Ongelukke eis 11 mense

Tanja Bause
Tanja Bause

Sewe mense is Sondag omstreeks 13:40 in ’n botsing tussen ’n vragmotor en ’n sewesitplek-sedanvoertuig dood.

Die ongeluk het tussen Otjiwarongo en Otavi plaasgevind. Volgens hoofinsp. Elifas Kuwinga van die skakelafdeling van die Namibiese polisie, het ’n ooggetuie gesien hoe die bestuurder van die sedanvoertuig probeer om ’n ander voertuig verby te steek.

“Die sedanvoertuig wat in ’n noordelike rigting op pad was, het ’n voertuig probeer verbysteek en in die proses teen die aankomende vragmotor gebots. Die sewe insittendes is op slag dood en moes uit die wrak gesny word. Die oorledenes is vyf mans, een seun en een vrou,” het hy gesê.

Die oorledenes is die bestuurder, mnr. Andreas Megameno Kauluma (33), mnre. Festus Neshuku (37) en sy seun Petrus Neshuku (5), Ezimbi Tomas (27), Uulofu Angondo (31), Stefanus Petrus Ausiku (45) en me. Hileni Nditungapo Shipahu (43).

Die bestuurder van die vragmotor en sy passasier is nie beseer nie.

• Nog ’n persoon is Sondag omstreeks 19:00 in ’n motorongeluk dood toe die voertuig omgeslaan het waarin sy ’n passasier was.

“Die sedan met vyf insittendes het agter die duinegordel vanaf Swakopmund na Walvisbaai gery, toe die bestuurder in die omgewing van Duin 7 beheer oor die voertuig verloor het. Die voertuig het omgeslaan en ’n 58-jarige vrou is op die toneel dood,” het Kuwinga gesê.

Die bestuurder en ander insittende is met ernstige en ligte beserings na die hospitaal op Walvisbaai geneem.

• Otis Finck van Erongo berig twee mans is Saterdag omstreeks 20:37 in ’n motorongeluk op die B2-roete tussen Walvisbaai en Swakopmund naby Langstrand dood.

Adj.komm. Erastus Iikuyu het die voorval bevestig.

“Na bewering het mnr. Michael Shikongo Nambombola in sy sedanvoertuig vanaf Swakopmund na Walvisbaai gereis, toe hy ’n motor probeer verbysteek het en in ’n kop-teen-kop-botsing met ’n bakkie betrokke was. In die bakkie was die bestuurder, mnr. Angelo Goliath (27), en een passasier.”

Volgens Iikuyu het die impak veroorsaak dat die bakkie omgeslaan en op sy dak beland het.

“Goliath is uitgeslinger en het op die voorruit beland van ’n derde voertuig wat agter sy bakkie gery het. Beide Nambombola en Goliath is op slag dood.

“Die passasier in die bakkie, ’n man, is ongedeerd; so ook die bestuurder en die passasier van die derde voertuig.

“Die oorledene se naasbestaandes is in kennis gestel. Die liggame is na die Walvisbaaise polisielykshuis vir ’n nadoodse ondersoek geneem. Die ondersoek duur voort en ’n saak van strafbare manslag, asook roekelose en nalatige bestuur, is aanhangig gemaak.”

VOETGANGERS

Saterdag omstreeks 22:30 op die hoofpad tussen Nkurenkuru en Rundu het die bestuurder van ’n bakkie ’n 54-jarige voetganger doodgery. Die voetganger het glo in die middel van die pad geloop toe die voorval gebeur het. Hy is op die toneel dood.

• ’n 27-jarige man is Vrydag op die B1-hoofpad tussen Keetmanshoop en Grünau deur twee voertuie omgery terwyl hy in die pad gesit het.

Volgens ’n ooggetuie het ’n sedanvoertuig – wat op pad na Keetmanshoop was – die man gestamp. Die ooggetuie het egter nie die nommerplaat van die voertuig geneem nie omdat ’n tweede voertuig ook oor die man gery het. Die tweede bestuurder het wel stilgehou.

Die slagoffer het ernstige beserings opgedoen en is na die Keetmanshoop-staatshospitaal geneem. Die polisieondersoek duur voort. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!