
• Bakterieë is al so diep soos 2,8 km onder die aarde se oppervlak gevind. Die bakterieë oorleef deur radioaktiwiteit van uranium in te span om water in bruikbare energie om te skakel.

Grond
• Die wind vervoer jaarliks sowat 40 miljoen grond van die Sahara na die Amasone-­reënwoud.
• Bakterie-fossiele wat 3,5 miljard jaar oud is, is in Australië gevind. Dit is langer terug as wat die aarde se atmosfeer al suurstof het.
• Die hoogste temperatuur ooit, 57,8 grade Celsius, is in 1922 by El Azizia in Libië gemeet. Die laagste temperatuur was -88,2 grade Celsius in 1983 by die Vostok-weerstasie in Antarktika. Die droogste plek op aarde is die Droë-vallei in Antarktika, waar dit 2 miljoen jaar gelede die laaste keer gereën het.
• Die vastelande verskuif jaarliks sowat 2 cm.
Tot 75% van die aarde se dierespesies kan binne die volgende 300 jaar uitsterf. Tog het die mens tot dusver net sowat 14% van die wêreld se dier- en plantspesies geïdentifiseer.

Bronne: www.nasa.gov, www.nationalgeographic.co.uk, www.astronomy.com, www.ecolocolizer.com, www.earthsky.org, www.livescience.com en www.sciencedaily.com

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!