Ongewone walvis spoel uit

’n Span walvis- en dolfynnavorsers van Walvisbaai is betower deur die ontdekking van ’n uitgespoelde snoetwalvis.

Volgens ’n verklaring van die Namibiese Dolfynprojek (NDP) het navorsers verlede Donderdag onder leiding van me. Monique Loubscher, ’n NDP-veldoffisier, en me. Erin Church, ’n navorsingsassistent, ’n strandopname in Sandwich-hawe in die Dorob Nasionale Park gedoen.

Ongeveer vyf kilometer van Sandwich-hawe se grensdraad af het hulle ’n ongewone voorwerp op die strand, net bo die hoogwatermerk, ontdek.

Ná ondersoek ingestel is, is die voorwerp as ’n ses meter lange snoetwalvis geïdentifiseer - ’n baie skaars waarneming in Namibië.

Die walvis was in ’n gevorderde stadium van ontbinding, wat dit moeilik gemaak het om as walvis te herken.

Dít het vir baie verwarrende berigte op sosiale media gesorg.

Sowat 15 verskillende snoetwalvisspesies kom in Suider-Afrika voor.

Op grond van die uitgespoelde walvis se kop- en snoetvorm glo navorsers dit is ’n Cuvier-snoetwalvis.

Loubscher, Church en me. Morgan Martin, ’n PhD-student van die Universiteit van Pretoria, het verskeie monsters, insluitende die kopbeen, van die dier geneem.

Die kopbeen sal vir verdere navorsing gebruik word.

Dit word tans skoongemaak sodat dit na die Nasionale Museum van Namibië gestuur kan word.

“Ons het net die walvis se kopbeen verwyder en die res van die dier op die strand gelos. Die natuur sal nou oorneem. Dit sal deur jakkalse gevreet word en heel moontlik met die volgende hoogwater terug in die see in spoel,” het Loubscher gesê.

Ongelukkig was die liggaam só ontbind dat die oorsaak van die dier se dood, of wat hy geëet het, nie vasgestel kon word nie.

Die walvis se onderkaak was gekraak en gebreek, maar omdat geen verdere uitwendige beserings waargeneem is nie, word afgelei die skade aan die kakebeen is moontlik ná die dier se dood opgedoen.

NDP het mnre. Trevor Lee Grane van Travel Unchartered Tours, Fritz Smeer van Waterbay Woods, Mossie Mosterd van Ocean Adventures en John Reiders van Pelgrims vir hul hulp en ondersteuning bedank.

NDP word deur Sea Search Research and Conservation bestuur.

Hulle is ’n navorsings-, bewarings- en opleidingsinisiatief wat data oor walvisse, dolfyne en skilpaaie sedert 2008 versamel.

Diere wat uitspoel, is ’n belangrike bron van inligting vir navorsers. Die gemeenskap word gevra om enige uitgespoelde dier by 081 687 6461 aan te meld.

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer