Ongeluksvoël ry TransNamib

Ou spoorwaens en die land se slegte spoornetwerk word as oorsake vir die groot aantal treinongelukke aangebied.
Tanja Bause
Tanja Bause – Slegs vier dae nadat nege brandstofwaens van TransNamib by Brakwater buite Windhoek ontspoor en aan die brand geslaan het, het nog ’n treinongeluk by die Kranzberg-treinstasie tussen Karibib en Usakos plaasgevind.

Volgens die woordvoerder van TransNamib, me. Abigail Raubenheimer, het die ongeluk Vrydag om 06:00 gebeur.

“Niemand is beseer nie. Dit was ’n botsing tussen ’n lokomotief en vier leë waens waarna hulle ontspoor het,” het sy gesê.

Mnr. Johny Smith, die uitvoerende hoof van TransNamib, het by ’n mediakonferensie gesê “dit was ’n baie slegte week vir TransNamib.”

“Ongelukke gebeur, maar hulle moet in perspektief gesien word. In die laaste finansiële jaar wat op 31 Maart 2021 geëindig het, het ons 53 ongelukke gehad. In die finansiële jaar voor dit het ons slegs 14 ongelukke aangemeld. Dit was ook die jaar waar ons in ’n noodtoestand was en in hoktyd. In die finansiële jaar 2018-’19 was daar 60 ongelukke en voor dit 68.”

Hy het gesê ongelukke val in twee kategorieë.

“Daar is groot ongelukke soos die een van Dinsdag en dan is daar klein ongelukke of voorvalle waar daar gewoonlik iemand van die publiek betrokke is. Dit is ongelukke waar ’n persoon of voertuig betrokke is wat gewoonlik by ’n spoorwegoorgang gebeur. Hierdie soort ongelukke is 20% van al die ongelukke wat ons het en hulle is meestal ook noodlottig. In die laaste finansiële jaar is niemand in ’n ongeluk dood nie en in die twee jaar voor dit is onderskeidelik drie en twee persone dood. Gemiddeld het ons drie mense per jaar wat in die laaste vier jaar in ongelukke dood is. Op die paaie het 462 mense in een jaar gesterf.”

Volgens hom was daar in die laaste vier jaar slegs twee groot ontsporings per jaar gewees waar lokomotiewe en waens beskadig is.

“Sestig persent van die ongelukke is weens ons spoorvoertuie wat baie oud is en ons spoornetwerk wat nie onderhou word soos dit behoort nie. Ons lokomotiewe ry gemiddeld 4 000 kilometer per dag. Dit beteken hulle ry vanaf die suide tot die noorde van die land en terug elke dag. Hulle ry gemiddeld 1,4 miljoen kilometer per jaar en al ons lokomotiewe is 50 jaar oud.”

Volgens Smith behoort die spoornetwerk aan die regering en moet die regering dit en die paaie onderhou.

“Die regering het baie geld bestee aan die herstel en opgradering van die padnetwerk. Daar is nie genoeg geld om in die spoornetwerk te belê nie. Hulle het sedert onafhanklikwording die spoornetwerk tussen Aus en Keetmanshoop en tussen Tsumeb en Oshikango ontwikkel en is tans besig met die opgradering van die netwerk tussen Walvisbaai en Kranzberg.”

Volgens Smith het hulle egter ’n volledige netwerk nodig om operasioneel te kan wees en dus het hulle prosedures in plek waar die spoornetwerk ’n probleem is.

“Wanneer ons van ’n stuk treinspoor bewus is wat in ’n baie slegte toestand is laat ons die trein baie stadig vir dié paar kilometer ry om ongelukke te probeer vermy.”

ONGELUKKE IN VYF MAANDE

In die laaste vyf maande was daar vier ontsporings in die land aangemeld.

In Desember 2020 het ’n trein tussen Tses en Asab in die Suide ontspoor. Een lokomotief, drie passasierswaens en een goederewa is beskadig en 13 mense is beseer.

In Maart het ’n trein op Swakopmund ontspoor en een persoon is dood. Vier lokomotiewe en 25 goederewaens het ontspoor.

Verlede week Dinsdag het nege petrolwaens net buitekant Windhoek ontspoor en aan die brand geslaan. Niemand is beseer nie. Vrydag het een lokomotief en vier goederewaens by Kranzberg-treinstasie ontspoor. Niemand is beseer nie.

Gevolglik in die laaste vyf maande het ses lokomotiewe en 42 waens ontspoor en een persoon is dood.
[email protected]


FOTO
Vrydag het een lokomotief en vier leë waens by die Kranzberg treinstasie tussen Karibib en Usakos ontspoor. Foto verskaf

Kommentaar

Republikein 2025-01-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 28° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 19° | 35° Windhoek: 19° | 33° Gobabis: 21° | 34° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 19° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 19° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 20° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 27° Gaborone: 21° | 33° Lubumbashi: 16° | 22° Mbabane: 17° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 19° | 25° Maputo: 20° | 33° Windhoek: 19° | 33° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!