Ongelukke melk fonds

As ’n staatsbeheerde onderneming is die Motorvoertuigongelukfonds se sakebelang eerstens by staatsgeriewe.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die Motorvoertuigongelukfonds (MVAF) het in die eerste vyf maande van vanjaar reeds meer as N$61 miljoen aan die slagoffers van padongelukke in die land uitbetaal.

Dit sluit slegs uitbetalings vir algemene skade/beserings (N$14,3 miljoen) en mediese en hospitaaluitgawes (N$47 miljoen) in. Wanneer uitbetalings vir verlies aan inkomste (N$602 297) en ondersteuning (N$24,8 miljoen), asook vir begrafnisse (N$1,6 miljoen) bygereken word, staan die totaal vir Januarie tot Mei op ’n allemintige N$88,3 miljoen. Dit is byna N$29 miljoen meer as vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Volgens die fonds se uitvoerende hoof, me. Rosalia Martins-Hausiku, hou buitensporige mediese uitgawes van private diensverskaffers ’n bedreiging vir die finansiële volhoubaarheid van die fonds in en is verskeie kostebesparingstrategieë daarom geïmplementeer. Dit sluit onder meer in dat beseerdes, onderhewig aan die aard en erns van hul beserings, na staatshospitale vervoer en daar opgeneem word.

“As ’n staatsbeheerde onderneming is die fonds se sakebelang eerstens by staatsgeriewe, met dien verstande dat dié geriewe gepaste mediese toerusting en hulpbronne het om pasiënte te versorg,” het sy gesê.

Volgens haar is dit die fonds se mandaat om te verseker dat ’n beseerde persoon wat behandeling vereis, na ’n hospitaal vervoer word. Sou ’n hospitaal nie toeganklik wees nie, dan na ’n ander mediese inrigting wat wel is.

Martins-Hausiku het beklemtoon die MVAF is daartoe verbind om die standaard van sorg in staatshospitale te verbeter, en wel deur die opleiding van dokters en verpleegsters, asook die borg van noodsaaklike toerusting om te verseker mense wat van die fonds eis, ontvang die beste behandeling.

Sy het voorts gesê “as eerste versekeraar word alle mediese koste van pasiënte wat in padongelukke beseer is, tot en met N$1,5 miljoen deur die fonds gedek”, ongeag of die pasiënt mediese dekking het of nie.

Pasiënte wat wél lid van ‘n mediese fonds is, kan dit by enige verkose mediese instelling gebruik.

“In dié geval sal die fonds die eiser vir mediese onkoste gebaseer op staatstariewe vergoed.”

Volgens haar kan ’n pasiënt in ’n staatshospitaal wat aandring op ’n private dokter, dit vir hul eie koste doen.

“Kan die beserings nie in ’n staatshospitaal bestuur word nie, dien die betrokke dokter in konsultasie met die fonds se gevallebestuurders ’n verwysing in met die versoek dat die pasiënt op die fonds se koste na ’n private hospitaal verskuif word.”

Martins-Hausiku het ontken dat private en staatspasiënte na staatshospitale gestuur word waar hulle nie noodwendig die vereiste sorg en behandeling kry nie.

Volgens haar is protokol en prosesse ingestel met verskeie verskaffers van nooddienste landwyd om te verseker beseerdes in motorongelukke word sonder vermybare vertragings hanteer.

Martins-Hausiku het gereageer op beweringe dat ’n vrou wat ernstig beseer is in ’n motorongeluk naby ’n private hospitaal, na ’n staatshospitaal vervoer is waar sy later gesterf het.

Volgens Martins-Hausiku is die fonds bewus van ’n swanger vrou wat in Februarie vanjaar naby die Lady Pohamba-hospitaal in ’n ongeluk betrokke was, maar wat hier vir haar beserings behandel is en later in dieselfde hospitaal daaraan beswyk het.

“Sover dit die kennis van die fonds strek, was dié pasiënt nie swanger nie en is sy nie na ’n staatshospitaal vervoer nie,” het Martins-Hausiku gesê.

Sy het voorts gesê beseerdes word binne die ‘goue uur’ volgens die aard en erns van hul beserings op die toneel geëvalueer en gestabiliseer, en na die gepaste mediese inrigting gestuur.

Die besluit om ’n pasiënt van ’n staats- na ’n private hospitaal te verskuif, berus volgens haar by die betrokke dokter en die fonds se gevallebestuurders.

“Enige verwysings deur eisers sonder die voorstelle en goedkeuring deur die betrokke dokter en gevallebestuurder, is selfverwysings en koste wat aangegaan is, sal daarom teen ’n staatstarief vergoed word.”

Volgens Martins-Hausiku moet die fonds as openbare instelling sy geld op “omsigtige wyse” bestuur om volhoubaar te wees en alle potensiële bedryfslaste te dek.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!