Onkonvensioneel oulik!
Toyota se C-HR ‘n gawe klein rakker.
Dirk Gallowitz - Ek weet nie van wêreldwyd nie, maar in Suid-Afrika verkoop sportsnutsvoertuie soos bier in ’n sjebeen.
Kompakte sportnutse raak by die dag gewilder en dit gaan nie meer lank wees nie, dan gaan sedanmotors soos Corolla’s, Jetta’s en driereekse so vreemd soos kakie safaripakke in Nkandla wees.
Gevolglik bied al wat ’n motorvervaardiger is deesdae ‘n reeks fô-baai-fô modelle wat wissel van kranige veldryers met laestrek tot klein stoftrappertjies wat ten beste net randstene by inkopiesentrums kan klim. Tog is laasgenoemde die segment wat onder passassiermotors die meeste groeipotensiaal toon.
In die kompakte SUV-segment is daar ook heel bekwame veldryers soos Range Rover se Evoque, maar die meeste is maar net mooi ontwerpe met groot wiele onder fris wielboë wat met klein enjins deur die voorwiele trek en ten beste ‘n goeie grondpad op ’n sonskyndag kan baasraak.
Toyota het vroeër vanjaar ook hul klein stoftrapper plaaslik bekend gestel met ‘n vreemde, half uitheemse modelnaam, genaamd “C-HR”.
Ek was by die bekendstelling in Gauteng en het nou onlangs weer die topmodel in die reeks van drie vir ‘n week se rygenot gehad.
Toyota het sy konserwatiewe benadering met die ontwerp van die C-HR heel oorboord gegooi en die eindproduk is ‘n treffende futuristiese en ultramoderne stilering met waaghalsige aksentlyne en hoekige oppervlaktes wat onmiddellik aandag trek.
Vir my is dit die mooiste Toyota tans en vir seker die mooiste kompakte SUV plaaslik beskikbaar. Uiteraard sal smaak verskil, maar die oorvloed komplimente en belangstelling van mense, veral jongmense en vroue, wanneer hul die C-HR van naby gade geslaan het, het my aangenaam verras. Ek het selde, en ek het die voorreg om gereeld besondere en peperduur voertuie te kan bestuur, soveel belangstelling en positiewe terugvoer van die publiek af ontvang.
Terwyl die Nissan Juke hierdie koepee-tipe kompakte SUV-segment met sy waaghalsige ontwerp rondom 2010 geherdefinieer het, het sedertdien kompeteerders soos onder meer Honda se HR-V en Mazda se oulike CX-3 die lig gesien. Dit is egter die C-HR wat die prys moet kry vir die mooiste blom in die park.
Die naam C-HR is blykbaar ‘n akroniem vir iets soos “Compact High-Rider” of “Coupé High-Rider”, maar dit kon ek nêrens bevestig kry nie.
Die treffende stilering en voorkoms is heel anders as wat tradisioneel van Toyota se konserwatiewe ontwerpfilosofie verwag is. Dit lyk meer soos ‘n konsepstudie uit die pen van ‘n jong rekenaarontwerper, maar die konkawe en hoekerige punte jel aangenaam op die oog met sterk vloeiende lyne in ‘n koepee-agtige mengsel tot ‘n treffende, dog aangename geheelbeeld. Die groot wiele onder fris wielboë aksentueer die sportiewe en aggressiewe beeld wat deesdae ‘n al groter voorvereiste raak vir kopers van kompakte SUV’s. Dit het bygedra tot die C-HR se grondvryhoogte van 160 mm.
Die neus het ‘n skrefieontwerp vir die sierrooster en uitstaanhoofligte wat na agter opswiep, terwyl twee ronde misligte weerskante laag onder in die groot voorste luginlaat geplaas is. Die agterligte steek ook prominent uit op die hoeke, terwyl dit treffend in die agterklap geïntegreer word.
Die agterdeure se handvatsels is hoog bo in die hoeke daarvan geplaas om die koepee-ontwerp visueel te beklemtoon.
Binne is die afwerking eweso treffend en modern met sterk aksentlyne. ‘n Groot inligtingskerm bo in die middel aan die voorste paneel is effe na die bestuurder gedraai en komplementeer die ergonomie van die uitleg. Terwyl die blou agtergrondbeligting van die instrumentasie die ruimteskipbeeld versterk, gee dit ook ‘n effense luukse gevoel aan die kajuit. Die materiale vertoon en voel verbasend luuks vir so ‘n kompakte stoftrappertjie.
Toyota het die C-HR plaaslik in drie opsies beskikbaar gestel, maar al drie kom slegs toegerus met een enjinopsie. Dit is ’n 1,2 liter turboaangejaagde driesilinder petrolenjin wat maksimum 85 kW enjinkrag en 185 Nm wringkrag lewer. Aandrywing is by al drie modelle na die voorwiele deur ‘n sesspoedratkas. Die intree C-HR 1.2T en die C-HR 1.2T Plus middelmodel is slegs beskikbaar met handratkaste, terwyl die topmodel C-HR 1.2T Plus CVT, soos wat ek tot my beskikking gehad het, toegerus word met ‘n poelie oftewel palwissel-outokas.
Tydens die bekendstellingsrit was die CVT my keuse en dit is weer eens tydens my toetsweek bevestig. Die ratkas het baie min van daai aaklige tipiese CVT gekerm by hoë toere en het verbasend baie meer soos ‘n konvensionele klein outomatiese ratkas gevoel. Die CVT bied ook ‘n opsie vir handratwisseling, kompleet met sewe “ratte” .
Paddinamika was verbasend goed met die C-HR wat voordeel trek uit Toyota se nuwe TNGA-platform met ‘n lae swaartepunt. Die gevolg is goeie hantering deur draaie met min bakrol en genoeg greep.
Die nuwe generasie 1.2 turbo petrolenjin het oorgenoeg oemf en ‘n 0-100 kpu lopie van 10,9 sekondes word aangegee. Dít danksy regstreekse inspuiting, ‘n hoë drukverhouding en veranderbare kleptydreëling wat ook bydra tot baie billike brandstofverbruik wat amptelik aangegee word as 6,4 l/100 km.
Ek het die C-HR se onkonvensionele stilering en prettige “karakter” geniet. Met slegs 150 eenhede wat blykbaar maandeliks vir Suid-Afrika beskikbaar gaan wees, vermoed ek Toyota Suid-Afrika gaan gou-gou ‘n lang lys belangstellende kopers moet paai. Skakel gerus jou plaaslike Toyota-handelaar vir die jongste pryse en beskikbaarheid.
Die oulike klein rakker gaan baie harte steel.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie