Ongelyke welstand is onvolhoubaar
Ongelyke welstand is onvolhoubaar

Ongelyke welstand is onvolhoubaar

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - “Doen alles wat julle kan om transformasie en bemagtiging te versnel. Die huidige ongelyke verspreiding van welstand is onvolhoubaar. As ons nie meer gelykheid skep nie, sal ons onder ernstige sosiale onstabiliteit begin deurloop en sal ons nie langer ’n sakeklimaat hê nie.”
Só sê mnr. Brand Pretorius, afgetrede uitvoerende hoof van die McCarthy-groep in Suid-Afrika, wat daarvoor bekend is dat hy McCarthy van bankrotskap gered het en gelei het na waar dit tans ’n omset van sowat R20 miljard het. In 1973 het hy by Toyota Suid-Afrika aangesluit en is in 1988 bevorder tot besturende direkteur van bemarking. Onder sy leiding het Toyota ’n mark­leier geword wat verkope en kliëntetevredenheid betref.
Pretorius was vanjaar se genooide gas tydens die Namibiese Werkgewersfederasie (NEF) se jaarvergadering, waar hy onder meer gepraat het oor hoe besighede moet aanpas om in moderne tye suksesvol te wees.
“Ek het 22 jaar by Toyota Suid-Afrika gewerk en iets van sukses geleer. Daarna het ek 16 jaar as hoof van McCarthy-groep gewerk en baie meer van mislukking geleer.”

TRANSFORMASIE VIR SUKSES
Volgens Pretorius is transformasie en bemagtiging een van die riglyne vir volhoubare sukses in ’n altyd veranderende en onstuimige besigheidsbedryf. Hy het ook verwys na Namibië se Nuwe Raamwerk vir Gelyke Ekonomiese Bemagting (NEEEF).
“In ’n land soos Suid-Afrika moes die sakesektor die kwessie van ongelyke welstand lankal baie meer doeltreffend en vinniger getakel het.
As gevolg van ons geskiedenis is dit ’n morele, strategiese en sakenood­saaklikheid.”
Volgens hom het radikale politieke partye soos die buurland se Economic Freedom Fighters (EFF) mag omdat ongelyke omstandighede dit verleen.
“Ek is ten gunste van geordende, regverdige bemagtiging wat tot ’n meer inklusiewe ekonomie lei. Ek is egter gekant teen bemagtigingwetgewing wat die volhoubaarheid of lewensvatbaarheid van besighede ondermyn.”
“Werkgewers, wees egter proaktief, aanvaar bemagtiging en kapitaliseer op die rykdom van jul diversiteit. Kyk na eienaarskap, bestuur, opleiding, die ontwikkeling van ondernemings en korporatiewe sosiale belegging,” het hy gesê.

MOEILIKE OMSTANDIGHEDE
Pretorius sê besighede oral in die wêreld moet in ’n komplekse, altyd veranderende en ’n onstabiele omgewing funksioneer.
“In Afrika suid van die Sahara ervaar ons slegs matige ekonomiese groei, besigheid- en verbruikersvertroue is laag en ons moet gekompliseerde reëls, wetgewing en regulasies die hoof bied.
“Onbeheerbare faktore soos droogte, die wisselvalligheid van die rand en die ‘tegnologie-tsoenami’, ook na verwys as die ‘vierde industriële revolusie’, raak besighede.
“Ons moet ’n tekort aan vaardighede, personeel met hoë verwagtinge, ongeduldige aandeelhouers en veeleisende kliënte hanteer.
“Die slotsom is: Niks is meer seker nie en alles verander vinnig en beduidend. Gister se sukses waarborg nie meer môre se wins nie.
“Die universele uitdaging is dat besighede terselfdertyd moet verander en presteer om binne dié nuwe omstandighede aan te pas. Dit is die nuwe normaal, dus kan ons nie wag vir hierdie storm om verby te gaan nie.” Pretorius sê om te oorleef, moet besighede die beste wees in strategiese beplanning, innovering, finansiële bestuur, in die ontwikkeling van personeel, bemarking en verkope, risikobestuur, waardetoevoeging en om bestaande kliënte te behou. Hy het ook klem op die belangrikheid van goeie gehalte leier­skap geplaas en gesê dit is die kragtigste mededingende voordeel in die sakewêreld.
“Die beste manier om te lei, is om altyd die perfekte voorbeeld te stel en resultate te lewer.
“Dit het niks met mag, posisie of outoriteit te doen nie, maar met invloed – en invloed word verdien.
“Jy moet jou mense verstandelik betrek, maar ook hul harte raak.
“Ek het geleer dat voor jy om hulp kan vra, moet jy eers ’n hart aanraak deur te gee en bereid te wees om te dien. Ek is ’n dissipel van die filosofie van dienende leierskap.
“Hierdeur verdien jy mense se vertroue, bewondering en selfs liefde. Dan sal hulle hul intelligensie, energie, lojaliteit en toewyding gee en dit sal resultate lewer.”

VERANDERING VIR OORLEWING
Pretorius sê hy het geleer dat riglyne vir volhoubare sukses insluit om ’n positiewe en duidelike visie te behou.
“Aanvaar verandering, want dit is die prys van oorlewing. James Welch het gesê as die tempo van verandering buite vinniger as binne is, is die einde in sig.” Ander riglyne sluit in om besigheid op die regte waardes en beginsels te baseer en dat besighede sosiaal verantwoordelik moet wees.
“Jy kan nie wegkruip en alle behoeftes van ’n gemeenskap ignoreer nie. Ek het geleer om goed te doen, is ook goeie besigheid.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer