Onluste sal nie tot brandstofnood lei
Onluste sal nie tot brandstofnood lei

Onluste sal nie tot brandstofnood lei

Brandstofkwellings het Namibië nie, maar tekorte aan ander lewensmiddele gaan die land wel raak, sê ’n leier in die olie- en logistiekbedryf.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die gedwonge staking van bedrywighede by Suid-Afrika se grootste olieraffinadery sal nie die beskikbaarheid van brandstof in Namibië beïnvloed nie.

Sapref, Shell en BP se raffinadery in Durban, het Dinsdagaand ‘n force majeure verklaar en gesê kommer oor die veiligheid van sy werknemers en bates soos voertuie dwing hom om te sluit.

Dit volg nadat Natref, Sasol en Total se raffinadery, ook sy werksaamhede gestaak het.

Onluste woed sedert verlede week in KwaZulu-Natal en Gauteng en skade van miljarde rande is reeds tydens plunder- en strooptogte aangerig.

Mnr. Harald Schmidt, uitvoerende hoof van die Namibië Oliebedryfvereniging se sekretariaat, sê die maatskappye wat vir Namibië brandstof invoer, het die afgelope jare toenemend die land se afhanklikheid van Suid-Afrika verminder en op ander invoermarkte gefokus.

“Namibië het geen rede tot kommer nie. Die markte waarvandaan ons invoer, beleef nie die probleme wat Suid-Afrika het nie en ons invoere is veilig,” sê hy.

“Verder is ons bestaande voorrade in pas met die verbruik en die invoere word gedoen na gelang van die behoefte.”

Schmidt sê die oliebedryf se kontinuïteitsplan vereis ook dat daar altyd ’n sekere hoeveelheid brandstof in die land se depots moet wees.

Hy is wel bekommerd oor die tekorte aan ander lewensmiddele wat mag ontstaan.

Schmidt, wat ook die sekretaris-generaal van die Namibië Logistiekvereniging (NLA) is, sê die onluste in die buurland gaan die plaaslike logistiek- en voorsieningsketting ongetwyfeld raak.

“Minstens 85 persent van wat ons benodig, word van Suid-Afrika af ingevoer.

"Ons het al vóór hierdie protesaksie en die ontwrigting wat dit skep, tekorte aan sekere goedere beleef aangesien daar kort-kort by grensposte deurgrangsprobleme weens Covid-19 was,” sê hy.

Die grensposte by Vioolsdrift en Nakop wat op die hoofroetes na Suid-Afrika geleë is, sluit gereeld omdat beamptes positief toets vir Covid-19 en die grensposte dan eers ontsmet moet word. Dit is dikwels solank as 24 uur gesluit.

Die Skilpadshek-grenspos tussen Suid-Afrika en Botswana wat op die Trans-Kalahari-roete geleë is, was onlangs vir twee weke gesluit, sê mnr. Stephan Terblanche, uitvoerende hoof van die vervoergroep FP du Toit Transport, wat beaam het wat Schmidt sê.

Hy sê sulke sluitings is uiters ontwrigtend vir vervoermaatskappye wat die lewensaar in die voorsieningsketting is.
[email protected]


FOTO
Sapref, Shell en BP se raffinadery in Durban is weens die onluste gesluit. Dit sal nie die beskikbaarheid van brandstof in Namibië beïnvloed nie. Foto Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer