Onmin oor Omaruru se dorpsake vandag by kookpunt
Onmin oor Omaruru se dorpsake vandag by kookpunt

Onmin oor Omaruru se dorpsake vandag by kookpunt

Des Erasmus
Des Erasmus - Voortslepende openbare verset teen die stadsvaders en die munisipaliteit van Omaruru kan vandag in die Ozondje-woonbuurt op die spits gedryf word op ‘n vergadering tussen beswaardes en die ombudsman of sy verteenwoordigers.

“Ons word as gyselaars aangehou,” word beweer in ‘n rondskrywe waarin dorpenaars gevra word om vandag daar te wees.

Die vergadering is vir vandag om 14:00 geskeduleer en volgens ‘n kennisgewing kan dit tot 17:00 voortduur. Die beroep op inwoners om daar te wees, word as dringend bestempel.

“Dit is noodsaaklik dat die ombudsman begrip moet kry vir ons as belastingbetalers en inwoners se absolute ontevredenheid.”

Voorts word beweer Omaruru se mense word deur die munisipaliteit gyselaar gehou en enige moontlike belegger sal twee keer dink voordat die keuse op Omaruru val. Ook word beweer die volgehoue agteruitgang van die dorp rem die waarde van eiendom op die dorp af, asook van beleggings wat reeds hier gemaak is.

Die versoek om vanmiddag in Ozondje te wees, is nie net aan lede van die Omaruru Inwonersvereniging (ORA) gerig nie, maar aan alle inwoners.

Die vergadering volg op openbare verset teen die stadsvaders en die munisipaliteit die afgelope maande. In die proses het betogers tot by die munisipaliteit beweeg en daar ‘n petisie oorhandig. ‘n Omsendbrief is ook aan alle ORA-lede gestuur. In die brief word beweringe gemaak van ‘n ondersoek deur die Teenkorrupsiekommissie (ACC) teen ‘n senior amptenaar van die munisipaliteit wat pas diens aanvaar het. Dit handel blykbaar oor ’n tender wat voorheen op Opuwo aan ‘n persoonlike vriend toegeken is.

Die beweerde kontrak is blykbaar nooit ten volle uitgevoer nie en die kontrakteur het blykbaar met N$2,5 miljoen verdwyn.

Een van die beweringe teen ‘n senior amptenaar van die munisipaliteit is dat hy binne ‘n jaar die volgende motorvloot vir homself opgebou het - ‘n duur BMW, ‘n Land Cruiser SUV, ‘n Hummer en ‘n dubbelkajuit-Amarok.

Omaruru was eens ‘n tuindorp van Namibië sonder watersorge danksy die waterdraer van die Omarururivier. Streng waterbeperkinge wat die afgelope jaar gegeld het, is allerweë bestempel as die gevolg van ‘n verwaarloosde infrastruktuur uit die rivier se bronne. Klagtes van rioolwater in die dorp se strate word ook gereeld ontvang.

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!