Ongeluk eis twee vriende

Henriette Lamprecht
’n Motorongeluk op die Hochfeldpad het Saterdagaand die lewens van twee vriende van Okahandja geëis.
Barend Janse van Rensburg (21) het saam met sy vriend, Dehan Marais (17), in die ongeluk gesterf wat Saterdag omstreeks 21:00 sowat 22 km buite Okahandja op die Okahandja-Hochfeldpad plaasgevind het.

Volgens insp. Maureen Mbeha, polisiewoordvoerder van die Otjozondjupastreek, het die bestuurder van die dubbelkajuitbakkie beheer oor die voertuig verloor, waarná dit die pad verlaat en omgeslaan het.

Volgens haar is beide Marais en Janse van Rensburg op slag dood. Albei is uit die voertuig geslinger.

Op Facebook het vriende en familie roerend van Marais en Janse van Rensburg afskeid geneem.

Janse van Rensburg word beskryf as ’n “regte ou gentleman” wat almal laat lag het, terwyl Marais se unieke sin vir humor onder meer uitgesonder word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer